Openbarings plaas godsdiens in die kollig
March 4, 2019
Erasmus Smit (1778-1863)
March 4, 2019

Sou die radio-pioniers van vyftig jaar gelde ooit kon voorsien tot watter magtige kommunikasiemedium die Radio in Suid-Afrika ontwikkel het? Sou hulle ooit kon weet dat die SAUK vandag ‘n totaal van 1966 uur en 5 minute per week in sy negentien programdienste uitsaai? Vandag word die 2 350 000 lisensiehouers bedien deur 384 FM-senders, 8 kortgolfsenders, 24 mediumgolfsenders en 8 ateljeesentra.

Op 29 Desember 1923 het die eerste proefuitsendings oor die radio uit Johannesburg gekom, gedoen deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë se uitsaaikomitee die hulp van geesdriftige radio-amateurs, musikante en tegnici van Western Electric, ’n maatskappy wat ook die eerste IKW-mediumfrekwensiesender voorsien het.

Om ’n mate van beheer oor die uitsendings uit te oefen, het die destydse regering op 3 Augustus 1923 die eerste regulasies bekend gemaak. Die destydse posmeester-generaal, kol. E. Sturman, het in oorleg met die Minister van Pos- en Telegraafwese, sir Thomas Watt, hierdie stappe gedoen nadat dit die goedkeuring van die toenmalige goewerneur-generaal, prins Arthur van Connaught, weggedra het.

Aan die begin van 1924 het die Scientific and Technical Club hul eerste radio-uitsendings in Suid-Afrika laat hoor.

Hulle het gefunksioneer onder die naam van A S & T Broadcasting Company Limited, en het uitgesaai met die IKW-mediumfrekwensiesender wat vroeër vir proefuitsendings gebruik is. Luisteraarsgeld is ook ingesamel binne ’n straal van honderd myl om Johannesburg.

Die grondslag van die radiobedryf is op 1 Julie 1924 gelê met die eerste bewerige en bra onsekere uitsendings uit ’n “ateljee” behang met groen wolstofgordyne en sisalvloerbedekking. Hierdie ateljee was in die meubelafdeling van ’n groot winkel op die hoek van Pritchard- en Rissikstraat, Johannesburg.

Radio-koors het oral begin uitslaan – Kaapstad se Publisiteitsvereniging begin op 15 September 1924 met uitsendings, Durban se Uitsaai-organisasie onder die beskerming van die stadsraad saai van 10 Desember 1924 af uit. Hoewel die publiek besonder geesdriftig is oor die radio, bly lisensiegelde agter en spoedig ondervind al drie stasies finansiële probleme. Mnr. Isidor Schlesinger het in hierdie stadium ’n konsessie van die regering verkry om die uitsaaiwese dwarsoor die land vir ’n tydperk van vyf jaar te beheer. Later word mnr. Schlesinger se konsessie met nog vyf jaar verleng en sy beheer strek dus oor ’n tydperk van 1927 tot 1936. Aanvanklik verloor Schlesinger heelwat geld met die onderneming en na twee jaar versoek hy die regering om sy konsessie terug te trek. Die regering wou nie hiervan hoor nie en Schlesinger se posisie word gered deur die insameling van lisensiegelde. Hy behaal so ’n mate van sukses dat hy met die verstryking van sy konsessie in 1936 onwillig daarvan afstand doen.

Foto: Mnr. Billy Mathews, bariton, een van die eerste Suid-Afrikaanse sangers om oor die eter gehoor te word. Hy het opgetree saam met mev. AJ Orenstein

Toe die Schlesinger-konsessie sy einde genader het, het die destydse eerste minister, generaal JBM Hertzog, vir lord Reith, direkteur-generaal van die BBC, gevra om ’n studie te maak van die uitsaaiwese in Suid-Afrika en om aanbevelings te doen vir die toekomstige bestuur daarvan. Die keuse het op lord Reith geval, omdat hy ’n groot bydrae gelewer het in die ontwerp en oprigting van die BBC; gevolglik toon die SAUK se struktuur nog ’n groot ooreenstemming met dié van die BBC.

Die totstandkoming van die SAUK deur wetgewing het voortgevloei uit die aanbevelings van lord Reith, en op 1 Augustus 1936 het die SAUK die uitsaaiwese oor die hele land oorgeneem. As statutêre liggaam is die SAUK ’n nutsorganisasie, d.i. ’n organisasie sonder winsbejag.

Die keuse vir die eerste direkteur-generaal van die SAUK het op maj. René Caprara geval. Meer as elf jaar lank het hy die Kaapstadse ateljees vir die ABC Company beheer terwyl hy ook ’n voltydse betrekking in die Kaapstadse orkes beklee het. ’n Beheerraad is benoem om die beleid van die korporasie neer te lê en uitvoering aan die uitsaaiwet te gee.

Foto: Mnr. René Caprara toe hy in die vroeë jare ateljeebestuurder in Kaapstad was. Hy was voormalig lid van Kaapstad se orkes en het later direkteur-generaal van die S.A.U.K. geword

Ontoereikende toerusting en finansies was in die beginjare ’n remskoen en die probleem of Engelse en Afrikaanse programme oor dieselfde senders aangebied moet word, het gou opgeduik. Geleidelik is daar na afsonderlike senders oorgeskakel en in 1937 is daar vir die eerste keer in Afrikaans uitgesaai. Eers in 1938 het Afrikaans vir hom ’n plek verower as radiotaal met omvattende uitsendings oor die Simboliese Ossewatrek. Ongeëwenaarde opwellings van volkstrots het op hierdie gebeure gevolg.

Foto: So het die byklank-ateljee in 1945 daar uitgesien. Trots die karige toerusting het die opset tog aan sy doel beantwoord

Die Tweede Wêreldoorlog het uitgebreek en sy knellende invloed het ook die radiowese geraak. Ontwikkeling was erg gestrem en geen nuwe senders is byvoorbeeld gebou nie, sodat die Engelse Diens tot 1948 uitgesaai het met senders drie keer sterker as dié van die Afrikaanse Diens. Geleidelik het daar egter weer uitbreiding en ontwikkeling gekom.

Vóór 1950 het die Uitsaaikorporasie sy nuus slegs van SAPA en die BBC ontvang. In die SAPA-organisasie het ’n uitsaai-redakteur besluit watter berigte nuuswaardig genoeg is om deur die SAUK uitgesaai te word. Vir nuus uit die buiteland is uitsendings van die BBC net so heruitgesaai. Die Nuusdiens soos ons dit nou ken, is in 1950 ingestel met eie joernaliste, tegnici en administratiewe personeel. Een van die belangrikste mylpale in die geskiedenis van die SAUK-nuusdiens was die instelling van ’n eie parlementêre nuusspan, nie net om nuusberigte vir nasionale en streekuitsendings uit die debat te haal nie, maar ook om soggens en saans oorsigte van die verrigtinge in die Volksraad en Senaat uit te saai. Nog ’n voorwaartse stap is gedoen in Maart 1952 toe die eerste streeknuusdiens – dié van Wes-Kaapland – ingestel is. Die streeknuusdienste van die Vrystaat, Natal, Oos-Kaapland en Transvaal het gevolg en uiteindelik ook dié van Suidwes-Afrika. Die personeel van die Nuusdiens het aangegroei tot 205 voltydse joernaliste, tegnici en administratiewe personeel. Daar bestaan tans redaksionele kantore in 18 stede of dorpe asook ’n permanente kantoor in Londen. In hierdie kantore word daar daagliks 253 nuusbulletins vir alle programdienste opgestel en hulle neem meer as twintig uitsaai-ure in beslag.

Op 1 Mei 1950 word die stem van die eerste reklamekanaal gehoor, naamlik dié van Springbok-radio. Hierdie radiostasie trek geweldig baie luisteraars veral met die gewilde vervolgverhale, radiodramas en ander ligte vermaaklikhede. Hierna word FM-streekdienste ingestel; Radio Hoëveld in 1964; Radio Goeie Hoop in 1965; en Radio Port Natal in 1967. Hierdie programme, gebaseer op musiek en nuus, is elke uur alternatief in albei landstale uitgesaai.

Inmiddels het die behoefte aan ’n uitsaaidiens vir die Bantoe-volke groter geword en op 1 Augustus 1952 is ’n rediffusiediens – ’n herleidingsdiens – in drie Bantoe-tale vir die swart woongebiede ten weste van Johannesburg ingestel. Om beter ontvangs vir luisteraars te verskaf en meer kanale vir uitsendings te open, is in 1960 begin met die beplanning van ’n omvattende FM-netwerk. Van 1 Julie 1962 af is in Tswana en Noord-Sotho uit Pretoria uitgesaai; in Zoeloe van 1 Januarie 1963 af uit Durban; in Xhosa van 1 Junie 1963 af uit Grahamstad en in Venda en Tsonga van 1 Februarie 1965 af uit Johannesburg. Hierdie sewe programdienste vorm saam Radio Bantu. Elke Bantoe-volksgroep in Suid-Afrika geniet ’n programdiens in sy eie taal. Radio Bantu se programme sluit in nuusbulletins, nuusprogramme, praatjies, godsdienstige uitsendings, toneelstukke en vervolgverhale, kinder- en vroueprogramme, programme vir oumense, vasvra-wedstryde en besprekingsprogramme, hoorbeelde, musiek programme van alle soorte, landbou- en tuinbouprogramme, versoek programme en sportuitsendings. Die daaglikse skoolradio-uitsendings in die verskillende tale is vir die skole van groot nut. Sowat 700 000 skoliere in 6 000 verskillende skole skakel elke dag daarop in. Die waarde van hierdie uitsendings word verhoog deur die gebruik van handleidings wat spesiaal vir die onderwysers opgestel word. Radio Bantu is ’n belangrike medium waardeur Bantoe-skrywers en -komponiste uiting aan hul skeppingsdrang kan gee. Dit help met die voortdurende verryking van die Bantoe-tale, aangesien daar dikwels nuwe woorde vir nuwe begrippe geskep moet word. Sowat 99 persent van alle Bantoes in Suid-Afrika kan op uitsendings in hul onderskeie tale inskakel, en hulle reageer flink op die uitsendings. Om en by viermiljoen briewe word jaarliks van luisteraars ontvang wat hul waardering betuig vir die programme wat hulle hoor. Die sewe programdienste van Radio Bantu saai altesaam 698 uur en 30 minute per week uit en bereik vandag, na veertien jaar van bestaan, meer as viermiljoen volwasse Bantoeluisteraars per dag.

Foto: Ovambo-vroue neem deel aan ’n program op Radio Owamba

Radio RSA, die Stem van Suid-Afrika, is die SAUK se buitelandse kortgolfdiens wat altesaam 156 uur en 30 minute per week uitsaai. Dit het op 1 Mei 1966 begin uitsaai om te dien as ’n instrument van welwillendheid en om ’n feitlike en objektiewe beeld van alle aspekte van die lewe in Suid-Afrika te bied. Radio RSA saai daagliks 39 nuusbulletins uit in Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Nederlands, Portugees, Swahili, Chichewa en Lozi. Dit word verder aangevul deur 19 kommentaar-uitsendings. In 1971 is berig dat 30 van die 38 Afrika-lande se verteenwoordigers in die VVO gereeld na RSA-uitsendings luister as ’n bron van inligting van gebeure in Afrika. Ontvangs in die teikengebiede is goed; vier senders van 250 kilowatt elk sorg daarvoor dat RSA helder in Afrika, Europa en Noord-Amerika gehoor word.

In 1954 is die SAUK se Nasionale Simfonie-orkes gestig om drie afsonderlike ateljee-orkeste wat in daardie stadium in Johannesburg, Kaapstad en Durban bestaan het, te vervang. Die Nasionale Simfonie-orkes is die enigste orkes van volle sterkte in Suid-Afrika. Tagtig musikante en twee inwonende dirigente word voltyds deur die SAUK in diens gehou om simfonie- en etensuurkonserte vir alle lede van die gemeenskap aan te bied. Periodieke toere word deur die orkes onderneem om uitvoerings oor die Republiek te lewer. Alle konserte word opgeneem en later oor die nasionale net van die Engelse of Afrikaanse Diens uitgesaai.

Foto: Die Nasionale Simfonie-orkes van die S.A.U.K. Dit word hier gedirigeer deur
mnr. Edgar Cree

Die groei en ontwikkeling van die SAUK blyk uit basiese statistiek. Op 9 Julie 1924 was daar ’n totaal van 650 gelisensieerde luisteraars. In 1973 was daar 2 257 114. Daagliks luister nagenoeg 1 099 000 volwassenes na die Afrikaanse Diens, 533 000 na die Engelse Diens, 2 261 000 na Springbok-radio en 1 399 000 na die FM-streekdienste. Die gemiddelde daaglikse luistersyfer vir Blankes, Kleurlinge en Asiate is 5 292 000, terwyl 4 679 000 Bantoes op Radio Bantu inskakel; ’n totaal van 9 971 000 luisteraars per dag.

Dit was vir die SAUK ’n uitdaging om tred te hou met ontwikkelings op tegniese gebied. Daar is derhalwe reeds sedert 1944 navorsing op FM gedoen nadat majoor Edwin A. Armstrong, die “Vader van Frekwensie-modulasie”, gratis vergunning verleen het dat sy senderontwerpe vir proefnemings gebruik word. Die “Goeie Hoop”, fregat van die Suid-Afrikaanse Vloot, is met die nuwe toestel toegerus tydens die besoek van die Britse koningsgesin in 1947 en het ’n gulde geleentheid gebied om die stelsel op die proef te stel. Dit is op 16 Desember dieselfde jaar tydens die Geloftefeesvierings by Bloedrivier gebruik, omdat daar nie ’n landlynverbinding na die naaste poskantoor by Dundee was nie. Die oprigting van die SAUK-toring in Brixton, waarvandaan op 1 Januarie 1962 met uitsendings begin is, het belangstelling uitgelok. Hierdie toring is 181 meter hoog en ses FM-senders van 10 kilowatt elk saai daarvandaan uit.

In Desember 1969 het die regering ’n kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van dr. PJ Meyer, die raadsvoorsitter van die SAUK, benoem om op die moontlike instelling van ’n televisiediens in te gaan. Die kommissie het uit twaalf lede bestaan wat by die regering die instelling van so ’n diens aanbeveel het. Die aanbeveling is aanvaar.

Vir ’n ekonomies- en tegniesontwikkelde land moes Suid-Afrika lank wag vir ’n televisiediens. Dit was moontlik om ook ’n “kits”-televisiediens in te stel soos Afrika-state, maar dit sou van minderwaardige kwaliteit gewees het, gesien die uitgestrektheid van Suid-Afrika en die hoë eise wat dit sou meebring. In de huidige Eerste Fase van die televisiediens word agtien sendstasies en 16 bereikaanvullers dwarsdeur die Republiek opgerig. Kleurtelevisie-toerusting is reeds deeglik deur oorsese stasies beproef en die SAUK benut hulle ervaring op so ’n manier dat die televisiediens wat in Januarie 1976 begin, een van die modernste stelsels ter wêreld sal wees. Tagtig persent van die bevolking sal van daardie datum af op die diens kan inskakel.

Die uitvoering van Fase Een van die televisiediens het in 1973 die halfpadmerk verbygesteek. Gesofistikeerde elektroniese toerusting word nou geïnstalleer onderwyl konstruksie afgerond word. Ateljee-toerusting van sowat R14 500 000 is reeds aangekoop of op bestelling geplaas, en elf lande dwarsoor die wêreld is hierby betrokke. Daar sal by die voltooiing van die gebouekompleks by Uitsaaisentrum 47 ateljee-suites vir radio en televisie wees en omvangryke konstruksiewerk vind tans plaas.

So het die eerste era van die radiowese in Suid-Afrika in 1974 ten einde geloop met die viering van die vyftigjarige bestaan van die radio as wêreldwye kommunikasiemedium. Nou lê die volgende era van televisie in die volgende vyftig jaar voor.

Bron: Lantern, September 1974, pp. 64-73