In die skaduwee van die reuse ou historiese eikeboom aan die bopunt van Yorkstraat is die interessante dorpsbiblioteek geleë. Daar binne-in staan ’n ou klipbaken met die wapen van die Nederlande en die monogram van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie daarop. Oor die verweerde gesig van hierdie ou baken het vir jare die winde gewaai en die fyn, aanhoudende reën geval, want dit dateer daar uit die jaar 1785.
Vir bykans ’n anderhalf eeu was die ou Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie in besit van die Kolonie van De Kaap de Goede Hoop. In hierdie tyd het dit van ’n nederige verversingspos aan die voet van Tafelberg gegroei tot ’n uitgebreide kolonie waarvan die noordelike grense tot diep in die Groot Karoo geloop het en die Visrivier in 1778 as die uiterste oostelike “limiete” vasgestel is. Die ou Kompanjie was jaloers op sy besitting, maar hy het in verval geraak, bankrot en magteloos. Met ongeduld het Engeland, die grootste koloniale moondheid van die tyd, die geleentheid afgewag, wanneer hierdie buit hom in die skoot sou val. In 1781 reeds het hy ’n groot vloot gestuur om die Kaap te verower, maar die teenwoordigheid van ’n groot Franse eskader alhier het die poging laat misluk. Geen wonder dan ook dat die Kompanjie voortaan die aanwesigheid van alle Engelse in die Kaapkolonie, ja selfs skipbreukelinge, met agterdog bejeën het nie.
Op 7 Mei het die Pigot, ’n vaartuig van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie, op sy tuiswaartse reis vanaf Madras in St. Francisbaai net suidoos van die huidige Humansdorp ’n noodlanding gedoen. Aan boord was ’n aantal Engelse militêre offisiere wat uit Indië teruggekeer het. Van die boere in die omgewing het hulle waens gehuur en oorland na die Kaap gereis. Al dadelik het die suspisie ontstaan dat hulle op hulle reis noukeurige waarnemings van die landskap gedoen het.
Die gebeurtenis het by die Kaapse goewerneur, kolonel Jacob van de Graaff, groot ontsteltenis verwek. Hy het die aangeleentheid aan die Politieke Raad voorgelê en dit is besluit om 100 soldate van die eerste Nederlandse skip wat die Kaap aandoen, te lig en klein troepeafdelings by Mosselbaai, Plettenbergbaai, St. Francisbaai en Algoabaai te plaas. Hierdie besluit kon nie uitgevoer word nie, want die ou Oos-Indië-vaarders is deur Engeland van die see gevee. In plaas van die troepemagte het die Politieke Raad toe maar ’n aantal klipbakens met die Nederlandse wapen en die monogram van die N.O.I.K. daarop gegraveer op belangrike plekke laat oprig om te dien as bewys van die Kompanjie se aanspraak op die gebied.
Een van hierdie bakens, die ou baken in die biblioteek, is toe hier in Outeniekwaland opgerig. Outeniekwaland was toe maar nog ’n onbenullige buitepos in die distrik van Swellendam. Aan die onderend van die huidige Yorkstraat is later ’n “poshuis” opgerig en die ou baken is in die muur van die hofsaal daarvan ingebou. Toe in 1811 hierdie uitgestrekte wêreld tot ’n aparte distrik verklaar word en George die hoofsetel word, is die ou poshuis nog vir geruime tyd as drosdy gebruik, maar Uiteindelik is op die standplaas van die huidige Hotel Victoria ’n behoorlike drosdy gebou. Die ou “poshuis” het in onbruik geraak en is veel later aan ’n mnr. J.P. Lemmer verkoop. Die ou baken het hy noukeurig bewaar en uiteindelik aan die Openbare Leeskamer geskenk. ’n Replika is daarvan gemaak en word in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad bewaar.
(Geproklameer 1962)
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 119-120.