(Soos verskyn in Historia Junior, Januarie 1958)
Op die traktaat wat tussen Dingaan en Retief aangegaan is, verskyn die handtekening van een van Retief se adjudante as getuie vir die oordrag van ’n groot deel van Natal aan die Trekkers. Hierdie naamtekening is dié van Marthinus Oosthuizen. Hy was die vader van Marthinus Jacobus Oosthuizen (Tienie) van wie ons nou wil vertel. Tienie se twee broers Barend en Johannes, was saam met hul vader na Dingaan se stat. Hulle is aldrie daar vermoor op 6 Februarie 1838. Oorspronklik sou die jonge Tienie en sy twee broers saam met Retief na Dingaan gegaan het, maar deur onbekende omstandighede het die vader in Tienie se plek saamgegaan.
Tienie het dus by die Trek agtergebly om na die vee om te sien en die gesin by te staan. Hy moes intussen ook die trek gereed maak om by sy vader en broers se terugkoms, na hul plase te trek wat hulle reeds in die oog gehad het. Hulle waens het saam met die van ander Trekkers nie ver ten suide van die huidige Estcourt gestaan nie. Oos van hulle het die laertjie van Hans van Rensburg en sy mense gestaan in die nabyheid van die teenswoordige Willowgrange, suid van Estcourt.
Die oggend na die moord op Retief en sy manne het Dingaan duisende van sy swart soldate uitgestuur na die Drakensberge om die Trekkers daar te oorrompel. Vroeg die môre van 17 Februarie 1838 het die Zoeloes vanuit die ooste al die laers aangeval, langs die Bloukrans- en Boesmansrivier oor ’n front van ongeveer 18 myl. Voordat die Zoeloes die laer van Rudolph en Maritz bereik het, het hierdie Trekkers berig ontvang van die aanstormende en moordende barbare. Daar is dadelik laergetrek om gereed te wees vir die aanvallers. Daarna het die jonge Tiens Oosthuizen sy swart perd bestyg om die aanrukkende vyand te stuit. Saam met hom was Jacob Naude en Abram de Beer. Die drie jaag in die rigting van die laer van die Van Rensburgers en stuit baie gou op die Zoeloes. By die waens was niemand nie en hulle gewaar die mense op ’n koppie ’n end daarvandaan. Al skietende het Tienie en sy maats nader aan die koppie gekom waar die Van Rensburgers saamgetrek het om hulle te verdedig. Aan die een kant van die koppie was ’n onbegaanbare krans sodat die 14 man en die vrouens in ’n halfmaanformasie stelling ingeneem het. Hulle waens was reeds in die hande van die Zoeloes.
Tienie en sy maats het skielik gemerk dat die skietery vanuit die koppie bedaar. Wat sou gebeur het? Daar hoor hulle iemand skreeu. Dit is Hans van Rensburg. Wat wil hy beduie? Tienie spring op sy perd en kom binne hoorbare afstand van die man. “Ons kruit en lood is op,” skreeu Hans van Rensburg vir hom en terwyl hy na die kant van die waens toe wys, vervolg hy: “Julle moet probeer om vir ons kruit en lood te gaan haal. Voor op een van die waens is daar genoeg.” Onmiddellik ruk Tienie sy perd om en jaag af na die waens. Die Zoeloes was nie vir so ’n blitsvinnige optrede gereed nie en kon nie verhinder dat die Boereseun die waens bereik nie. By die eerste wa laat Tienie sommer sy perd oor die disselboom staan terwyl hy die voorkis oopruk. Hy neem soveel sakkies kruit en lood as wat hy kan behartig en gooi sy geweer oor sy skouer. Die volgende oomblik storm hy met sy swart perd oor die gelykte na die koppie. Intussen het die Zoeloes stelling ingeneem voor in sy pad. Die manne op die koppie en die onder Sarel Celliers wat ook nou opdaag, skiet die vyand egter so kwaai dat hulle Tienie nie kan stuit nie. Die mense op die koppie bid dat die jong man tog moet deurkom. Die Zoeloes gooi assegaaie na hom, maar hulle bereik hom nie.
Voordat hy die opdraand na die koppie bereik moet hy oor ’n spruitjie. Dit was Februarie en deur die aanhoudende reëns was die walle van die sloot reg voor hom baie gevaarlik glad. Vanaf die koppie skreeu en beduie Van Rensburg dat hy meer links moer stuur. Hy swenk weg in sy vaart en voordat die Zoeloes in die sloot hulle kans kry om hom te tref, was die swart perd met ruiter en al oor en jaag hulle deur die laaste gevaar. Veilig bereik Tienie die van Rensburgers waar die vroumense hom uit dankbaarheid om die hals val.
Die Zoeloes kon nou nie weerstand teen die kruisvuur bied nie. Hulle neem die wyk in ’n oostelike rigting. Nie een van die Van Rensburgers is gedood nie. Tussen die waens en die koppie het baie dooie Zoeloes gelê, ook Masendata hulle aanvoerder.
Die onverskrokke optrede van Tienie Oosthuizen is een van die heldedade wat ons nie mag vergeet nie. As mens met die nasionale pad tussen Mooirivier en Estcourt ry, gaan jy nie ver van die historiese Van Rensburgkoppie verby nie. Terwyl jy daar staan, herleef die gebeure van meer as honderd jaar gelede weer en in jou gees sien jy die onverskrokke held voortjaag deur die skreeuende barbare.
Tienie Oosthuizen het lank in Natal gewoon. Hy is op 2 April 1897 op sy plaas “Enon”, aan die Klein Tugela, oorlede. Sy lewe was een van heldhaftige stryd teen die vyande van sy mense. Net soos sy vader was hy ’n kenner en liefhebber van goeie perde en het in Natal ’n perderas geteel wat oral bekend was. Hoewel hy as Nataller ’n Britse onderdaan was, het hy gedurende die Anglo-Boereoorlog die vegtende Transvalers kosteloos van perde voorsien.
Tydens die Jameson-inval het die ou Afrikaner se bloed weer gekook. Hy het na Estcourt gery en daar ’n kis Martini-Henri-patrone gekoop en huis toe gebring. Die ou geweer is voor ’n dag gehaal en skoongemaak. “Mens kan nooit weet waarvoor dit goed is nie,” het hy gesê. “As hulle hier kom is ek gereed en sal my volk help tot die laaste toe.”
Tienie Oosthuizen was stryder en held tot die einde toe.