Van Riebeeck se heining, Wynberg

Die Herschel-monument, Claremont
December 13, 2017
Groot Constantia, Constantiavallei
December 13, 2017

Van die militêre kamp by Wynberg loop Klaassensweg oor die kruin van Wynbergheuwel om net bokant Kirstenbosch by Rhodeslaan aan te sluit. Hier langs die pad staan ’n ry boomagtige bosse. Dit is die oorblyfsels van Jan van Riebeeck se heining van inheemse bitteramandels (Brabeium stellalifolium) wat hy in 1660 geplant het.

Vanaf die ontstaan van die nedersetting aan die voet van Tafelberg het Jan van Riebeeck groot las met die diefagtige Hottentotte gehad. Hulle het behalwe die blink knopies van die kinders se klere veral skape en beeste gesteel, selfs helder oordag. In 1655 het kommissaris Ryckloff van Goens aanbeveel dat die Kaapse Skiereiland teen die Hottentotte afgesluit moet word deur ’n kanaal vanaf Tafelbaai na Valsbaai te grawe. Met die instelling van die vryburgers het die diewery toegeneem, veral langs die boloop van die Liesbeekrivier in die omgewing van Rondebosch, en daar was sprake van ’n “schutweeringh” of afweerheining blykbaar van op mekaar gepakte takke.

Toestande het so versleg dat in 1659 oorlog teen die Hottentotte gevoer is. Na afloop daarvan het Van Riebeeck ernstige aandag aan die verdediging van die Kolonie gegee. Teen die einde van Februarie 1660 het hy die buitegrens van die “Caepsen omslagh” opgemeet. Dit was ongeveer 13 km lank en het in ’n boog om die volksplanting gestrek vanaf die pos Kijkuijt aan die mond van die Soutrivier, verby die pos Ruijterwacht op die reedsgemelde Rondebosch Meent, langs die Swartrivier op en oor die Boschheuwel (Wynberg-heuwel) tot teen die berg by Leenderts Bosch (tans Kirstenbosch).

Langs die boonste gedeelte van hierdie grens het Jan van Riebeeck ’n heining van bitteramandel geplant. Die gedagte aan so ’n heining het hy ontleen aan die gewoonte van groot grondbesitters in Duitsland en Keulen om hulle skeidings sa af te baken. Sy plan was om ’n strook van 3,6 meter (een roede) te laat omploeg “om met bitter amandelboomen ende alderhande braemende steeckdoorn haestigh groeijende, soo dicht te beplanten ende besaeijen, datter geen beesten off schapen sulIen cunnen werden doorgedreven in forma als een lantweer”. Hy het verwag dat dit nie veel werk sou kos nie.

Sy heining moes dan so dig wees dat mense en vee net by verskillende wagposte daar sou kon in- en uit-gaan. Binne die heining sou volgens Van Riebeeck se Daghregister “dan den ganschen omslagh en alle corenbouwerijen, bosschagies, etc. als in een halfmaen fraeij sal beslooten ende voor de Hottentoos inval bequaem beschermpt cunnen blijven”. Niemand sou toegelaat word om daardeur te gaan of “oock selffs niet ’t aller-minste tackjen meer daer aff te nemen off te breecken”.

Op 20 Desember 1660 meld Van Riebeeck dat sy heining voorspoedig groei, maar hy het spoedig ontdek dat hy tog vee aan die buitekant moes laat wei omdat die weiveld binnekant onvoldoende was. Die heining het dus nooit belangrike diens verrig nie omdat dit onmoontlik geblyk het om die uitbreiding van die volksplanting op so ’n kunsmatige wyse te beperk.

Die gedeelte van die heining wat binne die botaniese tuin van Kirstenbosch val, is in 1936 geproklameer. Toe ’n gedeelte van Van Riebeeck se ou plaas Boschheuvel, tans Bishopscourt-landgoed, in boupersele opgesny is, het die betrokke maatskappy twee stroke grand aan die Historiese Monumentekommissie geskenk. Dit is daarna ook geproklameer en ’n gemesselde rusbank met die Kommissie se wapen en bronsgedenkplaat is in Klaassensweg opgerig waar die heining duidelik herkenbaar is.

(Geproklameer 1936 en 1945)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 49-50.