Thomas Pringle (1789-1834)

Ulrich Gerhard Lauts (1787-1865)
March 4, 2019
Andries Hendrik Potgieter (1792-1852)
March 4, 2019

STRYDER VIR VRYHEID VAN DIE PERS IN SUID-AFRIKA

Ons reken graag Thomas Pringle tot die vername figure van die vroeë 19de eeu in ons land, hoewel hy in werklikheid maar sowat ses jaar hier gewoon het. In daardie jare het hy egter spore gelaat wat die eervolle vermelding van sy naam regverdig. Pringle was eerstens digter, maar naas die digterstalent het in sy binneste ook die vurige strydgees van die demokraat gebrand. Vandaar dat hy met Fairbairn saam geveg het om ’n vrye pers in Suid-Afrika te verkry en, in die slotjare van sy lewe, om ’n einde te maak aan slawerny, wat hy as ’n smet op die beskawing beskou het.

Hy was ’n boerseun uit Skotland en is gebore te Blaiklaw in die jaar toe die Franse Rewolusie uitgebreek het. Vanaf sy derde jaar was hy kreupel en van kleins af was hy ’n liefhebber van boeke. As jongeling van 17 jaar gaan hy na die Universiteit van Edinburgh, waar hy ook kennis maak met  John Fairbairn. Hy volg ’n gemengde kursus en word staatsamptenaar, maar sy hart was by die skone lettere en weldra verskyn daar gedigte van hom in die pers.

Dan word hy redakteur van Blackwood’s Magazine maar die opbrings was so karig, dat hy in 1820 in geselskap van ander lede van die familie Pringle as Britse Setlaars na Suid-Afrika kom en aan die Oosgrens gaan woon. Hy was een van dié wat deur teenspoed na die stede gedwing is, en in 1822 word hy bibliotekaris in Kaapstad teen £70 per jaar.

In 1824 staan hy saam met Fairbairn aan die spits van die verset teen Somerset se inmenging met die vryheid van die pers, en hy staan persoonlik sy man in ’n onderhoud met die gebelgde goewerneur, wat hom ontbied het. Tydelik sonder inkomste nadat hy as bibliotekaris bedank het, bly hy nog in Kaapstad as sekretaris van onderstandskomitee vir sy medesetlaars. ’n Pamflet wat hy skryf vir die saak lewer £10 000 aan bydraes uit Engeland.

Foto: Thomas Pringle (Elliott-versameling, Kaapse Argief)

Daarna gaan Pringle na die Oosgrens om ’n bestaan te probeer maak vir hom en sy gesin, maar vroeg in 1826 is hy weer in Engeland en in 1828 verskyn daar van hom ’n digbundel.

In 1830 redigeer hy ’n literêre album en in 1834 skryf hy “African Sketches” in twee dele. Na sy dood verskyn van hom Narrative of a Residence in South Africa wat ook in Nederlands uitgegee is. In 1837 is sy versamelde poësie uitgegee onder die titel Poetical Works of Thomas Pringle.

Na sy aankoms in Engeland het hy hom sterk beywer vir die vrystelling van slawe binne die Britse Ryk en in dié opsig dus op ons eie land ook onregstreekse invloed uitgeoefen. Met Fowell Buxton en Macaulay was hy bevriend, en hy word sekretaris van die “Anti-Slavery Society”. Pringle en sy geesgenote het dus die vrystelling van slawe in 1834 as persoonlike triomf beskou, en een van Pringle se laaste openbare dade was die reëling van ’n dankseggingsdag.

Sy gesondheid was egter geknak, en hy was baie arm. Tevergeefs het hy probeer skadevergoeding verkry vir sy behandeling aan die Kaap voor 1826. Uiteindelik wou hy terug na die Kaap om sy teringagtige gestel te versterk. Sy plek was reeds bespreek toe die dood hom op 5 Desember 1834 oorval het.

Hy was inderdaad wat sy vriend Fairbairn van hom gesê het, nie net ’n held nie maar “a most amiable man of genius”.

Digter en vurige demokraat

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck