Tolhuis, Garciapas, Riversdal

Langenhoven se Geboortehuis, Hoeko, Ladismith (Geen toegang)
June 27, 2018
Huis op Zeekoegat, Riversdal (Geen toegang)
June 27, 2018

In die ontwikkeling van die padvervoer is tolhuise en tollenaars nie slegs ’n baie ou gebruik nie maar ’n universele. So ook het die tolstelsel in ons eie land ’n belangrike rol gespeel. In byna elkeen van ons bergpasse was daar ’n tolhuis waar alle gebruikers van die pas tol moes betaal. Die gelde is dan aangewend om die passe in stand te hou. Met die afskaffing van die stelsel het die meeste van die ou tolhuise in verval geraak òf hulle staan in die weg van moderne pad-aanleg en is gedoem om gesloop te word. Om egter te verhoed dat alle sigbare tekens van ’n ou stelsel, waaromheen daar soveel geskiedenis geweef is, uitgewis word, is die tolhuis bo-op Garciapas tot ’n gedenkwaardigheid verklaar.

Die pad van Riversdal na Ladismith loop met hierdie minder bekende maar hoogs skilderagtige pas oor die Langeberge. Dit is genoem na die destydse Siviele Kommissaris van Riversdal, A.H. Garcia. In die jare sestig van die 19de eeu het hy die noodsaaklikheid van ’n direkte roete van Riversdal na Ladismith besef en het self die moontlikheid van ’n pad deur die berge gaan ondersoek. Te perd het hy die loop van die Kafferkuilsrivier gevolg en gevind dat ’n pad deur die berge wel moontlik is. Met die hulp van bandiete het hy dus ’n voetpad deur die berge laat maak. Dit het in algemene gebruik deur perderuiters gekom en weldra het die inwoners vir ’n behoorlike pad deur die berge begin agiteer. In 1872 het die Kaapse Parlement dus besluit dat Garciapas met bandiete-arbeid gebou sou word. Die volgende jaar het die beroemde pad-ingenieur, Thomas Bain, die pas uitgemeet en bandiete het met die bou daarvan begin. Weens gebrek aan behoorlike toesig, arbeid en geld het die werk baie stadig gevorder sodat die pas eers op 31 Desember 1877 vir verkeer oopgestel kon word.

Voor die tyd is voorsiening gemaak vir ’n tolhuis bo-op die kruin van die pas, ongeveer 19 kilometer van Riversdal, en dit is op 1 November 1877 betrek. Jare lank is hierdie tolhuis gebruik, maar in 1910 toe sy dak afgewaai het, is dit op die ou fondament herbou. Volgens die notule van die Afdelingsraad van Riversdal sou die tolhuis herbou word tot ’n woonhuis, 6 m x 14 m, met twee slaapkamers, ’n eetkamer en ’n kombuis. Die notule spesifiseer verder die grootte van die deure en vensters asook die materiaal wat vir die gebou gebruik moes word. Die mure sou van klip en bakstene wees, van binne met klei en van buite met kalk en sand afgepleister. Die staandak met gewels sou van sink wees en sou op populierbalke rus.

Hierdie gebou is as tolhuis tot 1918 gebruik toe die tolhek om middernag op 31 Desember afgeskaf is. Graag sou ’n mens meer wou weet van die tolwagters wat hier vir vyftig jaar die tolgelde ingesamel het. Die man wat hierdie betrekking waarskynlik vir die grootste gedeelte van die bestaan van die tolhek vervul het, was Jimmy Luyt. In die jare 1905 en 1906 is daar sprake van Daniel Christiaan Luyt, terwyl Jan Swart as die laaste tollenaar genoem word.

Hierdie ou tolhuis, geleë binne die KristalkloofBosboureservaat, is tans nog in ’n baie goeie toestand van bewaring en staan as ’t ware op ’n eiland tussen die ou pad wat daar vóór en die nuwe pad wat daar agter verbyloop. Voor die gebou staan ’n paar groot ou sipresbome en in die onmiddellike omgewing etlike skaduryke eikebome wat aan hierdie ou historiese plek ’n besondere aantreklikheid verleen.

(Geproklameer 1968)

 

J Dekenah • Die Tolhuis, Garciapas

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 119-120.