Uniegebou se koppie vir ’n Basoetoponie verruil

Die Ou Poskantoor, Swellendam
Januarie 31, 2018
Wonderboom sedert Steentydperk al ’n uitspanplek
Februarie 2, 2018

’n Skets van die Uniegebou gedateer 25 September 1909. Dit wys Herbert Baker se beplanning vir die ‘tempel van vrede’ wat toe nooit gebou is nie

Pretoria se bekendste landmerk is gebou op ’n koppie met ’n ryk geskiedenis. Een van die destydse eienaars het die plaas met dié koppie van president Pretorius gekry in ruil vir ’n Basoetoponie. Dit is ook die koppie waar ’n konsentrasiekamp, Britse blokhuise en ’n Britse Hospitaal in die Anglo-Boereoorlog was.

Ons praat van Meintjeskop, tuiste van die Uniegebou. Meintjeskop is vernoem na Stephanus Jacobus Meintjes wat die eerste Arcadia voorstad uitgelê het. Daar is oorspronklik na “Meintjes se kop” verwys, maar reeds in 1870 het dit as Meintjeskop bekend gestaan.

 

Links is die meule en regs Stephanus Meintjes se huis op die walle van die Apiesrivier by Leeudrif, wat later Leeubrug geword het, in Kerkstraat
Foto: Emagameni

 

Eienaars
Die grond waarop die koppie staan, het ’n hele paar keer van eienaar verwissel in die voorjare van Pretoria se geskiedenis. Blykbaar was dit ’n gedeelte van die ou plaas Elandsfontein, wat oorspronklik aan Marthinus Wessel Pretorius behoort het. Daarna het die plaas aan Gerrit Bronkhorst behoort, uit wie se boedel Andries Francois Du Toit ’n gedeelte van die grond glo danksy ’n ruiltransaksie gekry het.

Andries was ’n vriend van president Pretorius. Die president het hom in 1857 na Pretoria genooi om die pos van landdros te vul. Hy het ook die taak ontvang om die dorp uit te lê. Legendes lui dat Andries sy plaas by die president gekry het in ruil vir ’n Basoetoponie. Hy het die plaas Arcadia, ’n naam wat hy uit sy vroeëre teologiese studies onthou het, vernoem na die prentjiemooi distrik in Griekeland waar mense glo in landelike geluk gewoon het. 

Op daardie stadium was Pretoria se grense by Boomstraat, Potgieterstraat, Scheiding en Du Toitstrate. Du Toitstraat is na Andries vernoem en was die grens tussen Pretoria en sy plaas Arcadia.

Stephanus Jacobus Meintjes, wat van Graaff-Reinet na Pretoria gekom het, het dié grond op 7 April 1865 by Andries gekoop.

Lisdogan Park Hospitaal aan die suidelike hang van Meintjeskop

 

Leeubrug
Toe Stephanus in Pretoria aankom het hy in Andries se vroeëre woonhuis in Kerkstraat gaan bly saam met sy vrou, Elizabeth Catharina Johanna Magdalena Schmidtz.

Oorkant die woonhuis het hy ‘n meule op die banke van die Apiesrivier gebou, vandag naby die hoek van Edwardstraat, wat na sy seun vernoem is. Die eerste meule was op die wes-oewer en later is ‘n tweede meule, wat De Loor se bakkery geword het, op die oos-oewer van die Apiesrivier gebou.

Die eerste meule was by Leeudrif wat later, toe die brug in 1898 klaar gebou is, Leeubrug geword het. Die drif is so genoem omdat leeus die vee wat in die omliggende vlei gewei het, van dié drif af aangeval het. Jagtogte is gereeld gereël om die leeus te probeer uitroei.

Vanuit dié huis naby Leeubrug, het Stephanus ’n prominente rol in baie sfere van Pretoria se geskiedenis gespeel. Hy was op die botaniese tuine se komitee, ’n wykmeester met die beleg van Pretoria in die Eerste Vryheidsoorlog, en was ’n prokureur en advokaat van die Transvaalse Hooggeregshof.

Stephanus het die eerste Arcadia voorstad, wat 650 erwe gehad het, in die 1890’s uitgelê. Daar word vandag daarna verwys as ou Arcadia, tussen Du Toitstraat en Beatrixstraat, wat na sy kleindogter Beatrix vernoem is.

Stephanus is op 13 Maart 1887 oorlede en sy seun, Eddie, het die familiefortuin geërf. Hy het van die ou familiehuis in Kerkstraat getrek na ’n nuwe huis wat hy in 1898 in 237 Beatrixstraat, tussen Kerk en Pretoriusstrate, laat bou het. Dit was toentertyd die enigste huis in daardie blok.

’n Skets van die Uniegebou gedateer 25 September 1909. Dit wys Herbert Baker se beplanning vir die ‘tempel van vrede’ wat toe nooit gebou is nie

Spekulant
Edward Philip Arnold Meintjes was ’n lid van die Transvaalse Volksraad onder president Paul Kruger en het ook in 1907 onderburgemeester van Pretoria geword. Hy was ’n grondspekulant wat beteken dat hy soms baie wel-af was, en ander kere het swak beleggings hom genoop om dele van sy eiendom onder Meintjeskop te verkoop. Hy was ook gedwing om die huurpag op die plaas, wat later bekend sou word as die tuiste van die Onderstepoort Laboratoriums, te laat vaar.

Terwyl dit goed gegaan het met Eddie, het hy ’n nuwe huis teen die voet van Meintjeskop vir sy vrou laat bou. Die adres is vandag Vermeulenstraat595, op die kruising met Zeederbergstraat.
Eddie het die huis Vrede genoem, maar sy eerste vrou is oorlede voor die huis voltooi is. Sy tweede vrou, Ethel, se nooiensvan was Ayton, wat die naam van ’n straat in Clydesdale aan die oostelike grens van Loftus Versveld, geword het.

Eddie het Vrede later verhuur aan Paul Nel en nog later het dit die eiendom van Carl Ziervogel, geword. Ná die Anglo-Boereoorlog het dit beter gegaan met Eddie. In 1902 het hy Vrede uit die Ziervogel Landgoed terug gekoop en vir ’n rukkie besit, voor hy weer moes verkoop. Toe Eddie in 1917 oorlede is, was sy totale boedel minder as £300 werd.

 

’n Foto van Arcadia en Meintjeskop in 1897 met Kerkstraat wat parallel met die kop loop

Konsentrasiekamp 
Met die Anglo-Boereoorlog is Ziervogel Landgoed gebruik as ’n Britse militêre hospitaal, genaamd Lisdogan Park Hospitaal. In 1901 is ’n Britse blokhuis op die westekant van Meintjeskop opgerig en die konsentrasiekamp wat inwoners van die oorvol Irenekamp sou huisves, is op 11 Januarie 1902 op Meintjeskop aangelê.

Die kamp is deur majoor Hoskins net onderkant die waghuis “Johnston’s Redoubt” – waarskynlik waar Bryntirion vandag is – uitgelê.

In Die Bronberger van Junie 2007 het ons berig dat Meintjeskop-konsentrasiekamp later verander is in ’n ‘Joiner’-kamp. In ’n stadium was daar 650 vroue en kinders van mans wat met die vyand saamgewerk of self die Britse leër gedien het. Na die vrede is ook ’n aantal ‘National Scouts’ saam met die vroue daar gehuisves.

Blykbaar het die ‘National Scouts’ eers in Mei 1902 hulle opwagting in die kamp gemaak omdat hulle eenheid in daardie stadium ontbind is. Die konsentrasiekamp is op 15 Desember 1902 gesluit.

 

’n Groep mense voor die ou Volksraadgebou in 1875 toe president Burgers na Europa vertrek het. Van links na regs staan Stephanus Meintjes, PJ Joubert, waarnemende staatspresident, en dan NJR Swart met wit pluiskuilhoed
Foto: Gereformeerde Kerk Pretoria

Uniegebou
Die grond rondom Meintjeskop is in 1909 deur die regering aangekoop vir R65 000,00 en die stadsraad het ’n verdere stuk aangrensende grond, gewaardeer teen R50 000,00, as donasie gegee.

Generaal JBM Hertzog het in Vrede gebly toe hy in 1910 Minister van Justisie geword het. Die huis is vir baie jare deur die regering gebruik en is later Vredenhuis genoem.

Toe Pretoria aangewys is as die administratiewe hoofstad van die Unie van Suid-Afrika, het die regering voorbereiding begin tref vir die bou van ’n nuwe administratiewe gebou. Die argitek van die Uniegebou, Sir Herbert Baker, is vrye teuels gegee om ’n terrein vir die oprigting van ’n nuwe gebou, te kies. Hy het Meintjeskop aan Generaal Jan Smuts aanbeveel as die ideale terrein.

Die hoeksteen is in November 1910 gelê, en dit het 1 265 werkers meer as drie jaar geneem om die gebou teen ’n koste van £1 310 640 te bou. Daar is 14 miljoen bakstene gebruik vir binnemure, 14 160 m³ klip, 2095 m³ beton, 40 000 sakke sement en 570 m³ graniet. Agt-en-tagtig hyskrane is gebruik en 1 200 vakmanne het aan die projek gewerk.

 

Voor links is staatsekretaris NJR Swart saam met president Burgers met ‘n ander groep amptenare. Dr. EJP Jorrisen is ook langs Burgers en aan sy linkerkant staatsprokureur Meintjes
Foto: Gereformeerde Kerk Pretoria

Meintjes
Op daardie stadium was die Uniegebou die grootste bouprojek in die suidelike halfrond. Interessant dat dié projek gebou is op ’n koppie wat vernoem is na ’n Meintjes. Die eerste Meintjes wat in Suid-Afrika aangekom het, se volle van was Meintjes van den Berg. Die van, Meintjes van den Berg, het vir ongeveer 170 jaar in kerkrekords voorgekom, voor die ‘van den Berg’ gedeelte laat vaar is.

Die eerste verwysing na die Meintjes-familie is die rekord van die Stellenboschse huwelik op 14 Januarie 1709 van Hendrik Meintjes van den Berg van Munsterland, Duitsland en Christina Bastiaanz, die weduwee van Heinrich Gozelke.

Die Meintjes-gedeelte van dié van is oor die jare op verskeie maniere verkeerd gespel. Stamvader Hendrik se kinders se dooprekords verwys na Metje, Mantie, Mijntjes, Meijntges en Meijntgens. Die eerste korrekte spelling van die van word gevind in die notules van die Kaapse Kerkraad, gedateer 5 Mei 1749.

Stamouers Hendrik en Christina het agt kinders gehad, maar almal wat vandag die van ‘Meintjes’ dra, is afstammeling van hulle tweede seun Johannes. Hy het met Jacoba van Wijk getrou en hulle het sewe kinders gehad.

Johannes se oudste seun Hendrik was vir lank ’n heemraadslid in Graaff-Reinet. Arcadia se Stephanus was hierdie Hendrik se agterkleinseun. Hy is op 19 Februarie 1819 gebore as die seun van Stephanus Jacobus Meintjes en Cecilia Magdalena, ’n nooi Vorster.

 

 Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.

 

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui