Trekkers binne en trekkers buite die laer

Uit die dagboek van ’n trekleier
March 20, 2015
Die Slag van Vegkop
March 22, 2015

Andries Hendrik Potgieter (1792–1852), beter bekend onder sy tweede naam, en sy geselskap van sowat 200 uit die Tarka het teen die einde van 1835 met hul trek begin. Potgieter was ’n indrukwekkende man: 1,8 meter lank, fors gebou, gespierd, ’n knap perderuiter, skerpsinnig, rusteloos en met ’n aggressiewe selfstandigheidsdrang. ’n Lid van sy trek was sy vader van 70 jaar, wat sowat 106 jaar sou word en sy seun sou oorleef.

Toe die trek in Februarie 1836 by die Grootrivier kom, het dit weens die swaar somerreëns kant en wal geloop. Met behulp van vlotte is die trekkers by Winterhoekdrif naby die huidige Bethulie deur die rivier, net onderkant die samevloeiing van die Oranje en Caledon. Dit was by dié geleentheid dat die vroue Gesang 20 vers 9 gesing het: “Komt! treên wij dan gemoedigd voort, / In vast vertrouwen op Zijn woord; / Hoe moeilijk ons de weg ook schijn’, /het eind zal zeker zalig zijn.” Noord van die Oranje het ’n paar gesinne van Colesberg by hulle aangesluit, onder andere Sarel Arnoldus Cilliers, en ’n paar gesinne Kruger. In die gesin van die 35-jarige Casper Kruger was sy elfjarige seun Paul, wat wêreldberoemd sou word as president van Transvaal. Die godsdienstige Cilliers het godsdiensoefeninge en Sondae eredienste gelei.

Spoedig het die trekkers die Vetrivier bereik. Potgieter het die gebied tussen die Vet en die Vaal by Makwana, kaptein van ’n Barolongstammetjie, geruil vir 49 beeste en beskerming teen die gevreesde Mzilikazi, koning van die Matebele. Dié was ’n aanvoerder van Shaka wat teen hom in opstand gekom, uitgewyk het na die Hoëveld en later die Sothosprekende stamme in die huidige Noordwes onderwerp het. Sy vestings was Kapain aan die Maricorivier en Mosega suid daarvan.

In Mei 1836 is Potgieter na die Soutpansberg. Terwyl hy weg was, het sy volgelinge, wat almal weiding nodig gehad het vir hul vee, hulle onbesorg versprei oor die grasvlaktes. Party het selfs die Vaalrivier oorgesteek. Die suidooste van die huidige Noordwes was feitlik onbevolk. Hoe nader die trekkers aan die Matebele gekom het, hoe meer vasbeslote was Mzilikazi om met hulle af te reken.

Die beste rekonstruksie van die gebeurtenisse word verskaf deur Hans du Plessis, skrywer van verskeie romans oor die Groot Trek en ’n kenner van die literatuur oor die trek. Op Sondag 21 Augustus 1836 het die Matebele ’n groep jagters uit die Kolonie oorval en almal vermoor, op ene Stephanus Erasmus na. Hy het weggekom en die familie Liebenberg, ook noord van die Vaal, op 22 Augustus gaan waarsku. Barend Liebenberg se trek het bestaan uit hom en sy drie seuns, Stefanus, Barend, Hendrik en hulle gesinne, asook Hendrik se skoonseun, Jan du Toit en sy gesin, en die skoolmeester, MacDonald.

Die groep was sonder laer: die waens het los van mekaar in die omgewing van die huidige Liebenbergkoppie gestaan. Toe Erasmus opdaag, het Barend Liebenberg en sy mense die waarskuwing geïgnoreer. Hans du Plessis meen Liebenberg was daarvan oortuig dat Erasmus, ’n veldkornet uit die Kaapkolonie, hom eintlik met  ’n  skelmstreek wou teruglok Kolonie toe. Daar was voortdurend pogings om Voortrekkers in die Kaap te hou of daarheen terug te lok.

Erasmus, desperaat en tot trane beledig omdat hulle nie wou luister nie, het verder gejaag en die mense daarnaby gaan waarsku. Hy was nog dieselfde dag by die waens van Hermanus Steyn en Johannes Botha. Hulle het dadelik hul waens in ’n halfsirkel bymekaargetrek. Die laer was aan twee kante beskerm deur die kronkels van die Vaalrivier. Dit het gebeur by die huidige Kopjeskraal (omtrent tien kilometer stroomaf van Parys). Die perde en vee is in die ruim laer ingejaag. Die 17-jarige Dolf Bronkhorst het aangebied om nog ’n keer na die Liebenbergs te gaan, maar is nooit weer gesien nie.

Die kamp van die Liebenbergs (op die plaas Rietpoort, net noord van die huidige Parys) is volgens Hans du Plessis op 23 Augustus, in die nag of vroegoggend, aangeval. Die Matebele het vir Barend Liebenberg en sy drie seuns met assegaaie doodgesteek, so ook Jan du Toit en die skoolmeester. Vier kinders en twaalf bediendes is ook in dié aanval gedood. Meer as veertig mense is altesaam gedood. Stefanus Liebenberg se vrou en vier kinders het gaan skuil in ’n wa wat reeds ingespan was. In die hitte van die aanval sit die osse met die wa op loop. Die Matabeles het die wa gevolg en ingehaal, maar die vrou en kinders is nie doodgemaak nie. Twee meisies en Barend Liebenberg se seun, Christiaan, is weggevoer maar daar is nooit weer van hulle gehoor nie.

Die groep by Kopjeskraal is omtrent tienuur die oggend van 23 Augustus aangeval, maar hulle kon die aanval afweer, met die verlies van twee trekkers en ’n hele aantal bediendes.