Transvaalse uitlanders vra Britse “beskerming”

’n Modelstaat en ’n bedreigde republiek
April 25, 2015
Engeland annekseer Transvaal
May 2, 2015

Gebeurtenisse in Transvaal het die Patriot gou bevorder. Brittanje het dié land geannekseer en op die ou end moes die Transvalers vir hul vryheid veg. Die Patriot het Transvaal se kant gekies en so sy sirkulasie opgestoot. Daar was ’n lang voorgeskiedenis. In pres. Burgers se tyd het die swart leier Sekhukhune Transvaal begin bedreig. Rhodes se broer Herbert het wapens en ammunisie aan hom verkoop, en toe sy mense uittartender word, het ’n groepie Transvalers onder Burgers teen hom opgetrek. Burgers kon nie die stad verower nie, en dié mislukking is in die Engelse pers as ramp voorgestel. Daar is voorgegee dat Burgers en sy kommando Pretoria toe moes vlug met Sekhukhune op hul hakke. Engelse delwers by die Lydenburgse goudveld het Britse “beskerming” gevra.

Die agitasie het gekom in ’n tyd toe ’n gees van imperialisme Brittanje en ander Europese moondhede gepak het. Die nasionalisme van die groot nasies het oorgegaan in imperialisme, wat aangewakker is deur skrywers soos Rudyard Kipling. ’n Wedloop om kolonies het begin. Cecil Rhodes, wat so ’n fortuin met diamante gemaak het, het die groot verteenwoordiger van die imperialisme in Suid-Afrika geword. Volgens ’n biograaf het hy so gevoel: “Only one race, so it seemed to him, approached God’s ideal type, his own Anglo-Saxon race; God’s purpose then was to make the Anglo-Saxon race predominant, and the best way to help on God’s work and fulfil His purpose in the world was to contribute to the predominance of the Anglo-Saxon race and so bring nearer the reign of justice, liberty and peace.”

Byna elke Transvaalse dorp het teen 1877 uitlanders gehad, meestal Engelse, wat wou hê dat Brittanje Transvaal annekseer. Deur die ontdekking van goud by Lydenburg is die uitlanders versterk, en hulle het hewig geagiteer. Baie Transvaalse Afrikaners was totaal onverskillig oor die voortbestaan van hul staat.

Die Lydenburgse delwers se versoek om Britse beskerming omdat Transvaal nie Sekhukhune kon bedwing nie, het die Britse minister van kolonies, lord Carnarvon, ’n voorwendsel gegee om in Transvaal in te gryp. Hy  het sir Theophilus Shepstone vir die taak uitgekies. Dié het pres. Burgers in Desember 1876 meegedeel dat hy opdrag het om ondersoek in te stel na die oorsaak van die moeilikheid met die swart volkere. Met nege “raadgewers” en 25 konstabels is hy op 4 Januarie 1877 oor die Natalse grens en op 22 Januarie was hy in Pretoria. Soos in die dorpe op pad, is hy ook dáár deur Engelse handelaars met gejuig en deur die Boere met beleefde gasvryheid ontvang.

Shepstone het ’n koninklike lasbrief by hom gehad wat hom die mag verleen om gebiede te annekseer mits die bewoners dit verlang. Hy het ’n paar onthale gegee wat vir die geïsoleerde Pretorianers ongekend rojaal was. Daar was dinees en danspartye en die sjampanje het ryklik gevloei. Verder het Shepstone leiers probeer oorhaal om anneksasie te aanvaar. Daar was min teenstand. Die 43-jarige Burgers het gely aan ’n ernstige kwaal waaraan hy vier jaar later sou sterf. Weens sy siekte en sy mislukking as staatsman was hy geestelik gebroke. Ook van die ander Transvaalse leiers, op Paul Kruger na, was daar min teenstand. Kruger het Shepstone van die begin af gewantrou.