Hermann Giliomee: ’n Outobiografie
March 1, 2017
Jan van Riebeeck en die VOC
March 16, 2017

Die ontstaan van Die Stem van Suid-Afrika

deur Danie Langner

Toe die FAK in 1932 ’n kompetisie loods vir sowel die woorde as die musiek van ’n geskikte volkslied vir Suid-Afrika, was dit nie sonder goeie rede nie.

Verstedelike Afrikaners was ontwortel van familie-ondersteuningstelsels, verarm, polities onseker en kultureel minderwaardig. ’n Gemeenskaplike volkslied vir Suid-Afrika kon die wonde van minderwaardigheid heel, kulturele trots kweek en Afrikaans as musiektaal bevestig.

Die kompetisie was ’n direkte gevolg van die Afrikaanse Studentebond wat sedert 1929 begin het om Afrikaanse liedjies met die oog op ’n Afrikaanse liederebundel te versamel. Na AG Visser se ontydige dood op die ouderdom van 50 in die winter van 1929 het die werk tot stilstand geknars. Op versoek van die Afrikaanse Studentebond het die FAK die taak in 1931 oorgeneem. Onder leiding ‘n Duitser, dr. Hugo Gutsche en ’n jong onderwyser van Makwassie, WJ du P Erlank (later bekend as Eitemal) is ’n groot aksie van stapel gestuur om Afrikaanse liedjies te versamel en nuwes te skryf. Wat sou ’n FAK-Sangbundel wees sonder ’n eie volkslied?

’n Belangrike vereiste was dat die volkslied tweetalig en inklussief moes wees. ’n Begeleidende brief by ‘n  inskrywings beklemtoon: The words must be such as will be thoroughly acceptable to both the English-speaking an Afrikaans-speaking citizens of the Union, in which connection even the native and coloured races should not be entirely forgotten.”

Die behoefte het bestaan om die kulturele doodsgreep van kolonialisme af te skud: The subject must be South Africa, an must be South Africa in outlook, sentiment and spirit. They should seek to some extent tot breathe the spirit of the country, and they must certainly be such as will tend to inspire in all citizens of whatever race or age a love for and pride in South Africa, and the impulse to be loyal to their country and to serve it. They must express patriotism without Jingoism.”

Teen 1932, skaars dertig jaar na die Anglo-Boereoorlog, het die bitter wonde nog vlak gelê. Versoening tussen Engelssprekendes en Afrikaners was hoop op die agenda. Lover-of-peace skryf:

“We may be decended from Briton of Boer

But we know were really South Africans.

The struggle for first place inow is o’er

For are we not all South Africans?

South Africa’s the name of our land.

Our people are really just one.”

 

En in ’n ander inskrywing:

Ons praat ’n taal vir vreemdes skraal,

Maar vir ons volk ’n ideaal

Ook hier sal ons vastrap, stryd en plig

Ons nasie voer na voller lig

Waar Boer en Brit mekaar sal gee

Die vriendskapshand aaneen gesmee.

 

Inskrywings  soos dié gee erkenning aan die pyn van die oorlog:

With peace divine for ever

Let there be unity and joy and love.

Each drop of precious blood they shed

Turned into gold the land

Each bitter tear that followed us

To diamonds turn the sand.

And where their footsteps passed along

Let us rejoice our heritage

 

En in ’n ander bydrae:

And never never be annulled the blood that spilled

But to this our Shore it will freedom bore.

For freedom, right and hope they fought and bled

Oft’ when their hope was destroyed, tears they shed

Care-worn they toiled and in firm faith they died

’Twas our birth-right that they sought to provide.

 

Geloof was ’n deurlopende tema in bykans al die inkrywings.

Daar uit Afrika se seewaterstrand

Daar suis ’n stem ons toe

Die Heer wat alles weet regeer

Eer Sy naam alleen.

 

Afrikaners se behoefte om uitdrukking te gee aan hulle kulturele identiteit  was opvallend. Die Groot Trek het in baie inskrywings as ‘n historiese verwysingspunt uitgestaan:

In hul vroom verbeelding wapper

bo die watent hulle vlag

en ieder lees die leuse

by die dagbreek van elke dag

biddend saans, die Trekkers vra

God, vir ons Suid-Afrika

 

Die FAK het vyf-en-vyftig gedigte en veertig toonsettings vir die beoogde volkslied ontvang.

Die meerderheid inskrywings was van Langenhoven se gedig, “Die Stem van Suid-Afrika”, waarvan baie konsep Engelse vertalings van die gedig was. Die belangrikste bydrae in die kategorie is oudpresident FW Reitz se vertaling van Die Stem se eerste strofe:

From the depths of our blue ocean

From the azure of our skies

From our mountains everlasting

Where their lofty summits rise

Where our wilderness lonely with their oxwagons drone

Comes the voice of our dear country

Of South Africa our own

We will give what thou asketh

We will answer to they call

We will live or die for thee

We will render thee our all.

 

Langenhoven se gedig  het veertien jaar vantevore op ’n koue wintersaand in die Klein Karoo ontstaan. Op Vrydag 31 Mei 1918 het CJ Langenhoven soos gewoonlik in die eetkamer van sy woning, Arbeidsgenot, gewerk, terwyl “vroutjie soos gewoonlik aan die een kant van die tafel haar werkies gesit en verrig het.” Op dié wintersaand het daar uit sy pen ’n gedig gevloei wat later bekend sou word as Die Stem van Suid-Afrika.

Aanvanklik het Langenhoven slegs die eerste drie strofes voltooi. Toe die eerste drie verse kort daarna in Die Burger gepubliseer is onder die skuilnaam KRN (Langenhoven se afkorting vir Kerneels), het dit onmiddellik byval gevind. Op versoek van die publiek het Langenhoven ’n vierde vers bygeskryf. Die gedig is in 1921 in, Eerste Skoffies op die pad van Suid-Afrika, gepubliseer.

Langenhoven sy gedig  getoonset, maar dit het nie by die publiek byval gevind nie. ML de Villiers, destyds predikant van NG Gemeente Simonstad, was in Mei 1919 besig om doopseëls te voltooi toe ’n wysie deur sy gedagtes flits. Hy gryp ’n papier en skryf enkele note neer om te verhoed dat hy die wysie vergeet. Later jare vertel hy: “Ek onthou nog goed dat dit een van daardie goddelike dae was waarvoor die Kaap bekend is. Daar sit ek in my studeerkamer in Simonstad. Ek kyk uit oor die blou van onse hemel, oor die diepte van die see – en aan die oorkant van Valsbaai sien ek die pragtige en magtige gebergtes, waar die kranse antwoord gee … Voor my sien ek wat Langenhoven aangevoel het. Ja ineens sien ek dit in een beeld. Die note van my musiek moes opgaan na die blou van onse hemel, en dit moes terug en afkom na die diepte van ons see … en dan antwoord die berge.”

Alhoewel Die Stem soms op ander wysies gesing was, was De Villiers se toonsetting dadelik gewild. Die Stem is aan die einde van die dag se radio-uitsendings saam met God save the Queen gespeel. Op 31 Mei 1928 die eerste keer tydens ’n amptelike staatsgeleentheid gesing.

Langenhoven is onverwags in 1932 oorlede. Hy het nie beleef hoe sy gedig die amptelike Stem van Suid-Afrika sou word nie. Eers in 1936, vier jaar na sy dood, is die gedig van Langenhoven en die toonsetting van ML de Villiers eenparig deur die FAK-keurkomitee as volkslied aanvaar. Van die ander inskrywings is opgeneem in die eerste FAK-Volksangbundel, byvoorbeeld Waar Tafelberg begin en AG Visser se gedig Land, volk en taal. Die naaswenner, Uit die chaos van die eeue, pas woordeliks op die wysie van Die Stem.

Die keuse is deur sowel Engelssprekendes en Afrikaanssprekendes verwelkom. Dr. DF Malan het die betekenis van Die Stem so verduidelik: “Gelukkig het Suid-Afrika ’n Langenhoven te voorskyn gebring en kan die Suid-Afrikaanse volk in hul gemeenskaplike vaderlandsliefde hul eenheid vind ten spyte van hul tweeheid. Dit kan so gebeur: Daar is ’n stem … Dit is geen stem van hierdie of daardie bepaalde persoon of groep nie, en komende uit hierdie of daardie bepaalde aard nie. Dit is die Stem van Suid-Afrika!”

Die FAK het sedert 1936 Die Stem as ’n kultuurlied vir Afrikaners hanteer. Gaandeweg het Die Stem onder Engelssprekendes in gewildheid toegeneem. In 1952 is ’n formele Engelse vertaling gefinaliseer en vyf jaar later, in 1957, het Die Stem die amptelike volksliedlied van Suid-Afrika geword. Op 11 Junie 1957 het die FAK die outeursreg aan die regering oorgedra. By dié geleentheid was Langenhoven se dogter Engela Brummer, haar gesin, en sy beste vriendin Sarah Goldblatt. Die regering was verteenwoordig deur CR Swart, TE Dönges en Premier JG Strijdom.

Na 1994 het Die Stem sy amptelike status as amptelike lied behou. Tydens amptelike geleenthede is die eerste strofe saam met Nkosi Sikelel’ iAfrika gesing. In 1995 is Die Stem deur ’n swart koor tydens die Rugbywêreldbeker se eindwedstryd gesing.

In 1997, met die aanvaarding van die nuwe grondwet is Nkosi Sikelel’ iAfrika en Die Stem tot een nasionale lied saamgevoeg.

Dit is ongelukkig so dat Die Stem van Suid-Afrika vandag deur sommige gekaap word vir politieke oogmerke. Ander beskou Die Stem slegs as ’n simbool van die apartheidstaat. Die feit  is dat Die Stem meer as enige ander Suid-Afrikaanse lied ’n rol gespeel het om ’n brug tussen groepe te help bou. Eers tussen Afrikaners en Engelssprekendes in die dertigerjare en na 1994, tussen swart en wit.

Vir Afrikaners bly dit ’n kosbare kultuurlied wat vir 99 jaar die verhaal vertel van die ontwikkeling van Afrikaans en hulle  kulturele identiteit. Die lied vertolk soos min ander liedere Afrikaners se liefde vir die land met sy berge en vlaktes. DJ Opperman was reg toe hy in 1973 na ’n fyn analise Die Stem as ’n “statige eedaflegging en gebed van die Afrikaanse volk” beskryf.

Vanjaar, sestig jaar gelede, het die FAK die kopiereg van Die Stem aan die regering toevertrou. Miskien het dit tyd geword dat die regering die kopiereg van Die Stem terugskenk aan die FAK. So kan Die Stem vry word van politieke misbruik en as kultuurlied vir nog ’n eeu eggo tot waar die kranse antwoord gee.