Tydverdrywe op kommando

Die kommandolewe
January 22, 2015
Die vliegende drukkerye
January 22, 2015

Dit blyk uit Fransjohan Pretorius se Kommandolewe tydens die Anglo-Boere-oorlog dat enkele burgers troeteldiere, veral honde, aangehou het, hoewel dit in die guerillafase byna onmoontlik geraak het. In Februarie 1901 het ’n hondjie Jan FE Celliers as baas aangeneem. Sy het hom getrou gevolg, selfs tydens ’n Britse oorval in September 1901. Die hondjie, Tokkie, was tot die einde van die oorlog by hom en het agter hom aangeloop terwyl hy in Pretoria “soos ’n vreemdeling deur ons goeie ou stad se strate” na sy gesin gestap het.

Vir baie burgers was kaartspeel ’n heerlike tydverdryf. Na bewering het Kitchener Botha leer brug speel tydens vredesamesprekings by Middelburg in Februarie 1901. Die aand het Botha ’n skuldbewys van £15 aan Kitchener oorhandig. Botha het dit so geniet dat hy Kitchener gevra het of hy nie ’n paar pakke kaarte vir sy burgers kon kry nie. Die volgende dag het Kitchener met sy komplimente vyftig pakke gestuur. Van toe af was Botha ’n toegewyde brugspeler. Hy en sy staf het graag saans voor slaaptyd ’n potjie gespeel. Toe hulle een aand tydens die spel oorval word, was Botha se eerste woorde aan adjudant Piet Jooste glo of hy die kaarte gered het. By De la Rey se kommando is die spelers een aand deur eerwaarde JP Roux en dominee JF Naudé oor hul kaartspel betig.

Ontwikkelde burgers het graag skaak en dambord gespeel. Voor die oorlog was daar al debatsverenigings, en op kommando is ook debat gehou. Vir die meer geletterde burgers was lees natuurlik ’n vername tydverdryf. ’n Duitse vrywilliger by die Vrystaters het in Augustus 1901 opgemerk dat elke burger ’n Bybel en Psalm- en Gesangboek by hom het. Talle burgers het smiddae onder bome uit hul sakbybeltjies lê en lees.

JD Kestell vertel die volgende oor die kommandolewe saam met president Steyn: “As ons in die dag stil lê, kan ons in die skaduwee van die boom ons sokkies stop en ons klere lap. Ons lees ook. Die President het geen gebrek aan leesstof nie. Dis wonderlik hoe ’n boek hier, ’n tydskrif daar in die hande kom. Hy het daar baie van gehou as iemand vir hom hard-op lees. ’n Klein biblioteek het ons in die kis van een van die paar karre wat by ons is: Krieg und Frieden, ’n Duitse vertaling [van Oorlog en Vrede deur Leo Tolstoi], Anna Karenina [ook van Tolstoi], enige romans, ’n boek oor die fisika, ’n geskiedenis van die Amerikaanse oorlog, enige godsdienstige boeke, ’n versameling uittreksels uit Seneca in Engels, ’n lewensgeskiedenis van Savonarola. Almal noem ek nie.”

Ander klassieke skrywers waarvan skrywers melding gemaak het, is sir Walter Scott, Wilkie Collins, John Bunyan (Pilgrim’s Progress ’n Nederlandse vertaling) en Julius Caesar (De bello gallico). Die nag van 7 op 8 April 1901 is The Boer War van Arthur Conan Doyle, wat oor die oorlog sedert 1899 handel, tydens ’n aanval in Oos-Transvaal in ’n fort gebuit. Vir Gustav Preller was dit ’n “tamelyk goede beschryving doch niet vry van overdryving en verkleining”. Wat gretig gelees is, is koerante soos De Volksstem voordat publikasie in Junie 1900 gestaak is.