Tielman Roos – Vergete “Leeu van die Noorde”

Meerhoffkasteel – Historiese heuwel in die Hardeveld
February 5, 2019
Droomvrou
February 6, 2019

’n Honderde jaar gelede, enkele maande nadat die Britse leërs in Natal onder lord Chelmsford ’n vernietigende neerlaag by Isandlwana teen ’n Zoeloemag van bykans 24 000 op die lyf geloop het, is ’n seuntjie op 8 Mei in Kaapstad gebore. Sy ouers was beskeie mense: die vader klerk by die Eksekuteurskamer, ’n stillerige man wat hom nie juis in die openbaar laat geld het nie; die moeder ’n sorgsame, godsdienstige vrou.

Hierdie seuntjie is Tielman Johannes de Villiers Roos gedoop en hy was bestem om vier, vyf dekades later sy stempel duidelik op die Suid-Afrikaanse politiek af te druk – al het die stempel met verloop van tyd al dowwer geword.

In die rustige Kaap, onder die Britse vlag, het die jong seun opgegroei en saam met sy broer en suster in ’n groot tuin in Belle Ombreweg, Tamboerskloof, baljaar. ’n Regte terggees was dié Tielman, ’n mannetjie vol lewenslus met ’n besondere liefde vir krieket. Hy het skoolgegaan by die Normal College Model School in Roelandstraat en daarna by die tradisieryke SACS. Vervolgens was dit die South African College, tans die Universiteit van Kaapstad; ’n BA en daarna ’n LLB. Die jong student was toe reeds lus vir debatteer en in sy derde jaar was hy president van die universiteit se debatsvereniging. Saam met hom in die klas was die latere appèlregter, William Pittman, ’n voortreflike student. Hoewel Roos nooit akademies besonder uitgeblink het nie, het hy redelik maklik in sy kursusse geslaag en toe sy leertyd by die prokureursfirma Van Zyl en Buissine uitgedien. In April 1902 is hy as advokaat in die Kaapse Hooggeregshof toegelaat, hoewel hy uiteindelik nooit daar gepraktiseer het nie.

Waarom het Tielman Roos dan juis Transvaal toe gegaan? Het hy dan toentertyd reeds sy tande vir Botha en Smuts geslyp? Gewis nie. Nee, dit was sy bekende oom, Jimmy Roos, later kontroleur- en ouditeurgeneraal van die Unie, wat die jong Tielman oorgehaal het om by sy destydse prokureursfirma in Pretoria te gaan aansluit. Roos het gegaan maar nie lank vertoef nie. Hy het kort daarna registrateur van regter Curlewis geword, toe ’n rukkie op Middelburg, Transvaal, as prokureur gepraktiseer voordat hy finaal na Pretoria teruggekeer het, dié keer as advokaat.

In die hoofstad maak hy kennis met jong manne soos Hjalmar Reitz, Charles te Water, Harm Oost en ’n paar ander – ’n klompie ‘Jong Turke’ wat nie veel erg aan genl. Louis Botha se Het Volk-party gehad het nie. In 1909 het dié kêrels selfs so ver gegaan om die unifikasiewetsontwerp te kritiseer by wyse van ’n protesskrif – en Roos neem hierin die voortou! Hulle voel Transvaal is veronreg: dié provinsie moet minstens gelyke verteenwoordiging met die Kaapprovinsie in die beoogde Wetgewende Vergadering hê; Pretoria moet die enigste hoofstad in die Unie wees en elke provinsie se inkomste uit die staatskas moet proporsioneel volgens sy bydrae geskied; Transvaal moet dus die meeste ontvang. Veel indruk het hulle protesskrif nie gemaak nie, maar Botha en Smuts sou voortaan meer hoor van die jong advokaat uit die Kaap.

Foto: Tielman Roos was ’n gunsteling onder die spotprenttekenaars. Só het ‘Quip’ van The Star hom voorgestel. (Uit: ‘Quip’: Tielman (Johannesburg, 1925)

Intussen het Tielman Roos begin naam maak as advokaat. Aan die teorie van die regspraak het hy hom nie veel gesteur nie, maar in die hof was hy dodelik, veral met kruisverhoor. In Pretoria was hy gelukkig en hy en sy eerste vrou, Christina Enslin, wat op 27 Junie 1908 in die Transvaalse hoofstad getroud is, het ’n gerieflike huis op die hoek van Celliers- en Walkerstraat in Sunnyside betrek. In Oktober 1911 is Roos ook tot stadsraadslid verkies, maar om een of ander rede kon hy raadsvergaderings glad nie gereeld bywoon nie en op 6 Desember die volgende jaar het hy sy bedanking ingedien.

Dit was maar die begin van groot dinge. Teen die helfte van Desember 1912 word genl. Hertzog uit die Botha-kabinet gesit vanweë sy ‘Suid-Afrika eerste’-uitlatinge. Vier dae later reël Roos, Harm Oost, Hjalmar Reitz, HS Webb en ’n paar ander vurige Hertzog-ondersteuners ’n huldigingsbyeenkoms vir die Generaal op Prinsepark. Dis ’n haastig-georganiseerde byeenkoms, maar die mense stroom op 28 Desember soontoe en Tielman Roos en die vermaarde genl. Christiaan de Wet spreek die skare van ’n mishoop af toe. Dit was die begin van die Nasionale Party, want hoewel Roos en ander Transvalers gemeen het Botha en Smuts is nog te sterk in Transvaal om ’n nuwe party teen hulle te stig, wou die Vrystaters nie wag nie. Toe dit duidelik was dat Botha en Hertzog nie versoen sou raak nie, is die Nasionale Party eers in die Vrystaat en daarna in Transvaal en uiteindelik ook in die twee ander provinsies gestig. Roos kon die Transvaalse stigtingskongres nie bywoon nie omdat hy weens ’n motorongeluk in die hospitaal was en Piet Grobler is as eerste leier van die Party in Transvaal gekies. Toe Grobler kort daarna rebelleer en in die tronk beland, het Roos by hom oorgeneem. Dit was die begin van ’n lang verbintenis met die Nasionale Party van Transvaal.

Volstoom het hy die magtige Botha-Smuts-kombinasie die stryd aangesê en skitterende sukses behaal. Sy gesette figuur, groot bleskop en vonkelende oë het spoedig ’n bekende verskynsel in die Suid-Afrikaanse politiek geword. In 1915 word hy vir die eerste keer Volksraad toe gestuur as lid van Lichtenburg. Hy verafsku lang volksraadsdebatte, en woon hulle ongereeld by, maar op die politieke verhoog blink hy uit. Sy kwinkslae is feitlik ongeëwenaard en met lastige vraestellers het hy sonder seremonie klaargespeel. By geleentheid wou ’n moedswillige kêrel weet: ‘Mr Roos is it true that you are called the Lion of the North?’ Roos het geantwoord dat die koerante hom soms so noem. ‘Well it’s rather strange, but I’ve never seen a lion with such a paunch,’ was die vraesteller se kommentaar. Die laaste hou sou egter van Roos kom: ‘Well, I’ve never in my life seen a donkey with such small ears.’ Op ’n ander keer het ’n ou grysaard gevra wat die Pakt-regering van plan was om te doen in verband met ouderdomspensioene. Roos, toe reeds Minister, het ’n rooskleurige prentjie geskilder en dankbaar het die bejaarde geknik en gaan sit. Teenoor die persmanne in sy nabyheid het Roos droog opgemerk: ‘Ek weet nie waaroor die oubaas hom bekommer nie. Nóg hy nóg ek sal dáárdie dag beleef.’

Veral die oorlogsbeleid gedurende 1914-18 van die Suid-Afrikaanse Party het deurgeloop onder Roos se skerp tong en dit het stadig maar seker gelyk asof die regerende party sy eens oorweldigende invloed in Transvaal begin verloor. Roos het sy politieke vernuf duidelik onderstreep toe hy Lloyd George en Woodrow Wilson se aandrang op herstel van geskonde regte van klein nasies vóór die Versailles-vrede met albei hande aangegryp het. Dadelik het die Transvaalse Nasionaliste ’n manifes opgestel wat die onafhanklikheid van die voormalige Boererepublieke terugvra. Die Goewerneur-generaal moes dit aan die Britse regering voorlê en hoewel die antwoord, soos te verwag was, nee was, het Roos ’n vuur aan die brand gesteek wat dwarsoor die land gevlam het. Oral, selfs in Kaapland, waar geen republikeinse tradisie gewortel was nie, was Afrikaners geesdriftig oor onafhanklikheid. Kongresse is belê en die uiteinde was die onvergeetlike Vryheidsdeputasie in 1919 na Europa om vir die onafhanklikheid van die Vrystaat en Transvaal te gaan pleit. Van hierdie sending – hoewel nie geslaagd nie – was Tielman Roos die argitek.

Sonder ophou het hy Louis Botha en Jan Smuts geteister. Sy verwysing na die griep van 1918 as die ‘kakiepes’ het ’n opskudding in die Engelse pers sowel as die Volksraad veroorsaak. Maar hy het hom nie in die minste laat afskrik nie; die 1920-verkiesing was op hande en dit was dié geleentheid om die Suid-Afrikaanse Party ’n geniepsige slag toe te dien. Smuts kon inderdaad ná die verkiesing nie meer op eie stroom regeer nie en was verplig om met die Unioniste saam te smelt.

Dit was goeie jare vir Roos. ’n Terugslag het hom weliswaar in 1920 getref toe hy sy eggenote verloor het, maar ’n aanvallige Vrystaatse musiekonderwyseres, Bettie van Reenen, het ’n klompie maande later sy hart verower en hulle is in 1921 getroud. Ten spyte van die groot ouderdomsverskil – hy twee-en-veertig en sy vier-en-twintig – was hulle doodgelukkig. Roos was ’n wonderlike eggenoot wat sy vrou en kinders op die hande gedra het. In 1922 het hy ook senior advokaat (K.C.) geword en in dieselfde jaar het minister NJ de Wet hom ’n regterskap aangebied, wat hy onmiddellik van die hand gewys het.

Foto: Roos was bekend as ’n uitmuntende spreker. Hier is hy aan die woord tydens die hoeksteenlegging van die polisie-kaserne op Caledonplein, Kaapstad, op 21 Mei 1928 (Die Burger)

Die uitslag van die 1921-verkiesing was vir Roos ’n groot teleurstelling, want Smuts het met die hulp van die Unioniste nou ’n stewige meerderheid in die parlement gehad. Roos het hard gewerk in die verkiesingsveldtog: meer as ’n duisend myl per motor afgelê om vergaderings te hou en boonop nog een aand papnat gereën op pad na Johannesburg – volgens sy vrou dié gebeurtenis wat aanleiding gegee het tot sy lastige nierkwaal. En tog, al het die Nasionalisme ’n terugslag gekry in hierdie verkiesing, was dit bloot tydelik. ’n Jaar later vind op die Witwatersrand ’n gebeurtenis plaas wat Roos ’n geruime tyd vantevore voorsien het: ’n reuse-staking van mynwerkers. Weer sien hy die geleentheid om voordeel daaruit te trek. Hy raai Nasionaliste en Arbeiders aan om die probleme aan die regering oor te laat en om dan later by die stembus met Smuts af te reken. Na ’n aanvanklik vreedsame betoog ontaard die gebeurtenis in ’n bloedbad wat eers beëindig word nadat die Eerste Minister persoonlik ingryp en die stakers met geweld onderwerp. By geleentheid het Roos sonder sukses gepoog om as bemiddelaar op te tree; maar belangriker nog: voor en gedurende die staking het hy openlik gemeen die land sou baat by ’n bondgenootskap tussen die ‘werker’ en die ‘boer’ –  bedoelende die Arbeiders en die Nasionaliste. Agter die skerms het hy daad by die woord gevoeg en Arbeiderleiers oor samewerking gepols en dit het gelei tot ’n openlike ooreenkoms tussen kol. Creswell en genl. Hertzog. In die volgende algemene verkiesing sou hulle saamwerk op voorwaarde dat die Nasionaliste hulle republikeinse propaganda ter syde stel en die Arbeiders formele sosialisme uit hulle grondwet verwyder.

Roos se aanvoorwerk is met sukses bekroon en die ‘Pakt’ het in 1924 aan die bewind gekom. In die Hertzog-kabinet was Tielman Roos Minister van Justisie en nie-amptelik Adjunk-premier. Sy nuwe verpligtinge het beteken dat hy sy praktyk as advokaat moes tot niet maak en ’n groot inkomste verruil vir ’n ministeriële salaris van £2 500 per jaar. Selfs sy groot motor moes hy later verkoop omdat hy finansieel noustrop getrek het.

As kabinetsminister was hy onortodoks, selfs onvoorspelbaar. Sy kollega Tommy Boydell vertel dat Roos skokkend ongeërg oor administratiewe sake was. Normaalweg, het hy Boydell verseker, beantwoord hy nie briewe nie; in die meeste gevalle beantwoord hulle hulself – as jy net lank genoeg wag! By geleentheid het Roos glo ’n amptelike besoek êrens in Oos-Transvaal afgelê en moeg een winternamiddag by ’n plattelandse hotel aangekom. Dáár het ’n kêrel in die sitkamer die geselskap feitlik oorheers, met verskeie verwysings na sy eie belangrikheid. Belangstellend vra Roos die man toe hoe hy ’n bestaan voer. ‘I am a Special Justice of the Peace,’ antwoord die man en vra toe sommer wie Roos was. ‘Oh, me? I’m the damn fool who appointed you,’ het die antwoord vinnig gekom – en dit was toe ook die einde van die kêrel se grootpratery!

Ernstiger van aard was Roos se minder goeie verhoudinge met ’n aantal kabinetskollegas. Vir dr. DF Malan het hy net nie tyd gehad nie. Op ’n dag het Hans van Rensburg – die latere Ossewa-Brandwag-leier – en destyds Roos se privaatsekretaris – die blaps begaan om ’n brief wat vir dr. Malan bedoel was en per abuis by Justisie beland het, net so met Roos se nota bo-aan na Doktor te stuur. Roos se instruksie aan sy privaatsekretaris het gelui: ‘Stuur dit vir die ou sukkelaar.’ Van Rensburg het die ergste verwag en toe met bewende broekspype die flater aan Roos rapporteer. Dié het ’n rukkie stilgebly en toe lakoniek geantwoord dat dit tyd is dat sy kollega besef hy is ’n sukkelaar. Met kol. Creswell, wat die portefeulje Verdediging saam met Arbeid behartig het, het Roos net so ’n potjie geloop. In September 1923 het hy naamlik op ’n vergadering ’n heftige aanval op die Transvaal Scottish Regiment geloods. Hierdie manne, het hy gesê, was bekend daarvoor dat hulle tydens die staking van 1922 mense geskiet het wat uit hulle huise probeer vlug het. Verder meen hy dis ’n skande dat ’n Suid-Afrikaanse korps homself die naam van ’n ander land gee. Hoe sal dit klink as jy in Duitsland ’n regiment die Berlynse Vrystaters noem? As hy Minister van Verdediging was, sou hy dié regiment dadelik ontbind het. Die herrie was natuurlik los, want Creswell sou moes verantwoording doen teenoor bevelvoerders van regimente; hy sou moes aandui of hy hom met Roos se uitsprake vereenselwig al dan nie.

Foto: Gesellige oomblikke met ’n klompie kollegas en kennisse. Die aankoms van die Prins van Wallis in Kaapstad in 1925 word afgewag. Saam met Roos (heel regs), verskyn o.a. drie kabinetskollegas, Tommy Boydell (tweede van links), kol. FHP Creswell (regs van Boydell) en Piet Grobler (langs Roos). Op die agtergrond (links) staan dr. EG Jansen, destydse Speaker van die Volksraad (Sentrale Argiefbewaarplek)

Boonop het Tielman Roos kabinetsvergaderings nie so stiptelik bygewoon soos wat genl. Hertzog graag sou wou hê nie. Dit het die Generaal hoegenaamd nie aangestaan nie, veral omdat hy daarvan bewus was dat Roos soms verklarings namens homself gemaak het. Verhoudings tussen Hertzog en Roos was ook nie meer na wense nie en by geleentheid, in Junie 1925, het Roos aan sy vrou geskryf: ‘Hertzog’s declarations and explanations are as clear as mud.’ Maar dit was steeds met dr. Malan wat hy die meeste haaks was. Toe Iaasgenoemde in 1926 ’n eie vlag vir die Unie in die vooruitsig gestel het en die pro-Britse gevoelens geblyk het te sterk te wees vir so iets, het Roos weer sy neus in die saak gesteek. Hý was die man wat die sogenaamde ‘tweestokidee’ die sterkste onder Nasionaliste gepropageer het – die Union Jack sowel as ’n eie vlag. Ten einde laaste het hy selfs die Goewerneur-generaal ingeroep toe dit gelyk het asof die partye nie tot ’n ooreenkoms kon kom nie. Aan ’n vriend het hy agterna geskryf: ‘As hy (dr. Malan) dit alleen reg sou kon kry, sou ek nie my mond oopgemaak het nie.’

In die tweede helfte van die twintigerjare het sy onrustige brein al weer ’n nuwe idee begin vorm: een groot party. Na die Balfourverklaring het hy gemeen Suid-Afrika se konstitusionele probleme is nou opgeklaar en Afrikaner en Engelsman kan nou net sowel mekaar die hand reik en een sentrale party vorm. JH (Kleinjan) Hofmeyr het destyds dié idee gesteun, maar dit het spoedig geblyk dat nie veel Nasionaliste of Sappe geesdriftig hieroor voel nie. Party-verskille was nog te skerp. Boonop het dit algaande duidelik geword dat die opposisie nie genl. Hertzog se Nie-blanke wetsontwerpe sou steun nie en Roos het uit loutere verergdheid aangekondig dat die Nasionaliste in 1929 met dié saak stembus toe sou gaan. En dit was ook so: ‘Stem Wit’ het die verkiesingsmotto van die Nasionaliste in die verkiesing geword.

Roos self het geen deel aan die verkiesingstryd gehad nie, want weens gesondheidsredes is hy in Februarie 1929 na Duitsland vir mediese behandeling. Sonder dat hy ’n enkele vergadering gehou het, is hy in ’n tradisionele Sap-kiesafdeling, Bethal, verkies, maar in Junie het hy Hertzog laat weet dat hy uit die kabinet tree. Vir die Generaal was dit sekerlik ’n verligting om van die opportunistiese Roos ontslae te wees, al het dié man meer as vyftien jaar lank die Transvaalse Nasionale Party tot groot hoogtes gelei. In ’n kabinet was hy ’n lastige kalant.

Foto: ’n Minder aangename oomblik. Roos, mev. Roos en kol. IP de Villiers, Kommissaris van Polisie, op die dek van die Toledo kort voor Roos se vertrek na Europa vir mediese behandeling in Februarie 1929 (Die Burger)

Op 18 November 1929 is Roos as appèlregter ingesweer en hoewel sy lewe hierna sommer heelwat rustiger was, sou die regbank vir hom op die duur geen bevrediging inhou nie; daarvoor het die politiek te sterk in sy are gevloei. Miskien minder bekend is die feit dat Roos in 1930 tot die eerste kanselier van die Universiteit van Pretoria verkies is, ’n amp wat hy ’n rapsie meer as twee jaar beklee het.

Onder die oppervlak het dit bly gis. Roos het steeds geglo dat ’n groot ‘middelparty’ Suid-Afrika se toekomstige vraagstukke soos die Nie-blanke vraagstuk die beste kon hanteer. Hofmeyr was dit met hom eens en het die saak juis aangeroer toe Roos siek in Duitsland gelê het in 1929. Intussen het die regerende Nasionale Party sedert Oktober 1929 met groeiende probleme te doen gehad: ’n depressie en ’n droogte en alles wat daarmee gepaard gaan. In September 1931 het Engeland die goudstandaard verlaat en groot druk is deur die opposisie en mynbase op die regering uitgeoefen om dié voorbeeld te volg. Hertzog en Havenga het vasgestaan: Suid-Afrika bly op die goudstandaard.

Gerugte het nou ook die ronde begin doen dat Roos planne het om na die aktiewe politiek terug te keer. Hy het natuurlik al hierdie fluisteringe ontken en selfs sy vriend en opvolger in die kabinet, Oswald Pirow, in die duister gehou. Van één ding was Roos in ieder geval seker: genl. Hertzog sou hom nooit weer in sy kabinet opneem nie. Die Generaal het trouens by verskeie geleenthede persoonlik Nasionaliste teen Roos gewaarsku.

Met die regerende party se steun op ’n laagwatermerk het Tielman Roos toe op Geloftedag 1932 alle onsekerheid oor sy toekomsplanne uit die weg geruim en in ’n toespraak by Haakboslaagte, naby Lichtenburg, te kenne gegee dat hy terugkeer politiek toe. Van toe af het dit gegons in politieke kringe; almal wou weet waar Roos staan en wat hy beoog. Self het hy nie lank getalm om te laat weet waarvoor hy staan nie: koalisie is nodig en devaluasie nog nodiger. Op 28 Desember 1932 het hy ’n ontsaglike byeenkoms in die Johannesburgse stadsaal toegespreek. Vyfduisend mense het elke sitplek gevul en buite het nog vyfduisend saamgedrom. Mense het by ingange baklei om te probeer inkom. Op die verhoog was nogal ’n mooi klompie Volksraadslede: mense soos dr. Hjalmar Reitz (voorsitter van die vergadering), genl. JJ Pienaar, Gideon Brits, Henry Moll, Bertie van Hees en Sarel Alberts. Blykbaar sou van dié manne bereid wees om Roos te volg indien hy die regte taal praat. Hy het dan ook die gehoor verseker dat hy as Nasionalis na die politiek terugkeer, maar dat dit tyd is dat die politieke partye begin saamwerk en dat die regering se nywerheidsbeleid drastiese hersiening nodig het.

Roos se ‘inplonsing in die politieke visdam’, soos ’n Afrikaanse koerant dit later genoem het, het soos te verwagte verreikende gevolge gehad: binne veertien dae het die Hertzog-regering van die goudstandaard afgestap terwyl die Nasionale Party-kongresse Roos se optrede afgekeur het – wel wetende dat hy die regering tot ’n val kon bring. Die groot probleem vir hulle was dat hy die magsewewig in die Volksraad in sy hande gehad het: sy sowat twaalf ondersteuners kon die skaal na enige kant laat swaai.

Van één feit was Tielman Roos seker: Hertzog het verseg om met hom te onderhandel. Dus nou die ander alternatief, naamlik om met genl. Smuts te onderhandel. Op 10 Januarie 1933 begin hy met Louis Esselen en Jan Hofmeyr, Smuts se verteenwoordigers, beraadslaag. Sy voorwaardes is ’n koalisie-regering bestaande uit vyf Nasionaliste, vyf Sappe en ’n Arbeider, met ’n Nasionalis as Eerste Minister. Hoewel hy dit nooit direk gesê het nie, het die Sap-afvaardiging aanvaar dat hyself die Premier sou wees. Die Smuts-manne het vasgeskop: hul hoofleier moes Premier wees en Roos kon dan Adjunk-premier wees met nog drie ondersteuners in die kabinet. Hierdie samesprekings misluk en toe die Sap-koukus op 27, 28 en 31 Januarie weer die moontlikheid van ’n ooreenkoms bespreek het, het Smuts finaal samewerking met Roos verwerp.

Roos is dikwels later van eersug beskuldig omdat hy nie onder Smuts wou dien nie; tog moet ’n mens sy eie ongemaklike posisie in aanmerking neem. Dit sou vir hom nog moontlik wees om Nasionale Party-ondersteuners te werf indien hyself Premier word; dit sou egter heelwat moeiliker gaan om hulle te oortuig om onder die aartsvyand van die Nasionale Party, genl. Smuts, te dien.

Teen hierdie tyd moes die skrif vir Roos waarskynlik aan die muur wees: nóg die Nasionale leiers nóg die Sap-leiers sou onder hom dien. Al wat nou oorgebly het, was om die kieserspubliek te bearbei. En in hierdie uur het selfs die volk hierdie briljante verhoogredenaar die rug toegekeer. Op 14 Januarie 1932 loop Roos die grootste vernedering van sy loopbaan op die lyf in die Bloemfonteinse Marksaal, toe meer as 4 000 toehoorders – waarvan die oorgrote meerderheid Hertzog-ondersteuners was – weier om hom ’n kans te gee om te praat. Hy moes later die mense vanaf die balkon van sy hotelkamer toespreek en in ’n bittere toon het hy gedreig om die Nasionale Party soos ’n lap uitmekaar te skeur indien hy ooit weer so behandel word.

Tog, in die wantrouedebat van 1933 het die dosyn Roos-ondersteuners teen Smuts se mosie gestem. Maar onmiddellik hierna het gebeur wat Tielman Roos waarskynlik nooit voorsien het nie (al het hy dit aangemoedig!): Hertzog en Smuts het ’n ooreenkoms bereik. Koalisie het ’n werklikheid geword. Die man wat die meeste daartoe bygedra het om die twee aartsvyande polities te versoen, het hierna ’n verstoteling geword, al het die Engelse pers hom in gloeiende taal geloof. ‘To him,’ het die Rand Daily Mail geskryf, ‘more than to any other man the nation’s thanks are due for that magnificent accomplishment, realising the most ambitious of all our dreams, which has come upon us like a miracle.’ Mynmagnate en wisselkoersspekulante wat enorm verryk is deur Roos se hertoetrede tot die politiek het hom eenvoudig hierna versaak. Hy was finansieel geknou, want geld moes immers gevind word om sy veldtogte te voer en hoewel hy weer op 1 Junie 1933 as advokaat begin praktiseer het, was hierdie inkomste nie naastenby genoeg nie.

In plaas van om nou maar die politiek vaarwel toe te roep, het Roos voortgestrompel in ’n doodloopstraat; hy het die Hertzog-Smuts-koalisie gekritiseer omdat daar so lank getalm word met samesmelting en boonop het hy besluit om aan die Mei-verkiesing van 1933 deel te neem. Dit was politieke selfmoord, want hyself het in Rustenburg pak gekry teen sy ou strydmakker en kabinetskollega, Piet Grobler. Slegs twee ‘Roosiete’ (die amptelike naam van die groep in die verkiesing) het die paal gehaal: Gerry Bouwer – van renmotorfaam – in Boksburg en Hjalmar Reitz in Jeppe. Die verkiesing het finaal aangetoon dat Roos nie net by die partyleiers in onguns was nie, maar ook by die volk.

Teen die einde van 1933 het Roos veral deur bemiddeling van Oswald Pirow, wat kennelik tot die einde ’n sagte plekkie vir Roos gehad het, besluit om sy gewig agter die koalisie van Hertzog en Smuts in te gooi. Die koalisiepers het hom soos die verlore seun terugverwelkom, maar dit het spoedig duidelik geword dat sy verblyf hier van korte duur sou wees. Die uitgerekte pogings om ’n skikking tussen die ondersteuners van dr. Malan en dié van genl. Hertzog te bewerkstellig, was een te veel vir Roos. Uit pure ongeduld en frustrasie het hy in Mei 1934 sy Sentrale Party gestig. Uit die program van aksie wat kort daarna gepubliseer is, het dit geblyk dat dié party hoofsaaklik ekonomiese oogmerke gehad het en dat dit gerig was tot die ontevrede werker en boer. Aanvanklik het die Party gereken op die volstrekte steun van Arthur Barlow se koerant, die Sunday Express, maar toe dit blyk dat laasgenoemde nie geneë was om ’n blote partymondstuk te wees nie, het Roos en sy luitenante ’n eie koerantjie, Ons Blad, op die been gebring.

Dit was duidelik heeltemal te laat vir die Sentrale Party om hond haar-af te maak op die politieke toneel. Die groot vraagstukke van dié tyd is deur die Smelters en die ‘Gesuiwerdes’ uitbaklei en selfs die ekonomiese vraagstukke waarop die Sentrale Party so sterk gekonsentreer het, was nie meer van so ’n kritieke aard dat Roos se party dit as wapen teen die ander partye kon gebruik nie. In sy eerste toets, die Volksraadstussenverkiesing in Heilbron in September 1934, het die Sentrale Party jammerlik misluk. Sy kandidaat kon net 380 stemme op hom verenig en het sy deposito verloor. Gedurende November het Roos se party weer ’n kandidaat gestel, hierdie keer in die Provinsiale tussenverkiesing in Krugersdorp. Die Sentrale Party-man het darem dié keer heelwat beter gevaar en 1 189 stemme verower teenoor die 1 463 van die Arbeider en die 1 237 van die Smelter – ’n aanduiding dat Roos se grootste aanhang sonder twyfel op die Rand was.

Nogtans was die skrif aan die muur. Roos het besef hy het nóg sterk steun nóg finansiële middele. Vroeg in Maart 1935 het hy sy volgelinge aangeraai om hulle by die nuutgestigte Verenigde Party aan te sluit en ‘van binne’ die nuwe party te bearbei om die beginsels van die Sentrale Party te volg. Drie weke later het hy ’n noodlottige hartaanval in sy huis in Houghton gekry en kort na middernag op 28 Maart gesterf.

Huldebetuigings het van oral ingestroom. Vir vlietende oomblikke het sy ou strydmakkers teruggedink aan die moeilike dae toe hy aan die spits van die Nasionale Party se aanslag in Transvaal teen Smuts en Botha gestaan het. Sy glorieryke dae het momenteel herleef, maar saam met Roos is hulle weer begrawe. ’n Dagblad het die beroemde woorde van Markus Antonius oor Caesar aangehaal:

‘The evil that men do lives after them;

The good is oft interred with their bones …’

Dit was inderdaad so met Roos. Hy het eensaam en teleurgesteld gesterf. Vergete was die ‘Mishoop’-vergadering, die Republikeinse manifes, die vlymskerp tong wat die Suid-Afrikaanse Party oor die afgrond help stoot het. Duidelik ingeprent was die beeld van die opportunis wat in ’n krisistyd die Nasionale Party feitlik tot ’n val gebring het, die politieke ‘verraaier’, die splinterpartyman.

Maar Roos was helaas nie die volksleier wat bestem was om as staatsman die Suid-Afrikaanse volk te lei nie. Daarvoor was hy te veel van ’n partypolitikus. Politiek was in sy bloed; dit was bykans ’n lewensnoodsaaklikheid waarsonder hy nie kon klaarkom nie. Maar, in sy eie woorde, dit was ook vir hom ’n spel – hoewel ’n baie ernstige spel! So ernstig het hy dié spel opgeneem dat hy by twee geleenthede, toe hy kritiek van sy eie mense ontvang het, wou uittree. Genl. Hertzog moes hom by een so ’n geleentheid persoonlik oorreed om nie te bedank nie.

Hoe ’n skitterende politikus Tielman Roos ook al mog gewees het, die Afrikanervolk het hom nooit as sy Moses onderweg na die Beloofde Land beskou nie. Roos was daarvoor té onvoorspelbaar, té onortodoks. Die mantel van leierskap van die Afrikaner sou in hierdie jare op die skouers van genl. Hertzog bly rus. Toe 50 000 mense die lykstoet van Roos in die vroegherfssonnetjie van 1935 na die Brixton-begraafplaas gevolg het, was dit byna letterlik die laaste eer aan ’n vergete politikus. Vandag, honderd jaar na sy geboorte, is daar nog net dowwe herinneringe aan die eens vurige Leeu van die Noorde. Tielman Roos het op sy pad deur die Suid-Afrikaanse politiek spore getrap … maar spore wat hy self later doodgevee het.

Bron: Brits, J.P. 1980. Tielman Roos: Vergete “Leeu van die Noorde”. Lantern, Desember, pp. 29-34.