Uitsonderlike kultuurwerk van WH Coetzer gou opgeveil

Jakkie vier twintig jaar
Junie 4, 2018
Goue poedingklip bewaar sy ryk geheim jare lank op Kerkplein
Junie 4, 2018

Deur Marthinus van Bart

[email protected]

 

’n Uitsonderlike olieverfskildery op doek van 1932 deur die Afrikaanse kunsskilder Willem Hermanus Coetzer (1900-1983) is op 4 Junie by The Wanderers Club in Illovo, Johannesburg, opgeveil.

Die kunswerk beeld ’n speekwiel-houtwa in ’n idillies plaaslandskap uit. Dit word teen die opraap-prys van R50 000 gewaardeer.

Die toneel wat Coetzer in sy kenmerkend realistiese styl uitbeeld, vertel ’n interessante verhaal as die simboliek van die detail in die kunswerk versigtig ontleed word. Suiwer objektief beskou, is die onderwerp ’n sonskyn-natuurlandskap in die somer, met op die voorgrond ’n eienaardige kortwa met speekwiele en twee disselbome. ’n Klompie plaashoenders wei op ’n oop kol rooigrond onder en om die wa. Twee hooimiedens staan heel links agter, en op die agtergrond is ’n pioniers- of boerewoning van ’n argitektoniese A-styl ontwerp, ook bekend as ’n saaldak of staandak met twee skuins syvlakke wat aan die ente deur skuins gewels afgesluit word. Hierdie soort argitektuur is tipiese Vrystaatse en Transvaalse pioniersboukuns van die middel 1800’s tot die vroeë 1900’s. Die lae heuwellandskap en wolkformasies wil die toneel in die Oos-Vrystaat plaas.

Bekyk ’n mens die wa goed, merk jy dat ’n stuk goiingsak aan die agterkant afhang, en die steel en handvatsel van ’n tuingraaf steek deels daarbo uit. Wat vertel dit nou alles?

Die wa staan bekend as ’n houtwa, en is, wat die funksie daarvan betref, die voorloper van die huidige sleepwa. Dit is gewoonlik deur ’n enkele sterk perd, soos ’n ploegperd, getrek. Omdat hout in die vroeë 1900’s en voorheen die primêre brandstof van ’n plaas was, was die houtwa ’n belangrike plaaswerktuig. Hoe langer die plaas bewoon is, hoe verder moes gery word om hout te gaan hak. Dit was dus ’n alledaagse bedryf, gewoonlik met ’n vaste houthakker of meer in diens na gelang van die brandstofbehoefte van die plaas. Maar die kortwa is ook vir ander take ingespan, soos om van tyd tot tyd miershoopgrond te versamel vir die maak van vloere vir die opstal of die trapvloer.

Die hooimiedens in die skildery verklap dat op hierdie plaas met koring of soortgelyke gewasse geboer word. Die ryp koringkorrels moet op ’n trapvloer deur perde uitgewan word, en ’n trapvloer van natgemaakte miershoop wat hard gekompakteer word, is net die ware Jakob. Huisvloere is normaalweg bedek met fyngemaalde miershoop gemeng met nat beesmis. Wanneer dit aangesmeer en droog is, word dit glad en blink gepoleer met ’n mengsel van beesbloed en rou lynolie.

Die tuingraaf en goiingsak suggereer dat pas miershoopsooie versamel is, en die kaal kol rooigrond dui straks daarop dat daar ’n miershoop op die plek was wat opgebreek en op die wa gelaai is. Die hoenders pik maar al te gretig na die skarrelende rysmiere – of ander termiete – wat hul tuiste ontneem is.

Ook in die skildery sigbaar, is ’n swart vrou wat ’n groot houer, soos ’n waterblik, op haar kop balanseer. Hierdie was indertyd ’n algemene plattelands gesig. Dit was merkwaardig hoe die inheemse vroue yslike konkas vol water of kleipotte met bier op hul kop kon balanseer en dan met gemak baie ver daarmee kon stap sonder om die inhoud te mors of om fisiek enigiets daarvan oor te kom.

Willem Hendrik Coetzer is op 9 November op Tarkastad naby Queenstown in die Oos-Kaapse Middellande gebore. Hy is aan die Witwatersrand as wamaker opgelei, en was van 1917 tot 1928 beroepswamaker. Hy was van jongs af besonder kunstig, ’n talent wat hy van sy moeder geërf het. In sy vrye tyd het hy kuns beoefen en sy kunswerke jaarliks vir die South African Academy se kunswedstryd ingedien. In 1928 is een van sy werke deur die beoordelaars as wenwerk gekies, en dit het hom in staat gestel om tot 1934 in Londen kuns te studeer. Hy het toe ook die kuns van ets, beeldhou en modelleer bestudeer en bemeester.

Reeds in 1932 in Engeland het hy hom op die Afrikanerkultuur as onderwerp vir sy kuns begin toespits. Die geleidelike opkoms van die verarmde Afrikaners in die nasleep van die Anglo-Boereoorlog, waarin hulle alles behalwe hul menswaardigheid verloor het, en hul groeiende geesdrif vir die naderende eeu-herdenking in 1938 van die Groot Trek van 1838, het Coetzer aangespoor om deur sy kuns aan die herdenkingsprogram mee te werk.

Aanvanklik het hy maar min van die fynere fasette van die Afrikanerkultuur geweet, maar hy was begerig om meer daaroor te wete te kom. Heel ironies het hy sy latere intieme kennis daarvan onregstreeks te danke aan genl. JC Smuts, indertydse adjunkpremier en minister van justisie van Suid-Afrika en fanatiese ondersteuner van die Britse Ryk. Coetzer moes in opdrag van Smuts skilderye by sy ampswoning, Doornkloof, by Irene, Pretoria, maak. In Smuts se studeerkamer het Coetzer na die groot versameling boeke gekyk en die historikus Gustav S Preller se merkwaardige reeks Voortrekkermense daar opgemerk. Hy het Deel I (daar was 6 dele) oopgemaak en begin lees. Dít was die inligting waarna hy gesoek het.

Hy het hom vervolgens na ’n boekhandelaar gehaas, al Preller se geskiedenisboeke gekoop, en hom daarin verdiep. Die ontvouing van sy voorgeslagte se geskiedenis het hom sodanig begeester, dat hy die Voortrekkers se trekpaaie van die Oos-Kaap tot Natal te voet nageloop het. Hy het elke slagveld en elke plek waar heldedade begaan is, besoek. Toe eers het hy hom opgewasse gevoel om met oorgawe die belangrikste grepe uit die geskiedenis van die Voortrekkers in ’n verskeidenheid van kunsmediums vir die honderdjarige herdenkingsgeleentheid uit te beeld.

Naas sy talle skilderye van Trektonele en portrette van Afrikanerhelde, was hy saam met onder andere die argitek Gerard Moerdijk en medekunstenaars Jacob Hendrik Pierneef, Hennie Potgieter en Laurika Postma nou gemoeid met die ontwerp, beeldhou en uitleg van die marmerfries in die Voortrekkermonument, die ontwerp van ’n merkwaardige reeks van vyftien herdenkingstapisserieë vir die Monument, die outentieke namaak van kakebeenwaens vir die herdenkingstrek van die Kaap tot in Pretoria, herdenkingsmunte, ’n posseël-herdenkingsreeks, en tallose aandenkings.

Kunsbeleggers wat Coetzer se kunswerke as sentimentele broodverdieners beskou, maak ’n ernstige vergissing. Sy werke is ’n visuele en tasbare boekstawing van outentieke Afrikanerkultuur en -geskiedenis. Dit het oneindig meer waarde as monetêre uitset en opbrengspotensiaal. Die waardasie van R30 000 tot R50 000 vir Wa en hoenders, is straks ’n onderwaardering. Dit is teen die opraap-prys van R60 000 aan ‘n Kaapse sakeman verkoop.

 

Hierdie olieverfskildery op doek van die Suid-Afrikaanse kunsskilder Willem Hermanus Coetzer (1900-1983), Wa en hoenders, 1932, met afmetings 38.5 cm x 46 cm, word vir tussen R30 000 en R50 000 gewaardeer deur die kuns- en oudhede-afslaer Strauss & Co. Die kunswerk is op Maandag 4 Junie by The Wanderers Club in Illovo, Johannesburg, opgeveil. Dit is teen die opraap-prys van R60 000 aan ‘n Kaapse sakeman verkoop.