Van lugbrug tot volksfees

Sukses deur vernuwing
January 25, 2015
Massakultuur en sport
January 25, 2015

Die hoofkenmerk van die internasionale politiek ná die Tweede Wêreldoorlog was die “koue oorlog” tussen die kommunistiese Sowjet-blok en die Weste. Suid-Afrika het die Weste gesteun. Een van die eerste dade van die bewind was om hulp aan te bied met die Berlynse lugbrug. Die Russe, wat Oos-Duitsland beset het, het ’n blokkade van Wes-Berlyn ingestel om die Westerse moondhede daar uit te druk. Die enigste roete was dié deur die lug. ’n Afdeling van die SA Lugmag het deelgeneem aan die lugbrug totdat Rusland die blokkade in Mei 1949 opgehef het.

Suid-Afrikaanse vlieëniers het ook in Korea gaan veg nadat leërs van die Kommunistiese Noord-Korea in 1950 ’n inval gedoen het in Suid-Korea. Die VSA het met die goedkeuring van die VN ingegryp, en oproepe om hulp is ook op ander lidstate van die VN gedoen. Daarop het Suid-Afrika ’n Lugmageskader met ’n personeel van 200 gestuur, deels ook om weer vir die Weste aanvaarbaar te word.

Die Verdedigingsmag was intussen ’n deel van die staatsapparaat waarvan die karakter al hoe meer beïnvloed is deur die regering se taalbeleid. Die militêre lewe het in die Tweede Wêreldoorlog ’n sterk Engelse gees gekry, maar nou is daar ook plek ingeruim vir die Afrikaner en Afrikaans. Nuwe uniforms en rangtekens is ontwerp. Tweetaligheid is streng toegepas. ’n Krygstaalraad het Afrikaanse tegnies-militêre terme geskep. Ook elders in die staatsdiens is die taalregte van Afrikaanstaliges ná jare van onverskilligheid en vyandigheid in ere herstel. Die tweetaligheidsvereiste is strenger toegepas, en dit het die tweetalige Afrikaners in baie gevalle sterker bevoordeel as die minder tweetalige Engelstaliges. So kon Afrikaans ná jare van agterstelling weer vorder.

Twee feeste van dié jare het veral die Afrikaanse nasionalisme gestimuleer. Die eerste was die inwyding van die Voortrekkermonument. Op 16 Desember 1949 was daar tussen 150 000 en 250 000 mense byeen – die grootste skare in die land tot dié stadium. In Maart en April 1952 is die Van Riebeeckfees gevier. Daarmee is die koms van Van Riebeeck in 1652 herdenk. Plaaslike feeste oor die hele land het die weg voorberei vir die sentrale viering in Kaapstad. Poskoetse, getrek deur spanne perde, is van oor die hele land na Kaapstad. Die feestelikhede het ’n paar weke geduur: onder meer ’n groot skou op ’n terrein van 25 morge, ’n optog van 24 000 seuns en dogters deur die spesiaal geboude stadion, ’n groot volkspelevertoning en ’n simboliese landing van Van Riebeeck.

Afrikanernasionalisme is deur Die Burger, Volksblad, Transvaler en Vaderland uitgedra. Die Volkstem en Suiderstem het die neerlaag van hul party, die Verenigde Party, nie lank oorleef nie. Hulle het verdwyn, soos De Zuidafrikaan, verenigd met Ons Land, op sy honderdste verjaarsdag op 9 April 1930, omdat die Afrikaners hul beleid verwerp het. Die Nasionale koerante het egter tot in die jare 50 swaargekry. Die Volksblad is lank teen ’n verlies uitgegee. In Augustus 1953 het die wins darem een pennie bedra! Nogtans was dit die eerste Afrikaanse dagblad wat ’n Engelse mededinger sirkulasiegewys kon klop in sy streek. Hy het The Friend in 1950 verbygesteek.