Transvaalse en Vrystaatse redakteurs

Aanplanting en vernietiging van bome
May 30, 2015
Twee Afrikaanse taalkongresse
June 2, 2015

’n Neef van meneer Johan Koopmans, en huisvriend van die Koopmans De Wet-familie was doktor Frans Vredenrijk Engelenburg. Hy het in 1889 die redakteur van De Volksstem geword en dit met ’n paar onderbrekings gebly tot in 1929. Sy kennismaking met president Kruger was nie alte gelukkig nie. Die president was op sy stoep, en die jong Hollander het, toe hy die trap opstap, met elke tree diep gebuig en sy pluishoed afgehaal en geswaai, soos dit destyds formaliteitshalwe nodig was as mens ’n staatshoof besoek. Toe die besoeker sy derde buiging maak, het Kruger egter gesê: “Man, as jy dit weer doen, slaan ek jou op die kop!” Maar Engelenburg en die President het goeie vriende geword, en Engelenburg het altyd as sy verdediger opgetree. In 1895 het De Volksstem ’n dagblad geword, die eerste Nederlandse dagblad in die land.

’n Groot teenstander van Kruger was Land en Volk onder leiding van J de V Roos en die later bekende digter Eugène Marais. Dié blad het generaal Piet Joubert gesteun. Die blad was anti-Hollander en anti-Jood. So skerp het Marais die regering aangeval dat hy herhaaldelik weens laster gedagvaar is. Een keer het Kruger hom selfs op die openbare galery van die Volksraad laat arresteer op aanklag van hoogverraad en majesteitskennis omdat Marais beweer het dat die president onwettig reiskoste van die staat geëis het. Hy is onskuldig bevind en ontslaan. Marais het die Afrikaanse taalbeweging ondersteun deur aanvanklik dele van die nuus en selfs hoofartikels in Afrikaans te plaas. Sy spelling staan nader aan die huidige Afrikaans as dié van SJ du Toit. Teen die einde van 1891 het Marais egter met Afrikaans opgehou en was Land en Volk weer Hollands.

Die belangrikste Vrystaatse redakteur was ’n gebore Duitser, Carl Borckenhagen, wat om gesondheidsredes na Suid-Afrika gekom en in 1877 redakteur en in 1880 die alleeneienaar van De Express en Oranje Vrijstaatsch Advertentieblad geword het. Hy het die koerant opgebou van ’n sukkelende blad tot die invloedrykste in die Vrystaat. Anders as The Friend het hy die regte en onafhanklikheid van die Vrystaat steeds verdedig. Selde het ’n buitelander die gevoelens van die Afrikaner so goed vertolk. Hy het volhardend gestry teen die verdringing van Hollands deur Engels in staatskantore, stadsraads- en ander vergaderings in Bloemfontein, en die twee grootste skole, Grey kollege en Eunice.

Hoewel Borckenhagen eers teen Afrikaans as skryftaal was, het hy onder invloed van FW Reitz en doktor J Brill van mening verander. Daar was ook goeie samewerking met Die Afrikaanse Patriot veral ná ’n besoek van “Oom Lokomotief”, DF du Toit, aan Bloemfontein in 1881. Die meerderheid lesers was egter teen Afrikaans as skryftaal, sodat De Express maar by Nederlands gebly het. In 1891 het ’n oudpredikant, Nico Hofmeyr, redaksielid geword. Hy was skrywer van Kijkjes in onze geschiedenis, ’n leesboek vir die skool en gesin – waarvan tot in 1921 100 000 eksemplare verkoop is – en daarna verskeie ander boeke oor die Jameson-inval en die Anglo-Boereoorlog. Die volkslied Afrikaners landgenote is ook deur hom geskryf.