Twee Afrikanernasionalismes?

4 JUNIE
June 4, 2015
5 JUNIE
June 5, 2015

Transvaalse Afrikaners het in die laaste jare van die negentiende eeu ’n bittere stryd oor die onderwys gevoer. Hollands was die medium van onderrig, en eers in standerd 3 kon die skool begin met die onderrig van ’n vreemde taal, gewoonlik Engels.

Waarom het die Transvaalse beleid soveel afgewyk van dié in die Kaapkolonie en selfs die Vrystaat? Die rede was president Kruger en sy ondersteuners se strewe na ekonomiese onafhanklikheid en kulturele selfstandigheid. Ná die ontdekking van goud het die steeds militanter Brits-imperialistiese belangstelling in Transvaal en die toenemende stroom van duisende Engelssprekende uitlanders ’n al hoe groter bedreiging vir dié republiek gevorm. Daarom het Kruger Transvaal soveel moontlik ekonomies onafhanklik van die Britse kus-kolonies probeer maak en die Afrikaans-Hollandse nasionaliteit, taal en geestesgoedere van die Afrikanerbevolking teen die voortdringende Engelse taal en kultuur probeer beskerm en versterk. Daarvoor het Kruger Nederland se hulp gesoek. Die gevolg was dat baie Hollanders in diens geneem is. Transvaal het eers in die 1890erjare met die opleiding van onderwysers begin en baie onderwysers het ook uit Nederland gekom. In 1898 was daar 830 onderwysers aan staatskole: 158 van Transvaalse, 349 van Kaapse en Vrystaatse en 323 van Europese afkoms.

Die onderwysstelsel is gesteun deur president Kruger, die meerderheid Volksraadslede, die Geferormeerde en Hervormde Kerk. NG predikante, meestal gebore Kolonialers, het toenemend die voortou geneem teen doktor Nicolas Mansvelt, sedert 1891 superintendent van onderwys en sy beweerde verhollandsing van die Transvaalse onderwys.

Die bitter polemieke en botsings het gegaan oor die tyd wat vir Engels ingeruim is en die verdienstes van die Hollanderonderwysers. Die anti-Mansvelt-groep het geveg vir méér Engels omdat die Afrikaanse kinders volgens hulle sonder ’n goeie kennis van Engels houthakkers en waterdraers gaan word in ’n land waarin Engels die oorheersende handels- en bedryfstaal is. Die Krugerregering was bevrees vir verengelsing. Subsidies is konsekwent geweier aan skole wat meer as die wetlik voorgeskrewe tyd aan Engels afgestaan het.

Professor Paul Zietsman, van wie al hierdie gegewens kom, sê dat twee vorme van Afrikanernasionalisme teen mekaar gebots het. Aan die een kant was daar ’n eksklusiewe minder akkommoderende Transvaalsentriese nasionalisme, en aan die ander kant ’n meer akkommoderende nasionalisme waarin Kaapse invloede sterk deurgewerk het en wat veral die progressiewe Afrikaners van Transvaal aangetrek het. Volgens predikante soos dominees HL Bosman, PJG Meiring en MPA Coetzee was dit onnasionaal en onpedagogies om Afrikanerkinders te laat in die hande van Hollanderonderwysers met vreemde gewoontes, sedes en lewensbeskouing. Mansvelt het ontken dat Afrikaneronderwysers stelselmatig uit Transvaal geweer is, alleen dié wat nie in staat was om in die landstaal onderwys te gee nie. Dit was juis die Kaapse stelsel met sy verengelsing wat daarop gerig was om Afrikaners van hul sedes en taal te beroof.

Nie een van die twee nasionalismes het Afrikaans as sy voertuig gehad nie. Die gevaar was groot dat soos in Ierland ’n nasionalisme kon ontstaan het met Engels as taal. Maar voor dit kon gebeur, het die Anglo-Boereoorlog gekom. Kaapse predikante en Hollanderonderwysers het hulle daarin ewe dapper gedra.