Transvaal word moderne staat

’n “Tempel van edele arbeid”
May 21, 2015
“Dit was heerlik om jonk te wees!”
May 23, 2015

Dit was heelwat moeiliker om spoorweë in Transvaal aan te lê as in die Vrystaat. Delagoabaai, tans Maputo, was die hawe naaste aan die Rand, en ’n spoorlyn daarheen sou vir die grootste afstand oor Transvaalse grondgebied loop. Met hul besoek aan Nederland het die deputasie van Kruger, generaal NJ Smit en dominee SJ du Toit in 1884 ’n konsessie toegeken aan ’n Nederlandse groep. Die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij (NZASM) het in 1887 tot stand gekom met ’n werkskapitaal van £200 000 wat in 1895 tot £1 500 000 gestyg het.

Die belangrikste taak van NZASM sou die bou wees van die Oosterlyn, die spoorweg na Delagoabaai. Van moerassige strand moes die roete gaan deur digte bosveld tot by Komatipoort aan die grens, en daarvandaan deur ’n ruie vallei tot aan die voet van die bergreeks wat die lae- van die hoëveld skei. Die werk aan dié deel van die spoor is vertraag, en die eerste lyn wat gebou is, was tussen Johannesburg en Boksburg, bekend as die Randtram. Dis in 1890 geopen en later na Springs en Krugersdorp verleng.

In Mei 1890 het die Nederlandse ingenieurs en arbeiders by Komatipoort met die bou van die Oosterlyn begin. Hulle moes bosse uitkap, brûe bou oor vinnig stromende riviere en spruite en teen steil berghange op. Dit was ’n woeste en wilde wêreld; snags kon die werkers die leeus hoor brul. Talle het gesterf aan malaria. Die verbinding tussen Pretoria en Johannesburg was in 1892 gereed en in 1894 het die werk begin aan Johannesburg-stasie, wat tot meer as ’n eeu lank nog altyd Park-stasie genoem is na ’n vroeëre spoorweghalte. President Kruger het die laaste bout van die Delagoabaailyn op 2 November 1894 ingedraai en die gereelde diens tussen Pretoria en die huidige Maputo het op 1 Januarie 1895 begin.

Die amptelike opening van die Oosterlyn was in Julie 1895. Die goewerneurs van die Kaapkolonie, Natal en Mosambiek het spesiaal na Pretoria gekom. Daarna is die feestelikhede in Delagoabaai voortgesit. Die president is soontoe, vergesel van vooraanstaande Transvalers soos Carolus Tregardt, wat as jong man die Tregardt-trek van die Soutpansberg na die Portugese gebied meegemaak het. As ou man het hy die voorreg gehad om in enkele ure die afstand af te lê wat vir die trekkers maande geduur het. Die ou Voortrekker-ideaal van ’n verbinding met ’n seehawe vry van Britse beheer was verwesenlik. Transvaal het vinnig vooruitgegaan. Omstreeks 1895 was die wit bevolking sowat 245 000, van wie sowat 70 000 uitlanders was, veral Engelse, en die swart bevolking sowat 625 000. Pretoria met sy elektriese ligte en breë strate het ’n blanke bevolking van sowat 6000 gehad, en Johannesburg, ook met elektriese krag en selfs trems, meer as 100 000 mense, van wie die helfte blankes was.

Van 1892 was doktor Nicolaas Mansvelt superintendent van onderwys. Hoewel gebore Nederlander, was hy al lank in Suid-Afrika, sedert 1874 as dosent by Stellenbosch. Onder hom het die onderwys gevorder; in 1899 was daar 17 523 kinders op skool. Daarby was dit op hoë peil – gebaseer op wat in Nederland aan die Christelike skole onderrig is. In die Kolonie en Natal was dit die strewe om die Afrikanerkind van sy volk te vervreem, in Transvaal was dit die strewe van Mansvelt om van die Afrikanerkind ’n nuttige lid van sy volk te laat word, sê GD Scholtz. Die Staatsgimnasium in Pretoria was in standaard en onderwysmetodes sonder gelyke in Suid-Afrika, het ’n Britse onderwysman, Fabian Ware, erken. Mansvelt het heelparty teenstanders gehad – onder andere NG predikante wat bang was vir die Hollandse “modernisme” en bowendien meer Engels wou hê.