Carike – van joolkoningin tot legende
August 13, 2018
Die pad na Delagoabaai (1895-1975)
August 13, 2018

Uys Krige is een van dié skrywers by wie daar so ’n noue verband bestaan tussen lewe en werk, dat ’n mens eintlik nie oor sy literêre produksie kan praat sonder om gedurig te verwys na gebeurtenisse uit sy lewe nie.

Foto: Portret van Uys Krige deur die Kaapstadse kunstenares Marjorie Wallace, waarin sy hom as nar uitbeeld. Agter Krige se opgewektheid en sprankeling gewaar die kunstenares die sombere erns van ’n peinsende dromer Die Kaapstadse beeldhoudster Nell Kaye se bekende borsbeeld van die digter beeld ewe-eens sy peinsende houding uit.

Ons sou die grootste deel van sy werk feitlik as outobiografies kan beskou – nie net sy prosa nie, maar ook sy poësie. In talle prosasketse sowel as in die meeste van sy gedigte beskryf hy plekke waar hy self gewoon of wat hy besoek het, mense wat hy ontmoet het, gebeurtenisse wat hy beleef het. Hy en sommige van sy vriende en familielede tree dikwels onder hul eie name in sy verhale en soms selfs in sy gedigte op.

Sy werk – anders as bv. die poësie van N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman – kan ’n mens dan ook nie beskou as die neerslag van ’n wysgerige besinning op ’n sigbare of geestelike werklikheid nie. Dis eerder ’n gevoelvolle weergawe van sy persoonlike indrukke van die wêreld om hom heen en van sy onmiddellike reaksies daarop.

Onder die ouer garde letterkundiges is Krige seker die skrywer wat die meeste vreemde tale en literature ken en die lankste in die buiteland vertoef het. Hy spreek en lees Engels, Frans, Italiaans, Spaans en Portugees; het talle jare in Europa rondgeswerf en ook Amerika besoek. Sy ervarings in verre lande het hul neerslag in sy prosasketse, gedigte en van sy dramatiese werk gevind. Sy kennis van vreemde tale het tot ’n groot aantal vertalings gelei, veral uit die Franse en Spaanse literatuur, waarvoor hy reeds twee maal die Hertzogprys ontvang het: in 1951 vir poësie en in 1956 vir drama.

Een van die kenmerkendste trekke van Krige is seker sy intense beweeglikheid, wat tegelyk ’n rusteloosheid is en waarskynlik die gevolg van sy in wese romantiese geaardheid. Hy bly nooit lank op een plek nie, verdiep hom nooit lank in een onderwerp nie. Telkens weer lyk hy bewus te raak van die moontlikheid tot ontdekking van nuwe wêrelde, onbekende skoonhede, ’n vreemde lewensfeer. En dan los hy alles wat hom tot op daardie oomblik besig gehou het om aan die lokstem van die onbekende gehoor te gee.

Vir die romantikus is die geluk altyd elders. In Suid-Afrika verlang Krige na Europa; en hy het nog steeds gretig elke geleentheid aangegryp om die land van sy geboorte vir korter of langer tye te ontvlug. Maar wanneer hy in Europa rondswerf, is dit telkens die herinnering aan die berge en die vlaktes van Suid-Afrika wat sy hart met weemoed en verlange vul. Reeds vroeg in sy digterskap het hy hierdie romantiese hunkering verwoord in die bekende gedig “Tram-ode”, wat in Suid-Frankryk geskryf is en waarin die sien van ’n skip wat die oop see kies, die spreker skielik met verlange vervul na al die plekke in die wye wêreld wat hy nog graag wil besoek of hunker om terug te sien:

 

Daar is ’n haltjie, Dwaal,

te midde van die vaal

godverlore dor Karoo.

En Arequipa in Peru.

Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.

Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.

Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosa-naam, Waku …  

 

O Aldarín! o name, o versugting!

Op Pelgrimsrus in die Transvaal

wil ek weer hoor hoe klink my taal

skoner, welluidender as Provençal …

 

Kritici het al die vermoede uitgespreek dat Opperman in die figuur van Arioon uit Periandros van Korinthe die portret van Uys Krige sou geteken het. Inderdaad is daar heelwat uitsprake van Arioon wat ’n mens in die mond van Krige sou kon lê deur net die plekname te verander:

 

Ek leer Korinthe ken en kry hom lief wanneer ek swerf en swerwend buitelandse roem en pryse kan verwerf …

 

Dis veral hierdie swerwersdrif en al die ervarings wat dit vir hom opgelewer het, wat maak dat Krige se lewensgeskiedenis plek-plek so boeiend soos ’n roman klink.

 

LEWENSLOOP

Uys Krige is op 4 Februarie 1910 op die plaas Bontebokskloof in die nabyheid van Swellendam gebore, wat toe die eiendom van sy grootvader van moederskant was. Sy jeugherinnerings aan sy geboorteplek en aan die merkwaardige bewoner daarvan het hy later verwerk in een van sy beste Afrikaanse kortverhale, “Die doodkis”, opgeneem in die bundel Die palmboom (1940).

Krige se ouers stam uit ou Afrikaanse families waarvan verskillende lede ’n belangrike rol in die geskiedenis van die land gespeel het. So behoort o.a. Piet Uys en Magdalena Retief tot Krige se voorgeslagte.

Foto: Uys Krige (links met bal) speel rugby in Barcelona, 1933.

Sy vader, Japie Krige, was magistraat en in sy jeug as Springbok-rugbyspeler ’n bekende figuur in Suid-Afrika. Dat Uys trots was op sy vader se sportverlede, blyk uit talle verwysings in sy werk. En self het hy later in die voetspore van sy vader probeer trap deur tydens sy eerste verblyf in die suide van Frankryk louere as rugbyspeler te verwerf, ’n prestasie wat hom tewens gehelp het om aan die lewe te bly toe hy platsak in Europa gesit het. ’n Gevoelvolle waardering vir sy vader se persoon spreek uit die portret van die toe byna tagtigjarige Japie Krige wat Uys teken in die gedig “Vooraand” uit sy gelyknamige bundel:

 

Die sonlig skuif oor hom, glans silwer op sy kop.

’n Honderd beelde van dié man staan in my op:

die Rugbyheld, die groot atleet

van wie se roem my maatjies en die hele wêreld weet;

die sagtheid altyd van dié stil mensliewende man en toe die jare van my manlikheid my nader,

die groeiende besef in my van sy eensaamheid as mens en vader.

 

Uys Krige se moeder, Suzanna Uys, is ’n begaafde vrou wat in Stellenbosch in die musiek gestudeer en later twee bundels kortverhale gepubliseer het: Vroue en Papawers en pikkewyne.

Onder die ses kinders van die egpaar Krige was daar verskeie wat tekens van ’n besondere begaafdheid getoon het. Die oudste seun, Jacobus, gebore in 1908, het met ’n Rhodes-beurs in Oxford gestudeer. Van sy hand het daar Afrikaanse vertalings verskyn van twee romans van die bekende Franse skrywer Antoine de St. Exupéry.

Foto: Uys Krige (bo) op driejarige leeftyd saam met sy broer Arnold afgeneem in 1913.

François, die vierde seun, gebore in 1914, is ’n bekende kunsskilder. Hy het dikwels saam met sy broer Uys in die buiteland vertoef, en twee van Uys se prosabundels, Ver in die wêreld en Sol y sombra, asook sy dramatiese werk Die goue kring is met tekenings van François Krige versier. Uit hierdie illustrasies blyk ’n vermoë om – dikwels met slegs enkele lyne – die atmosfeer van ’n landskap of leefwyse op te roep wat ’n mens onmiddellik die verwantskap met Uys Krige se eie stemmingskuns laat aanvoel.

Die oudste van die twee dogters uit die Krige-gesin, Maria Magdalena (Mizzi) was ’n voordragkunstenares. In ’n volksliedagtige gedig in sy laaste bundel Vooraand bring Krige hulde aan hierdie jonggestorwe suster.

Die grootste deel van sy jeug het Krige in Stellenbosch deurgebring. Tien jaar lank het hy daar gewoon, “langer as (op) enige ander plek op aarde”, soos hy later eenmaal sou skryf. In ’n paar sketse, opgeneem in Sout van die aarde, het Krige sy jeugherinnerings aan daardie dorp vasgelê: die swemmery in die Eersterivier, die akkergevegte wat soms tot in die Sondagskool voortgesit is, die krieketbaan wat hy en sy maats self op die skool se speelterrein aangelê het. Maar veel suggestiewer nog word die sfeer van die destydse Stellenbosch en van sy jeugjare daar opgeroep in wat ’n mens kan beskou as sy beste kortverhaal: dié in Engels geskrewe “The dream”, opgeneem in die bundel The dream and the desert. Hoewel hierdie verhaal in die derde persoon geskryf is en die hoofpersoon, die seuntjie, die naam Jannie Kotze dra, bevat dit duidelik heelwat outobiografiese elemente. Trouens, historiese en algemeen bekende Stellenbosse figure, soos Nurse Leppan, die Hollander Mijnheer van Kerkhof en die teoloog prof. De Vos, tree onder hul eie name in die verhaal op.

In Stellenbosch het Uys Krige ook sy studentejare deurgebring. Maar dat die wetstudie wat hy gekies het, nie heeltemal sy beweeglike en romantiese aard bevredig het nie, blyk wel uit die speelse “Lesingliedjie” in sy eerste bundel uit daardie jare, Kentering:

 

Wie kan tog luister

na Romeinse Reg

as sy hart jubel:

“Kyk, dis lente nou!”

 

Van groter betekenis vir sy latere ontwikkeling was die feit dat dr. J.L.M. Francken hom in daardie jare vir die eerste maal in kontak met die Franse poësie gebring het. “Sy besielende lesings oor die Franse letterkunde het ’n hele wêreld vir my oopgemaak,” het Krige later verklaar. Reeds in sy studentejare het hy op aansporing van sy dosent met die vertaling van Franse gedigte in Afrikaans begin.

Nadat Krige in 1929 die B.A.-eksamen afgelê het, het hy die studie laat vaar en verslaggewer van die Rand Daily Mail in Johannesburg geword. Maar al gou het die verlange na die verte te sterk geword, en in 1931 het hy vir die eerste maal na Europa vertrek.

In die hartjie van die somer het hy in Londen aangekom, maar die gedurige reën en mis daar het hom al gou op vlug laat slaan na die suide van Frankryk, nadat ’n Engelse sportjoernalis hom vertel het dat hy daar volop son sou kry en dalk ook nog ’n bietjie geld sou kon verdien, want die Franse daar was “proppers gek … na rugby”.

“Dit was ewewel die spel rugby as die skilderye van Cézanne en van Gogh of die verhale van Alphonse Daudet en Guy de Maupassant, wat my in 1931 uit Engeland na Suid-Frankryk gelok het.”

Met hierdie woorde begin die skets “Rugby in Frankryk” (Sout van die aarde), waarin Krige op amusante wyse vertel van sy herinnerings aan sy eerste maande op die Europese vasteland. Hy wat dit in Stellenbosch nooit verder as die derde span kon bring nie, word in Toulon dadelik by die eerste rugbyspan ingeskakel, en ná sy eerste wedstryd is hy daar ’n beroemdheid: bewonderende seuntjies val hom toe om sy handtekening, en die koerante gee liriese beskrywings van sy voorkoms en optrede:

“Een rubriekskrywer het gepraat van my, ‘kindergesig, gekroon met ’n blonde maanhaar met baie krulle, visage enfantin, surmonté d’une crinière blonde, fortement boucléé …’ ’n Ander het my die ‘blonde gerubyn’ Ie chérubin blond’, genoem. ’n Derde was minder eerbiedig. Hy het lelik gespot met my bokbaardjie. Hy’t gesê as ek laat spat met die bal in my hande en bokbaardjie in die wind (bouc au vent), dan skree die skare (Ies populaires) net: Allez! Pinceau! Allez! Loop! Kwas! Loop!”

Die volgende jaar het Krige kennis gemaak met Roy Campbell wat toe met sy gesin op ’n plasie naby die vissersdorpie Martignes gewoon het. Sy eerste ontmoeting met die toe reeds beroemde digter het Krige met veel humor en warmte beskryf in ’n skets wat ook in Sout van die Aarde opgeneem is. Sy besoek aan Campbell en hul gesamentlike tog – Krige agterop Campbell se fiets – na ’n klein kroegie in Martignes, het tot ’n lewenslange vriendskap gelei. Krige het selfs nege maande by die Campbells op hul plasie gebly. En einde 1933 het hy saam met die Campbell-gesin vir die eerste maal na Spanje vertrek.

Die kennismaking met die Iberiese skiereiland was soos liefde op die eerste gesig. Krige het in Spanje gewoon totdat hy in 1935 na Suid-Afrika teruggekeer het.

Geldgebrek het hom genoodsaak om by sy aankoms in Barcelona in die agterbuurte van die stad onderdak te soek, waar hy in noue kontak gekom het met swerwers, bedelaars, misdadigers “uit elke volk of ras” en met “politieke bannelinge uit byna elke land van Europa en Suid-Amerika”. Om geld te verdien het Krige gereeld sketse oor sy ervarings vir die pers in Suid-Afrika geskryf. Dié wat vertel van sy verblyf in die drie hawestede Barcelona, Valencia en Almeria, is later versamel en uitgegee onder die titel Sol y sombra (1948).

Dit was ’n dramatiese periode van die Spaanse geskiedenis wat Krige tydens sy verblyf daar belewe het. Die politieke woelinge wat in 1936 tot die Spaanse burgeroorlog sou lei, was reeds duidelik merkbaar. “Gedurende die drie weke sinds my aankoms in Barcelona het daar ongeveer 40 bomme hier ontplof”, vertel Krige in een van sy sketse.

Krige het nie net die Spaanse mense leer ken en die atmosfeer van hul stede en dorpe op hom laat inwerk nie, hy het hom ook verdiep in die Spaanse letterkunde, veral in die werk van Federico Garcia Lorca, die groot digter en dramaturg wat tydens die burgeroorlog op wrede en sinlose wyse vermoor is en van wie Krige later talle gedigte en ook die drama Yerma in Afrikaans vertaal het.

In 1935 het Uys Krige na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het ’n rukkie as literêre redakteur van die Vaderland in Johannesburg gewerk en is met die bekende aktrise Lydia Lindeque getroud, wat sy belangstelling in die toneel aangemoedig het. In die daaropvolgende jare het hy nie net sy eerste digbundels gepubliseer nie, maar ook ’n versameling verhale, Die palmboom, en ’n toneelstuk, Magdalena Retief.

Hoe fel Krige vanuit Suid-Afrika saamgeleef het met die wrede gebeurtenisse tydens die burgeroorlog in Spanje, blyk uit die pragtige gedig “Lied van die fascistiese bomwerpers”, ’n bitter-ironiese aanklag teen dié magte wat onder die dekmantel van Christelike leuses genadeloos geprobeer het om die weerlose bevolking van Spanje te vernietig.

Foto: Die skrywer as jong joernalis, Johannesburg 1939.

In 1939, na die uitbreek van die tweede wêreldoorlog, het Krige hom as oorlogskorrespondent by die Suid-Afrikaanse leër aangesluit. Die neerslag van sy ervarings in die droë woestynwêreld van Somaliland, Abessinië en Egipte – en soms in die frontlinie tydens gevegte teen die Duitse en Italiaanse magte – vind ons in talle gedigte (Die einde van die pad, 1943, en Hart sonder hawe, 1949), asook in verskeie kortverhale en sketse.

Sy herinnerings aan die bekende slag by Sidi Rezegh toe hy deur die Duitsers gevange geneem is, het Krige vasgelê in die skets “Totensonntag” (opgeneem in Sout van die aarde, ’n bundel wat met die eerste prys bekroon is in Die Landstem se letterkundige wedstryd van 1961).

Twee jaar lank het Krige as ’n krygsgevangene in Italië geleef. Eers is hy in ’n gevangenekamp naby Brindisi aangehou, maar in 1942 is hy verplaas na die groter kamp vir Engelse krygsgevangenes Fonte d’Amore in ’n vallei van die Abruzziberge.

Foto: As krygsgevangene in die Lulmona-kamp in Italië, ongeveer 1943.

Die somber, mistroostige atmosfeer van die lewe in die kamp vind weerklank in ’n aantal Afrikaanse en Engelse prosa-gedigte wat later versamel is in die bundel Hart sonder hawe, bv. in die gedig “Midwinter”:

We have come to the dead-end of all our days, all our nights: these four blank walls a drab red-brown by day, pitch-black by night. There is no turning backward or forward from this. This is our life, our death-in-life: this gloom, this ghostly pallor above each cot at noon, this cold at day’s meridian, as cold as ice but burning even as war’s embrace, the battle’s bitter kiss …

Ondanks die ontberings en die neerdrukkende atmosfeer van die kamplewe het Krige gedurig geprobeer om sy mede-gevangenes afleiding te verskaf. Hy het vir hulle lesings gehou en selfs ’n daaglikse nuusblad uitgegee waarin hy ’n taamlik objektiewe beeld geskets het van wat in die wêreld buitekant die kamp aangegaan het deur die berigte in verskillende Italiaanse koerante met mekaar te vergelyk en tussen die reëls te lees.

In 1944 het die Italiaanse regering ’n wapenstilstand gesluit. Toe Duitse troepe opgedaag het om die kamp te beset, het die gevangenes die berge ingevlug. Met die hulp van Italiaanse boere en herders het Krige ses weke lank daarin geslaag om vir die Duitsers weg te kruip. Uiteindelik is hy oor die berge gelei na ’n gebied wat in die hande van die geallieerde magte was.

Foto: Met sy gesin verenig nadat hy as krygsgevangene in Italië ontsnap het: Uys Krige met Lydia Lindeque en hul dogter Eulalia in Johannesburg, Julie 1944.

Die verhaal van sy ontsnapping het hy te boek gestel in The way out waarvan die eerste druk in 1946 verskyn het en ’n tweede, hersiene uitgawe in 1955. In sy huidige vorm behoort hierdie boek m.i. tot Krige se boeiendste werke. Die historiese verslag van ’n spannende periode uit sy lewe lees soos ’n roman: beskrywings van die grootse bergwêreld van die Abruzzi word afgewissel met binnenshuise tonele in Italiaanse boerewonings of in herdershutte, hoog bokant die valleie. Telkens is daar die akute gevaar dat die vlugtelinge deur die Duitsers betrap sal word; telkens kom hulle selfs tot binne hoorafstand van Duitse soldate, sodat die spanning selde verslap. Met warme dankbaarheid gedenk Krige die talle eenvoudige Italiaanse manne, vroue en kinders wat dikwels met werklike selfopoffering die voortvlugtige gevangenes in hul huise verberg, hulle van voedsel en klere voorsien en telkens weer met hul vriendelike en gasvrye houding bemoedig het – selfs nadat die Duitse leërleiding gedreig het om enigeen wat die vlugtelinge help, voor die voet dood te skiet. Met The way out het Krige inderdaad die doel bereik waarmee hy dit geskryf het: om ’n dankskuld aan die Italiaanse bevolking van daardie streek te vereffen.

Na sy ontvlugting het Krige vyftien maande lank deur Europa gereis. Eers in 1946 het hy na Suid-Afrika teruggekeer. Van toe af wy hy hom uitsluitend aan sy skryfwerk, eers in Johannesburg en vanaf 1950 in die Kaap. Maar telkens word sy verblyf in die vaderland deur buitelandse reise onderbreek. So het hy in 1952 opnuut ’n besoek aan Engeland, Frankryk, Nederland en België gering; en het hy drie maande lank in die huis van ’n eenvoudige Spaanse visser aan die Costa Brava gewoon terwyl hy sy dramatiese werk Die goue kring voltooi het. In 1959 is hy deur ’n Carnegie-beurs in staat gestel om die Verenigde State te besoek. Daarna het hy saam met sy dogter Eulalia deur Europa, o.a. in Griekeland, gereis.

Talle letterkundige bekroninge en eerbewyse het Uys Krige reeds te beurt geval. In 1952 het hy ’n beurs van die Franse regering ontvang as erkenning vir sy bevordering van die Franse kultuur in Suid-Afrika. En in 1958 het die Universiteit van Natal ’n eredoktoraat aan hom toegeken.

Foto: Die gesin Krige byeen in die Kaapse hawe (Maart 1954) nadat Krige van een van sy deur omswerwinge deur Europa teruggekeer het. V.l.n.r. Uys Krige, Lydia Lindeque, Taileffer en Eulalia.

POËSIE

Uys Krige se eerste digbundel, Kentering, het in 1935 verskyn. Hoewel sy debuut dus in dieselfde dekade val as dié van die Louws en Elisabeth Eybers, kan ’n mens hom nouliks as ’n tipiese “Dertiger” beskou. In die jare toe die nuwe poësie in Suid-Afrika begin ontwikkel het, was Krige in Europa. En sy werk bevat betreklik min van die gemeenskaplike kenmerke wat die vroeë poësie van die “digters van dertig” –  ondanks alle individuele verskille – vertoon.

Die meeste gedigte in Kentering sluit eerder aan by die Afrikaanse poësie van voor 1930. Hulle is stemmingsgedigte waarin daar met klanke en ritmes gespeel word en wat dikwels gekenmerk word deur ’n te oorvloedige en noukeurige woordgebruik. Maar die “kentering” in sy poësie, waarna die titel verwys en wat hom voltrek onder invloed van sy verblyf in Europa en sy kennismaking met die Franse poësie, word duidelik sigbaar in die twee Iaaste gedigte van hierdie bundel: “Tram-ode” en “Dagbreek”.

Al twee dié gedigte – soos talle ander in die bundel – loop oor van die romantiese weemoed van die rustelose hart vir wie die geluk altyd in die verte Iê en wat op elke plek waar hy vertoef die lewe tot sy teleurstelling ervaar as “morsdood” en “tries net soos ’n kerkbasaar”.

Verstegnies beteken die twee slotgedigte ’n “kentering” deur die suggestiewe spel met plekname en die ritmiese inkrimp en uitdy van die versreëls wat reeds vooruitwys na die vrye versvorm wat Krige later in sy oorlogsgedigte sou toepas.

Die swaaroedigheid en gemelikheid wat reeds in verskillende gedigte van Kentering tot uiting kom, is ook die grondstemming van ’n groot gedeelte van sy tweede bundel, Rooidag (1940). Telkens weer klink hierdie romantiese klag oor die kortstondigheid en vreugdeloosheid van die menslike lewe, die teleurstelling in die werklikheid, die doelloosheid van die “hart sonder hawe”.

 

Net soos matrose

Net soos matrose, stuurloos-dobberend op die seë, wat slingervaar langs wentelende waterweë, verskrik deur stormgeweld, gaan ons ons lewe deur.

Maar waar’s ons kaai, teen welk wit hawestad geleë?

 

Die mees geslaagde is dié gedigte waarin Krige van ’n konkrete situasie uitgaan en dié tot draer maak van ’n bepaalde lewenstemming of van sy visie op die mens en die werklikheid. So word in “Ballade van Monsieur Lapeyre” die ou lettersetter Lapeyre wat ’n eentonige sleurlewe lei, maar in sy drome die mees eksotiese liefdesavonture beleef, simbool van elke mens wat in ’n romantiese droomwêreld aan sy armsalige lewenswerklikheid probeer ontvlug. In “Romanza” weer kontrasteer Krige die valse en egoïstiese lewensvreugde van die ryk toeriste in Nice met die werklike lewenstragiek van die ou kindse vrou, Madame de Montboron, wat in haar jeug haar liefde en rykdom in roekelose vrygewigheid aan al haar minnaars uitgedeel het en tans haar eensaamheid probeer ontvlug deur ’n houthasie in haar skoot te vertroetel.

Telkens weer benadruk Krige – sowel in sy prosa as in sy poësie – die dramatiese kontraste in die lewensverskynsels. En van al hierdie teenstellings blyk dié tussen droom en werklikheid die algemeenste en pynlikste te wees.

Die meeste van hierdie gedigte is in ’n taamlik vrye versvorm geskryf met versreëls wat wyd uitdy en dan weer tot enkele woorde inkrimp – ’n afwisseling waarmee daar dikwels ’n treffende effek bereik word.

Die gedigte uit die laaste afdeling van hierdie bundel is van 1936 tot 1938 in Suid-Afrika geskryf. Hulle vertoon ’n strakker bou, korter versreëls en ’n plastieser taalgebruik. In die jare waarin hierdie gedigte ontstaan het, het Krige aan die vertaling van Spaanse poësie gewerk. En dit lyk waarskynlik dat veral die studie van Lorca se werk invloed gehad het op gedigte soos “Die rit van Jan Lafras Malherbe” met sy kort versreëls waarin die ritme van galloperende perdepote telkens deurklink, en op die eenvoudige verhalende gedig “Die blinde se geloof”, ’n bewerking van ’n ou volksballade, met sy helder werklikheidstekening:

 

Maria Staan slank op haar tone,

haar houding skoon soos ’n gebed.

Sy reik ’n sneeuwit hand omhoog.

Haar seun rus op ’n gousblombed.

Sy buig … hy kry ’n groot lemoen,

die knapie lag en skop van pret …

 

’n Oorspronklike gedig soos “Die seemeeu” met ’n funksionele aanwending van herhaling en tipografiese isolasie, waarin die rusteloos rondswewende seemeeu simbool word van die rigtinglose menslike hart. Maar die hoogtepunt, nie net van dié afdeling nie maar van die hele bundel, is die reeds genoemde “Lied van die fascistiese bomwerpers” met felle ironiese toon, sinvolle wisseling van verslengtes en plek-plek pragtige beeldspraak:

 

Want ons is die rosekrans

van die biskoppe en die hoëpriesters.

Ons glip deur hul gebenedyde vingers.

Geduldig ryg hulle ons uit,

tel hulle ons af

en langsaam

die een na die ander

deur die blou kalmte van die dag

val ons swart krale

af na die aarde

op die stede

en die dorpe

en die plase …

 

In 1961 het Krige die poësie van sy twee eerste bundels tesame uitgegee onder die titel Gedigte 1927-1940. Hierin is die verskillende gedigte chronologies gerangskik en daar is heelwat verkortings en veranderings aangebring.

Die neerslag van Krige se oorlogservarings vind ons in die bundel Oorlogsgedigte (1943), wat in 1947 met toevoeging van een gedig heruitgegee is as Die einde van die pad, en in die eerste afdeling van Hart sonder hawe (1949).

Die einde van die pad bevat nege betreklik uitvoerige gedigte wat in die vrye versvorm geskryf is. Agt daarvan gee impressies van Krige se verblyf as oorlogskorrespondent in Oos- en Noord-Afrika. Nie altyd slaag Krige daarin om aan sy vrye versvorm dié spanning te gee wat ritmiese prosa tot poësie omskep nie. Verskeie van die gedigte maak dan ook die indruk van geritmeerde prosasketse waar ’n voortdurende triestigheid oor die menslike lot in die lang, eentonig voortskuiwende sinne tot uiting kom.

’n Mens sou hierdie gedigte feitlik as joernalistiek in versvorm kon beskou: beskrywings van die eindelose pad deur die woestyn waar die enigste tekens van menslike aanwesigheid leë petrol- en konfytblikke, vuil koerantpapier en die geraamte van ’n stukkend geskiete trok is.

Anekdoties soos ’n joernalistieke skets is die gedig “Blomme van die Boland”, waarin vertel word hoe die woestyngraf van ’n soldaat, volgens die opskrif gebore in die blomryke Kaapprovinsie, deur een van die manskappe uit ’n verbytrekkende konvooi versier word met ’n prentjie uit ’n sigaretdosie waarop daar vier madeliefies afgebeeld staan. Telkens tog groei die werklikheid wat beskryf word tot simbool van ’n aspek van die menslike lewe in die algemeen. Die grys lig wat die militêre hospitaal in Addis Abeba vul, “lê oor die hele wêreld, die ganse lewe”. In “Die soldaat” groei die eensame gestalte van die enkele soldaat, wie se skaduwee hom steeds verder oor die dorre woestyn uitstrek, ten slotte uit tot simbool van die oorlog, en die ver geleë eindpunt van sy tog, Fort Wayier, “enigste oase in dié woestyn”, word ’n beeld van die onbereikbaar verre toekoms waarin daar vrede sal heers.

Die eerste afdeling van Hart sonder hawe (1949) bevat poësie wat tydens Krige se Italiaanse krygsgevangeneskap geskryf is. Die in Engels geskrewe gedigte vertoon die meeste ooreenkoms met die Afrikaanse poësie uit sy voorafgaande bundel: ook hier die lang, rymlose versreëls wat telkens dreig om tot prosa te verloop, die dikwels anekdotiese inhoud, die soms skerpe plastiek en die vermoë om deur blote werklikheidsbeskrywing ’n bepaalde stemming te suggereer:

 

The white road winds away from the prison camp

through quiet hamlets, villages, San Pietro, Tuturano …

Tuturano with its pink and white streets, red-brick church tower,

small sunwashed squares where a fountain tinkles and children skip and play

lies easily on the plain not three miles distant

from the barbed wire, the bayonets of the guards …

 

Die Afrikaanse gedigte uit dieselfde periode en ook dié wat geskryf is ná sy terugkeer in Suid-Afrika, vertoon oor die algemeen ’n meer gebonde vorm: korter versreëls, eindrym, ’n bondiger uitdrukkingswyse.

Hierdie bundel bevat ’n afdeling, getitel “Na Lorca”, waarvan Krige self in die Naskrif meedeel dat dié poësie nie as vertalings beskou kan word nie: “Hulle is langer as die oorspronklike gedigte. In party gevalle het ek begin vertaal – om te ontdek dat die gedig gou sy eie koers ingeslaan het.”

Die leser kan duidelik gewaar dat Lorca se digkuns ’n versoberende invloed gehad het op die neiging tot breedsprakigheid wat tiperend is van Krige se poësie. Hierdie versobering werk duidelik deur in die laaste afdeling wat ná sy terugkeer uit Europa in die Laeveld geskryf is. Hier kry ons telkens uitings van ’n gevoel van harmonie tussen eie stemming en die rustige skoonheid van die Suid-Afrikaanse landskap, sodat dit amper wil voorkom asof die hart ten slotte tog sy hawe gevind het:

 

In hierdie vrede en rus verloor

die wêreld langsaam sy gewig,

word alles in my helder,

straal ook in my dié lig,

kry eindelik die lewe weer

eenheid en maat en ewewig.

 

In sy volgende bundel, Ballade van die groot begeer (1960), slaan Krige ’n heeltemal nuwe rigting in deur homself die spreekbuis van die Kaapse Kleurling te maak. Die Kleurling self is deurgaans aan die woord en dis ’n groot verskeidenheid van stemme wat opklink. ’n Mens hoor sowel die stem van die ontwikkelde Kleurling, wie se Afrikaans soos die taal van die Blanke klink, as dié van die skollie en die gammat met hul tipiese Kaapse Kleurlingdialek.

So wisselend soos die taal is die aantal gestaltes wat in hierdie gedigte opgeroep word: die visser, die visventer, die blomverkoper, die soldaat, die moeder, die skollie, die klops. En hulle gee uiting aan ’n groot verskeidenheid stemmings, soms selfs in een en dieselfde gedig: vreugde oor die ryke verskeidenheid van die lewe, angs vir die gevolge van ’n verkeerde leefwyse, bitterheid oor armoede en sosiale onregverdigheid, wrange spot met dié Kleurling wat daarin geslaag het om oor die kleurlyn te glip en sy eie mense nie meer wil ken nie. Veral word daar telkens opstandigheid geuit teenoor die Blanke en die vernederende posisie waarin die Kleurling gedwing word.

Net soos in Krige se vroeëre werk kry ons ook hier weer ballades, anekdotes-op-rym, tipiese praatpoësie. Maar die vrye versvorm het verdwyn; daar is hier selfs – veral in ’n aantal kortreëlige gedigte – ’n neiging om dieselfde rymklank oor ’n hele lang strofe te handhaaf, wat dikwels van ’n ware rymvirtuositeit getuig en aan die gedigte die effens eentonige maar tegelyk melodieuse karakter gee van ’n liedjie wat op ’n kitaar getokkel word, bv. in “Moppie vir Boeta Boertjie”:

 

Jy stap verby

en jy speel Boertjie

sonder ’n knikkie

of ’n koertjie,

’n skuinse laggie

of ’n loertjie.  

Vir wat speel jy

my hierdie toertjie?

Ek weet presies

hoe skiet jou roertjie.

Ek ken jou stam,

die hele snoertjie:

’n tronkvoël is

jou oudste broertjie,

jou sus ’n Distrik

Ses se hoertjie

– en jy, kapokhaan,

jy speel Boertjie!

 

Krige maak dankbare gebruik van die Kleurling dikwels wrange geestigheid, sy oorspronklike beeldspraak (“ek voel vandag so heppie-heppie soos/ ’n slakkie in kropslaai”), sy vreugde aan die sintuiglike genot wat ’n mens uit die lewenswerklikheid kry. Met dieselfde verrukking waarmee daar in sy vroeë gedig “Tram-ode” ’n spel gespeel word met klankryke plekname en die wêreld se verskeidenheid wat hulle voor die verlangende verbeelding optower, som die visventer in “Vishoring” die name en kleure op van die visse wat hy op sy “karringtjie” te koop aanbied en suggereer hy daarmee tewens watter rykdom die werklikheid vir almal inhou wat die ontvanklikheid besit om dit te sien en daarvan te geniet:

 

Kolstert, marsbanker, daeraad,

stompneus en kabeljou …

Kyk, kyk, die kleure net!

Dis silwerwit, dis silwergrou,

goudgeel en groen, dagbreek se rooi

en daardie diepseeblou.

Het jy ooit in jou lewensdag

so ’n fancy dress aanskou?

Of is dit dalk ’n reënboog wat

hier by my piekniek hou? …

 

Een van die mees geslaagde gedigte uit die bundel is “Klopdans” met sy lang uitswaaiende versreëls wat die lang rye klopse as’t ware visueel voor die verbeelding optower soos hulle die strate van kant tot kant vul, terwyl die beweging van die duisende dansende voete en steierende liggame in die trippelende ritme deurklink:

 

Hier kom ons, kom ons, kyk, dis ons, die Kaapse Klops, dis ons, dis ons!

Ons swaai, ons draai, ons gooi ’n Kaapse draai, ’n Kaapse draai reg om die Baai!

 

In hierdie gedig word die verrukte stemme van die dansende Kleurlinge telkens onderbreek deur ’n aantal kort, kursiefgedrukte versreëls, waarin ’n norse, bitter gestemde Kleurlingtoeskouer kritiek op hul dwase vrolikheid uitspreek. Dit lyk asof die Klopse nie van sy aanwesigheid en woorde bewus word nie, totdat een vrolike danser die stem van sy maat teen die einde herken, sy feeshoed vir hom leen en hom uitnooi om aan die uitbundigheid deel te neem:

 

Kom spring hier in en kap hom

wit: dé, vat my hoed,

dan is jy ok ’n Kaapse klong. Toe vat die maat, ou-

maat, veervoet pluimvoet, trapsoet, mooi,

mooi, dis goed, dis goed

die lied, die sang, die dans sit mos in Cham se kind

se bloed!

 

Dan kan ook die toeskouer die ritme van die dans en die algemene vrolikheid nie langer weerstaan nie, al bly daar ’n ondertoon van wrangheid in sy vreugde:

 

Ek kap hom uit! Ek kap hom wit!

O die kitare en viole …

Want ek soos jy, Abdol,

is kind van die riole!

 

Die titel van Krige se laaste bundel, Vooraand (1964), suggereer ’n besef dat die middag van die lewe verby en die aand aan die kom is. Dit bevat ’n bonter versameling gedigte: humoristiese verse, soms met ’n satiriese inslag, rymende kritiek, ballades, anekdotiese gedigte, liedere. Oor die algemeen is die bundel nie sterk nie, maar veral onder die kortere, ligte gedigte is daar ’n paar wat ’n mens graag bly onthou:

 

Heildronk

 

Gesondheid

in die rondheid,

mooi meisies

in die blomtyd

– en die lewe

in al sy bontheid!

’n Hoekie by die vuur

in die kromtyd

en ’n lang, lang slaap

in die groot Stomtyd …

 

Hoewel Krige se poësie nêrens die gehalte van die beste werk van Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers of Opperman bereik nie, is dit tog ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Nie net het hy nuwe motiewe en ’n kosmopolitiese atmosfeer in ons digkuns gebring nie, maar hy het ook op verstegniese gebied eksperimente gewaag wat voor hom nog nie in die Afrikaanse poësie onderneem was nie.

 

PROSA

Ook in sy prosasketse en verhale het Krige die Afrikaanse letterkunde met ’n hele aantal nuwe temas verryk. In ’n tyd toe ons verhaalkuns nog vernaamlik gekonsentreer het op die uitbeelding van ’n tipies Suid-Afrikaanse leefwyse en omgewing, het hy sy lesers ver oor die grense van hul vaderland gevoer: na die suide van Frankryk, Spanje, die woestynwêreld van Noord- en Oos Afrika.

Sy eerste bundel verhale, Die palmboom (1940), bring nog grotendeels Suid-Afrikaanse temas, maar bevat ook reeds sy verwerking van drie Suid-Europese volksprokies. Die verhaalmotief van die Portugese sprokie “La Miseria”, wat hieronder val, het hy sestien jaar later op verbeeldingryke wyse in Die goue kring gedramatiseer.

’n Opvallende kenmerk van Krige se prosakuns is die voorliefde vir skerpe kontraste, sowel wat persoonlikheidsuitbeelding as situasietekening betref. Die hoofpersoon van die titelverhaal staan deur haar beginselvaste regskapenheid in sterke teenstelling tot haar man en seun. ’n Dramatiese kontras in die situasie-uitbeelding kry ons in die verhaal “ ’n Seun word gebore”, waar die jong verwagtende trekkersvrou se rustige en blymoedige stemming aan die begin ’n skrille kontras vorm met die verwarring en ellende aan die slot, wanneer sy as enigste oorlewende van die familie aan die Zoeloes se aanval op die laer ontsnap.

Ook die verhaal “Die doodkis” met sy liefdevol-humoristiese karaktertekening van die bejaarde eienaar van Krige se geboorteplek, die plaas Bontebokskloof, is gedeeltelik gebou op die dramatiese teenstelling tussen Oupa Lourens se uitbundige lewenslus en die pyn van die kanker waaraan hy in stilte ly.

Dieselfde voorkeur vir felle kontraste blyk uit die titel van sy eerste versameling reissketse uit Spanje, Sol y sombra (Son en skaduwee 1948). ’n Mens kan verstaan dat ’n land soos Spanje met sy felle teenstellings vir Krige geboei het. In sy voorwoord tot die bundel skryf hy:

“Van alle Europese lande is Spanje seker die sonnigste en tegelyk die somberste. Alles skyn daar skerp en strak in geel en swart of wit en swart afgeteken te staan—of dit nou die landskap self is of die land se geskiedenis, die mense lewensomstandighede, hul verhoudinge onder mekaar of wat ook al. In daardie helderwit byna verblindende sonlig is ’n mens – van die eerste dag af – bewus van die tragiese in die lewe.”

Boeiend vertel Krige van die atmosfeer en die leefwyse in die stede waar hy gewoon het, van sy kontak met die bevolking en die politieke stromings en woelinge van daardie tyd. Gedurig toon hy ’n fyne waarnemingsvermoë vir die dramatiese teenstellings en die humoristiese aspekte in die Spaanse werklikheid, bv. waar hy vertel hoe hy eenmaal in ’n kerk in ’n Katalaanse vissersdorp ’n skildery van ’n seilboot met die volgende onderskrif gesien het, opgehang onder die beeld van ’n heilige met die volgende onderskrif: “Die Dankoffer van ’n Vrome Skeepseienaar aan Heilige Sint Nicholaas in dankbaarheid dat Hy hom toegelaat het om smokkelware vyf jaar lank sonder moeilikheid te vervoer …”

Die inhoud van sy tweede bundel reissketse, Ver in die wêreld (1951), is meer gemeng. Dit bevat indrukke van sy verblyf in Suid-Europa, die beskrywing van ’n tog te perd deur die Drakensberge en ’n hele aantal joernalistieke sketse oor sy ervarings as oorlogskorrespondent in Noord-Afrika. Telkens word die karakter van ’n mens, ’n stad, ’n landskap deur die tekening van enkele tiperende trekke opgeroep. Ook hier laat Krige die nadruk by voorkeur val op die teenstellings wat hy tussen persone of lewensituasies waarneem. Enkele van die oorlogsketse is selfs gebou op die teenoor mekaar plasing van kontrasterende karakters (“ ’n Generaal en ’n manskap”) of situasies (“Voorraad”).

In 1953 het Krige se eerste versameling Engelstalige kortverhale verskyn, The dream and the desert. Hierdie bundel bevat drie vertalings van reeds gepubliseerde Afrikaanse verhale. Die hoogtepunt van die versameling is die reeds genoemde kortverhaal “The dream”, ’n fyn psigologiese uitbeelding van ’n jong seun se diepgaande emosies by die geboorte en dood van ’n nuwe boetie. Oorlogservarings is verwerk in die meer joernalistieke bydraes “Death of a Zulu”, “Two Daumiers” en “The charcoal burners”. ’n Nagmerrie-agtige gruwelikheid spook in die beskrywing van die verkoolde liggame in ’n uitgebrande Italiaanse tenk in “Two Daumiers”,

“The shell had taken off the turret as neatly as with a knife; and they had a detailed view of the tank’s interior. With his hands firmly grasping the steeringwheel, the driver sat erect in his seat, straining backwards as if, in that final moment, he had wanted to jerk his stationary tank into sudden action. A taut figure, pitch-black since it had been completely carbonised, but perfectly preserved except that it had been contracted to about two-thirds of an ordinary man’s size; and naked with the black penis as rigid as the rest of the body.”

Die saaklike werklikheidsbeskrywing roep die mensonterende verskrikking van die moderne oorlog hier sterker op as wat ’n emosionele betoog sou kon gedoen het.

Krige se volgende versameling Afrikaanse sketse, Sout van die aarde (1961), vertel deels van vroeëre ervarings, deels van meer resente indrukke en belewenisse, soos die twee bekoorlike sketse oor sy maandelange verblyf in die woning van ’n eenvoudige Katalaanse vissersvrou. Met veel humor vertel Krige hoe hy in dié tweeverdiepinghuis (“Ligbruin van buite en spierwit van binne. En so silwerskoon as die skubbe van die vise wat haar man, Juan, uit die see haal…”) aan sy toneelstuk Die goue kring, geskryf het en hoe hy soms gesteur is deur die geblêr van Senora Adela se bokooi in die kombuis of die felle gekraai van haar kuifkophaan in die eetkamer. Dikwels het hy ywerig sit en aantekeninge maak terwyl Adela en haar man baklei en mekaar met pittige sêgoed takel. Uys erken dan ook dat daar in Die goue kring “ ’n duidelike weerklank (is) van al hierdie gekyf; die ou afbeen-seerot, Pablo, wat so kwaai kan spog, en sy vrou Violetta, wat altyd met mekaar twis en stribbel alhoewel hulle in hul hart der harte mekaar werklik liefhet, het natuurlik meer as ’n tikkie weg van Juan en Adela.”

Krige se jongste bundel, Orphan of the desert (1967), is taamlik heterogeen van inhoud. Dit bevat sewe sketse wat reeds vroeër in Afrikaans verskyn het, twee anekdotiese bydraes oor Roy Campbell, die verhaal van ’n patetiese ontmoeting met ’n doofstomme dogtertjie in die Somalilandse woestyn en ’n geesdriftige artikel oor die skoonheid van Afrikaanse plek-, dier- en blomname.

Krige se prosawerk is dus grotendeels taamlik joernalistiek van aard, maar dis joernalistiek van ’n hoë gehalte en boeiende leesstof vir enigeen wat daarvan hou om in die verbeelding wêrelde te verken wat vir die meeste van ons in die werklikheid onbereikbaar bly.

 

DRAMATIESE WERK

Dis nie verwonderlik nie dat ’n skrywer met so ’n sterk sin vir dramatiese kontraste hom reeds op ’n vroeë stadium van sy ontwikkeling tot die toneel sou wend. Krige se eerste toneelstuk, Magdalena Retief, het dan ook reeds in 1938 verskyn, drie jaar ná sy eerste digbundel. Dit is geskryf ter ere van die honderdjarige herdenking van die Groot Trek, en het die eerste prys gewen in ’n dramakompetisie wat by dié geleentheid uitgeskryf is.

Magdalena Retief bestaan uit ’n reeks historiese tonele met die figuur van Magdalena as die bindende element. Die stuk begin met die sestienjarige meisie se verlowing met die grensboer Japie Greyling en dit loop oor haar tweede huwelik met Piet Retief, die besluit om te trek en die aanval van die Zoeloes op die Retieflaer heen na die Iaaste episode waar Magdalena as middeljarige vrou onder armoedige omstandighede in Pietermaritzburg woon en aan haar seun Pieter Greyling die historiese brief aan haar familie in die Kaap dikteer, waarin vir hulle vertel van die dood van haar twee mans en tien van haar kinders.

Die stuk beeld nie een sentrale botsing uit nie, maar elke toneel bevat feitlik sy eie botsing, waarby die hooffiguur telkens optree as die karakter wat die situasie beheers en die rigting help aanwys wat vir die toekoms gevolg moet word. Deur haar moed en haar rustige vertroue in God en in haar eie oordeel groei die hoofkarakter uit tot ’n ideale gestalte, ’n sintese van alles wat daar edel en groot was in die Voortrekkervrou van Suid-Af1ika.

Onder die nege eenbedrywe, uitgegee in die drie bundels Die wit muur (1940), Alle paaie gaan na Rome (1949) en Die sluipskutter (1951) is daar twee – albei in eersgenoemde bundel – wat eweneens hul tema aan episodes uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis ontleen. “Die wit muur” speel in die Tweede Vryheidsoorlog af en dramatiseer die bekende geskiedenis van Japie Greyling. “Die arrestasie” is gesitueer tydens die konflik tussen die Vryburgers en Willem Adriaan van der Stel.

In altwee eenbedrywe maak Krige dankbare gebruik van die moontlikheid tot kontraswerking wat in die stof self opgesluit lê: die teenstelling tussen brute geweld en sedelike moed in “Die wit muur”; die kontras tussen slaafse trou aan die tiran en trotse vryheidsin in “Die arrestasie”.

Die bundel Alle paaie gaan na Rome bevat drie eenbedrywe waarvan die stof aan ’n resenter verlede ontleen is. Sowel die titelstuk, wat onmiddellik ná die einde van die tweede wêreldoorlog in Italië speel as “Fuente Sagrada”, wat ’n episode uit die Spaanse burgeroorlog uitbeeld, sou ’n mens as gedramatiseerde oorlogsjoernalistiek kon karakteriseer. In albei gevalle kry ons eerder ’n stemmingsbeeld as ’n volgehoue dramatiese botsing. In “Fuente Sagrada” is daar wel ’n dramatiese konflik in die soldaat uit die Internasionale Brigade se pogings om die ongeletterde boer te oorreed om die handkar, waarop hy sy skamele besittings wil red, af te staan sodat belangrike oorlogsdokumente daarop na een van die hoofkwartiere vervoer kan word. Maar die handeling, en daarmee die spanning, word gedurig onderbreek deur die verskyning van mense uit ’n gebombardeerde dorpie in die nabyheid wat elk op eie wyse daartoe bydra om ’n beeld te skep van die wreedheid en sinneloosheid van oorlogsgeweld en die menslike lyding wat dit veroorsaak.

“Alle paaie gaan na Rome” bestaan grotendeels uit ’n monoloog van ’n ou Italiaanse vrou wat haar kleindogter vir noodsaaklike mediese behandeling na Rome wil neem en wat nie plek vir haarself en die kind in een van die verbykomende vragmotors van die geallieerde magte kan kry nie. In die gesprekke van die vrou met die – dikwels onsigbaar blywende – soldate, tree daar wel ’n hele aantal klein botsings in. Ook hierdie eenbedryf gee veral ’n indrukwekkende stemmingsbeeld van die smart en lyding wat oorlog vir die gewone mens beteken.

Krige se sterkste eenbedryf is ongetwyfeld “Die sluipskutter” wat teen die einde van die tweede wêreldoorlog in Italië afspeel. Hier word van die begin af skerp getipeerde karakters in ’n boeiende konflik teenoor mekaar geplaas en loop die spanningskurwe ononderbroke deur na die onvermydelike einde, wanneer die Duitse krygsgevangene deur ’n Suid-Afrikaanse kaptein doodgeskiet word. Die botsing tussen menslike regverdigheidsin en mededoë aan die een kant en ’n ewe menslike verlange na wraak aan die ander, word des te skerper gestel deurdat kaptein Meyer wat die Duitser se lewe probeer red, ’n genaturaliseerde Duitse Jood is. Die stuk eindig op meesterlike wyse op ’n hoë spanningsmoment met die terugkeer van die Italiaanse vrou wat skoon verbande vir die Duitser se stukkende voete gaan haal het, en haar vraag aan die Suid-Afrikaanse kaptein: “Waar is daardie seun?”

Van Krige se langer dramatiese werke is Die twee lampe (1957) ’n tragedie, Die ryk weduwee (1959) ’n blyspel en Die goue kring (1956) ’n bekoorlike mengeling van tragedie en blyspel.

Die twee lampe is gebou op die tragiese botsing tussen ’n heerssugtige, ou Testamenties-gelowige vader en sy twee seuns wat nie kans sien om die leefwyse te aanvaar waartoe hy hulle probeer dwing nie. Die konflik loop ten slotte uit op die selfmoord van eers die een en dan die ander seun. Die laaste scène wys hoe die vader, alleen agtergeblewe, ook sy Iaaste seun se naam in die groot familiebybel doodkrap, omdat hy selfmoord as ’n doodsonde beskou. Hoewel dit ’n boeiende verhoogstuk is, kan ’n mens as besware aanvoer dat die belangrikste karaktertrekke van die hoofpersone effens te sterk beklemtoon word en dat die selfmoord van die twee seuns nie heeltemal voldoende gemotiveer is nie.

Ook in Die ryk weduwee val die effens oordrewe voorstelling van sowel mense as situasies op, waardeur die stuk eerder die karakter van ’n klug as van ’n blyspel kry. Die komiese situasie van ’n aantreklike jong weduwee wie se hart en huis deur vier huwelikskandidate van totaal verskillende geaardheid beleër word, is met duidelike plesier deur Krige uitgebuit in die skep van talle vermaaklike tonele en heelwat amusante dialoog. ’n Mens kan verstaan dat die opvoerings van hierdie toneelstuk vol sale getrek het.

Met Die goue kring, “’n legende in vier bedrywe”, het Krige ’n nuwe genre in die Afrikaanse toneelliteratuur ingevoer. Die Portugese volksprokie wat hy hierin dramatiseer, is die verhaal van ’n ou vrou, Martha, wat deur ’n lis daarin slaag om die Dood gevange te neem wanneer hy na haar huisie kom om haar te haal. Aanvanklik heers daar groot vreugde onder Martha en haar vriende en word die bevryding van alle doodsgevaar feestelik gevier. Wanneer Martha egter na enkele dae agterkom dat ongeneeslike siekes tans nie kan sterf nie, bevry sy die Dood en gaan gewillig met hom saam. In hierdie besluit word sy gehelp deur ’n strofe uit “Die lied van die lemoen” van die blinde liedjiesanger Luis wat so dikwels in haar lemoenboordjie kom rus en sing het:

 

Ek wil ’n goue glans wees tussen groen,

gepluk word dan, só met my lot versoen,

lemoen wees slegs, lemoen, lemoen, lemoen!

 

Die intrige volg nie ’n strakke lyn nie. Daar tree ’n groot aantal persone in hierdie dramatiese werk op en die hoofmotief word deur talle bymotiewe deurkruis: ’n botsing tussen man en vrou, tussen ’n vader en ’n seun, die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding van frustrasie tot vervulling, die konflik tussen Martha en die lemoenstelende seun. Die goue kring vertoon iets van die bontheid van die lewe self in sy afwisseling van komiese, tragiese en romantiese tonele. Dit is beurtelings klugtig, poëties en moraliserend van aard en die dialoog word gedurig deur sang en dans afgewissel, wat aan die geheel soms die karakter van ’n operette gee.

Foto: Uys Krige en kommandant John Clements wat saam met hom uit ’n Italiaanse krygsgevangenekamp te Lulmona ontsnap het. In die kamp het hulle ’n kamer gedeel en goed bevriend geraak. Hier ontmoet hulle mekaar vir die eerste maal na 20 jaar in die Hofmeyrteater, Kaapstad, tydens die première van Krige se oorlogsblyspel, Die Loodswaaiers, Augustus 1966.

VERTALINGS

As vertaler het Krige ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer, veral omdat hy soveel pragtige gedigte uit die Franse en Spaanse letterkunde in Afrikaans vertaal en toeganklik gemaak het vir ’n publiek wat hierdie tale nie magtig is nie.

Sy vroeë vertalings van Franse en Spaanse poësie is versamel in Vir die luit en die kitaar (1950). Hierdie bundel bevat o.a. Lorca se indrukwekkende reeks gedigte “Klaaglied vir Ignacio Sanchez Mejias” met o.a. die obsederende herhaling van die uur waarop hierdie beroemde bulvegter gesterf het:

 

Vyfuur in die middag.

Dit was vyfuur klokslag in die middag.

’n Kind dra ’n wit laken

vyfuur in die middag.

’n Mandjie vol kalk wat reeds bestel is

vyfuur in die middag.

Die res was die dood en die dood alleen

vyfuur in die middag.

 

Reeds uit hierdie enkele reëls is dit nie moeilik om te sien hoe Krige se eie poësie reeds vroeg die bevrugtende invloed van Lorca ondergaan het nie. Talle vertalings van Franse en Spaans-Amerikaanse gedigte is slegs in tydskrifte gepubliseer en nog nie in boekvorm versamel nie.

In 1962 egter het die mooi uitgegewe publikasie Eluard en die Surrealisme verskyn. Hierin gee Krige ’n heldere inleiding tot die werk van Franse surrealistiese digters en van die poësie van Eluard in die besonder. Die grootste deel van die boek bestaan uit Krige se vertalings van gedigte van Eluard met die Franse teks daarlangs afgedruk.

Foto: Uys Krige en prof. Rob. Antonissen op Grahamstad, 1965.

’n Mens kan nie beter doen nie as om die oordeel van prof. Rob. Antonissen, een van ons beste kritici en self ’n kenner van die Franse letterkunde, oor hierdie publikasie aan te haal: “ Hier word die Afrikaanse leser ’n gulde geleentheid gebied om een van die grootste digters uit die eerste helfte van ons eeu te leer ken, ’n ‘modernis’, ’n ‘surrealis’, in wie die surrealisme nie ontspoor het nie (soos by die meeste ander) maar wat die surrealisme en die vry-vers bo hulself uitgevoer het na ’n nuwe, ‘klassieke’ skoonheid. En verder – voorwaarde vir dié ‘geleentheid’ – : Krige het dié skoonheid in skoonheid herskep.”

Krige se vertaling van Twelfth Night wat reeds deur die S.A.U.K. as meesterdrama en TRUK opgevoer is, is sowel deur Engels- en Afrikaanssprekende kritici geloof om die vindingryke wyse waarop die wisselende stemmings van hierdie beroemde komedie “are reflected in a precise, full, natural Afrikaans which ranges easily from the most stately and formal language to the most colloquial and Easy”.

 

SLOTWOORD

Waar ’n mens die werk van ons twee grootste digters, Van Wyk Louw en Opperman, as ’n vertikale verkenning sou kon karakteriseer omdat in hul poësie steeds dieper lae van die menslike persoonlikheid blootgelê word, sou ons van Krige se letterkundige produksie as ’n horisontale verkenning kon praat. Sowel in sy skeppende werk as in sy vertalings word daar telkens vensters oopgestoot wat die leser ’n blik gee op vir hom meestal nog onbekende aspekte van die sigbare werklikheid: vreemde lande en volke, onvermoede letterkundige skoonhede. Hierin alléén het Uys Krige ’n waardevolle bydrae tot die kulturele lewe van sy vaderland gelewer.

 

Bron: Nienaber-Luitingh, M. 1969. Lantern, Maart: 24-39.