Uitbreek van die Anglo-Boereoorlog en die eerste spoorinsident by Kraaipan op 12 Oktober 1899

Stroomop
December 8, 2019
PAARDEBERG: 17-27 FEBRUARIE 1900
February 24, 2020

’n Gepantserde CGR 3de Klas 4-4-0 1889 lokomotief wat ontspoor is op 12 Oktober 1899 tydens die eerste skermutseling van die Anglo-Boereoorlog te Kraaipan. Dit was die eerste trein waarop die Boere beslag gelê het kort nadat oorlog verklaar is. Die trein was vanuit die noorde op pad na Mafeking toe hy ontspoor is nadat spoorweglêers verwyder is. Na ’n kort geveg is die tweede lokomotief wat wou hulp verleen het, se stoomketel deur ’n projektiel getref, waarna die Engelse soldate oorgegee het.

deur Dr. Tian Schutte*

Met die verklaring van oorlog teen Engeland op 10 Oktober 1899, wou die ZAR sy westelike grens beveilig deur die klein Britse garnisoen in Betjoeanaland (Botswana) onder kolonel Robert Stephenson Smyth Baden-Powell wat in Mafeking gestasioneer was, uit te skakel. Generaal Koos de la Rey het om 21:00 met 800 manskappe van die veldkornetskappe Lichtenburg, Boven-Schoonspruit, Gatsrand en Onder-Schoonspruit na Moshette-stat opgeruk om die spoorlyn te beskadig en die sowat 1000 Engelse soldate wat daar saamgetrek was, aan te val. Generaal Koos de la Rey en sy kommando het om 15:00 op 12 Oktober 1899 by Kraaipan, ‘n spoorweghalte tussen Vryburg en Mafeking, aangekom, maar geen teken kon van die Britse mag gevind word nie. Nadat hulle die spoor ‘n halfmyl aan beide kante van die halte opgebreek en die telegraafdraad geknip het, het die kommando gaan rus met die agterlating van slegs ‘n wag by die spoorlyn.

Kol. RSS Baden-Powell

Gedurende die middag van 11 Oktober 1899 het die Britse bevelvoerder in Mafeking, kol. Baden-Powell ‘n trein, HMT Mosquito, wat deur ‘n gepantserde gidslokomotief vergesel was, suidwaarts na Vryburg gestuur om kosvoorrade, waaronder twee 7-ponder kanonne, te gaan haal wat met ‘n ander trein vanaf Kimberley na Vryheid geneem sou word vir die verwagte Boere-aanval. Hierdie trein het weens ‘n vertraging Vryburg eers op die aand van 12 Oktober 1899 bereik. Luitenant Randolph Cosby Nesbitt, die bevelvoerder van die pantsertrein, is die middag om 15:15 deur die Vryburgse magistraat in kennis gestel dat groot getalle Boere op die spoorlyn tussen Kraaipan en Madibogo gewaar is en van die vernietiging van die telegraafverbinding en kon hy dus nie met Baden-Powell in Mafeking in verbinding treë nie. Aan hierdie waarskuwing het hy hom egter nie gesteur nie. Die vorige aand toe hy per telegraaf aan Baden-Powell gerapporteer het dat die kanonne eers die aand van die 12de op Vryburg sou aankom, het laasgenoemde hom geantwoord dat die reëlings van die 11de en 12de van krag sou bly. Nesbitt was dus vasbeslote om in opvolging van die instruksies, na Mafeking te probeer deurdruk.

’n Gepantserde CGR 3de Klas 4-4-0 1889 lokomotief wat ontspoor is op 12 Oktober 1899 tydens die eerste skermutseling van die Anglo-Boereoorlog te Kraaipan. Dit was die eerste trein waarop die Boere beslag gelê het kort nadat oorlog verklaar is. Die trein was vanuit die noorde op pad na Mafeking toe hy ontspoor is nadat spoorweglêers verwyder is. Na ’n kort geveg is die tweede lokomotief wat wou hulp verleen het, se stoomketel deur ’n projektiel getref, waarna die Engelse soldate oorgegee het.

Nadat lt. Nesbitt ‘n spoorweginspekteur en vyf spoorwegwerkers opgelaai het om die nodige herstelwerk aan die spoorlyn te verrig, het hy Vryburg om 19:45 verlaat en noordwaarts vertrek. ‘n Gepantserde gidslokomotief het voor sy trein uitbeweeg tot by Madibogo-pan waar hulle deur sers. Matthews van die Kaapse Polisie verwittig is dat die spoorlyn sowat 10 myl (16 kilometer) verder net suid van Kraaipan deur die Boere opgebreek is en dat hulle ook oor artilleriestukke beskik. Weereens het lt. Nesbitt hom nie daaraan gesteur nie en opdrag gegee om teen ‘n spoed van twee myl per uur (3.2 km/h) te beweeg en om ook nie ligte aan te sit nie.

Lt. RC Nesbitt

Omstreeks 22:00 het die gepantserde gidslokomotief weens sabotasie van die spoorlyn by Kraaipan ontspoor (GPS: 26° 18′ 10.37″ Suid & 25° 17′ 46.15″ Oos). Die masjinis van die ontspoorde pantserlokomotief, ‘n ene Flowerday, het vir lt. Nesbitt laat weet om te onttrek. Weereens het lt. Nesbitt hom nie daaraan gesteur nie en sy trein laat voortstoom tot by die ontspoorde pantserlokomotief, waar hy opdrag gegee het dat die beskadigde spoorlyn herstel moet word. Wat hulle nie geweet het nie, is dat die Boere intussen kamp opgeslaan het by Kraaipan en deur die geraas wakker gemaak is en stelling ingeneem het rondom die stasie. Dit was ‘n donker nag en die Engelse het gepoog om die gepantserde lokomotief weer op die spoor te kry. Die Boere het stelling rondom die spoor ingeneem en ook die spoor agter Nesbitt se trein opgebreek om sy ontsnapping agtertoe af te sny. Om 22:45 daardie nag is die eerste skoot van die Anglo-Boereoorlog deur vk. Johannes Cornelius Coetzee van Lichtenburg afgevuur op ‘n afstand van sowat 100 treë van die lokomotiewe af. Die Engelse het die vuur beantwoord met grofgeskut en geweervuur, maar moes noodgedwonge in die pantserwaens skuiling soek.

Op die stadium was lt. Nesbitt in die mond gewond en het kpl. Williams die bevel oorgeneem. Die ander masjinis, Booth, is ook gewond en die stoompyp wat die remme beheer, is ook beskadig en kon nie losgemaak word nie. Die geweervuur het tot dagbreek geduur, totdat genl. De la Rey vier artilleriestukke onder kapt. P.J. van der Merwe vorentoe gestuur het. Op ongeveer 2 000 treë bestook hulle die trein en met die derde skoot van die 7,5-cm Krupp snelvuurkanon, tref hulle die stoomketel wat ‘n enorme stoomwolk afgegee het. Luitenant Nesbitt het kort daarna die wit vlag gehys. Die drywer en stoker het erge brandwonde opgedoen wat generaal De la Rey as volg beskryf het: “Vreeselijk was het voor mij toen ik daar kwamen aan te aanschouwen hoe de drijvers door het kookwater verbrand waren, en was de gevreesde oorlog uitgebroken.”

Die twee Britse 7-ponder kanonne wat die Boere by Kraaipan gebuit het

Luitenant Nesbitt wat self gewond was, is saam met die krygsgevange Engelse soldate na genl. Piet Cronjé se kamp gestuur vir versorging. Blykbaar is 19 Engelse krygsgevange geneem waarvan twee offisiere en vyf manskappe gewond was, 11 spoorwegwerkers waarvan 2 gewond was en nege swartes waarvan vier gewond was. Behalwe vir die drie kanonne waarvan twee 7-ponders was, het die Boere ook 30 gewere, ammunisie o.a. dum-dum patrone, liddietbomme, kiste dinamiet asook draad en materiaal en gereedskap vir die herstel van telegraaf en spoorlyne, van die Engelse gebuit. Aan Boerekant was daar geen verliese nie en gevolglik is die suidwaartse spoorverbinding tussen Mafeking en Vryburg afgesny.

Op 11 Oktober 1899 het die ZAR alle spoorverkeer met Natal en die Kaapkolonie gestaak. Drie dae later het die Kommandant-Generaal bevele tot die gebruik en benutting van die Natalspoorweg gegee vir sover Natal deur die Republikeinse leërs beset was. Die personeel van die NZASM het dikwels in lewensgevaar die werk op die spoorweë in Natal waargeneem en het kort agter die snel voortrekkende Republikeinse magte gevolg to digby Ladysmith waar die opmars tot ‘n einde gekom het met die beleg van Ladysmith.  Die Engelse het besef dat die spoorweë die vinnigste en doeltreffendste manier van transport vir sy leër was, omrede paaie in die reënseisoen onbegaanbaar was en die beskikbaarheid van trekdiere soos osse, perde en muile altyd ‘n probleem was. Daarom het die Britse magte hulle operasie al langs hierdie belangrikste treinroetes uitgevoer en gepoog om soveel moontlik van die Republikeinse treine in besit te neem soos hulle gevorder het.

 

Britse gidslokomotief (no. 108) wt by Kraaipan ontspoor is

*Uittreksels uit die boek: Treinvernielers – Boere-aanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee