Uit die dagboek van ’n trekleier

Tregardt en Van Rensburg
March 19, 2015
Trekkers binne en trekkers buite die laer
March 21, 2015

Uit Louis Tregardt se dagboek leer ons sy geselskap ken soos geen ander trek nie. Soos Anna Böeseken toon, rus sy blik veral met trots en voldoening op sy naasoudste seun Petrus Frederik of Pieta, gebore 30 Oktober 1819.

Behalwe Pieta op jag – daar was leeus, tiers, renosters, kwaggas, wildevarke, elande, wildebeeste, koedoes, volstruise, wildeganse en allerhande bokkies in oorvloed – sien ons Pieta aan die werk. Hy gaan dekgoed vir ’n skerm haal en trek dit oor met velle. Hy gaan haal mis en brand kalk, brei velle en sny rieme, maak jukskeie maar breek ongelukkig die skaaf. Dan sien ons hom besig met die maak van ’n veldstoel, of hy kap hout en tentstokke. Dan weer sleep hy riet en palmiet aan en in Junie 1836 is ’n skooltjie klaar, grotendeels deur Pieta se ywer. Daniël Pheffer kan dan onder geriefliker omstandighede skoolhou vir die 21 kinders onder sestien. Vir Pieta was daar, behalwe die jag, geen ontspanning nie, sodat hy partymaal moes sat word vir die werk. So teken sy pa op Saterdag 3 Junie 1837 aan: “De avond sprak ik met Pieta, gaf hij mij geen antwoord, maar een suure gezigt, waar ik boos om worden ben. Was ik met een jukscheij achter hem, kon hem niet krijgen.”

Toe Potgieter en sy mense nie opdaag nie, het Tregardt besluit om alleen verder te gaan. Tot aan die voet van die Drakensberge vorder hulle sonder hindernis. By die berge het Jan Pretorius hom byna oortuig dat dit te swaar sou wees om ’n weg te baan. Maar die vroue het in opstand gekom en op hul aandrang is die trek voortgesit. In kort skofte het spanne van 16, 18 of 20 osse die waens boontoe getrek. Bang dat die mans ekskuse gaan soek om nie verder te trek nie, het Martha Tregardt, Antjie Scheepers en Breggie Pretorius die enigste moontlike pad ondertoe aangewys. Die afgaan was baie moeiliker omdat dit steiler was, en aanhoudende reën en mis hulle vertraag het. Drie seuns het moedeloos geword en weggeloop na die gewese land – maar op 29 Desember 1837 was hulle terug. Tregardt wou hulle alles vergewe, maar Antjie Scheepers het haar Kobus met twee stroppe geslaan, en die ander moes toe hul seuns ook deurloop.

Die epiese oortog het twee maande en tien dae geduur. Die agterwiele van die waens is uitgehaal, swaar houtblokke onder die asse vasgemaak, net vier osse voor elke wa gespan en hulle een vir een tot aan die voet van die berg gebring. Ná nog 2½ maande is die 52 lede, onder wie sewe bruin mense, op 14 April 1838 by Lourenco Marques (Maputo). Daar tref ’n nuwe ramp die geselskap: malaria. Byna al die lede van die geselskap word siek, en die meeste volwassenes sterf. Ook die siekte van Tregardt se vrou Martha neem ’n ernstige wending, en op 1 Mei moet hy ontroerd aanteken: “Mijn Liefste en Dierbaar pand wierd van mijn voor Eeuwig genomen.” Nog eenmaal skryf hy in sy dagboek: op 10 Augustus wanneer hy verjaar. Op 25 Oktober 1838 is hy oorlede. In Julie 1839 is 28 oorlewendes, ook Antjie Scheepers en Pieta, per skip na Port Natal.

Die Tregardt-dagboek bevat waardevolle inligting oor die trek, swart stamme, plante- en dierelewe. Ook DJ Opperman se sombere drama Voëlvry (1968) is daarop gebaseer. Daarin sê Tregardt deurmekaar, half ylend, voor sy dood: “Al ons sorg en moeite was vergeefs … vergeefs gewees / Of, o grote God, skep u party volke / dat U deur hulle heen U skepping kan verken, / dat hulle eerstelinge van U groei moet wees?”