Theuns Stofberg (1955-)

Wolraad Woltemade (1709-1773)
August 20, 2018
Hans Strydom (1947-)
August 20, 2018

Drie Curriebekers vir drie spanne

Daantjie Dinamiet

 

Op 16 Julie 1967 het die destydse Springbok-rugbykaptein Dawie de Villiers tydens die aanddiens van die Nederduits Gereformeerde gemeente Fynnland in Durban gepreek; die dag nadat die Springbokspan die eerste toets in daardie jaar se reeks teen Frankryk op Kingspark gewen het.

Ds. Kosie Stofberg was die predikant van daardie gemeente en onder die gehoor was sy destyds twaalfjarige seun Theuns. De Villiers het sy gesangeboek geteken en Theuns het seker nooit gedink dat hy ook eendag die kaptein van ’n Springbokspan sou word nie.

Marthinus Theunis Steyn Stofberg is op 6 Junie 1955 in die Vrystaatse dorp Villiers gebore. Theuns se oupagrootjie aan moederskant was president MT Steyn van die Oranje-Vrystaat. Sy oupa aan moederskant was dr. NJ van der Merwe; die eerste hoofleier van Die Voortrekkers. Sy naam is eintlik Theunis, maar hy het dit na Theuns toe verkort toe hy senior rugby begin speel het; blykbaar om dit makliker vir die legendariese rugbykommentator Gerhard Viviers te maak. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan Grey Kollege in Bloemfontein voltooi en aan die Universiteit van die Vrystaat gestudeer.

Op 14 Augustus het hy sy debuut vir die Springbokke gemaak. Hy was toe al deel van die Vrystaatse span, en in daardie toets teen Andy Leslie se All Blacks-span het hy die plek van die legendariese Jan Ellis op flank ingeneem. Die All Blacks het daardie toets met 15 punte teenoor 9 gewen, maar die Springbokke het ’n reeksoorwinning behaal. Van toe af was hy ’n outomatiese keuse vir die Springbokspan. Later daardie jaar het die Vrystaatse span onder kapteinskap van Wouter Hugo die Curriebeker vir die eerste keer in dié span se geskiedenis gewen en Theuns was deel van daardie span.

Op 27 Augustus 1977 het ’n wêreldspan op Loftus Versfeld gespeel ter viering van die ingebruikneming van die nuwe hoofpawiljoen, en die Springbokspan het volle toetskleure vir daardie wedstryd gekry. Theuns het twee drieë gedruk. Op 18 Oktober 1980 was hy vir die eerste keer kaptein van ’n Springbokspan; dit was in ’n toets teen Suid-Amerika wat in Montevideo in Urtuguay gespeel is. In daardie toets het hy sy vierde toetsdrie gedruk. Theuns was deel van die toerspan na Nieu-Seeland in 1981, maar hoewel Morné du Plessis sy uittrede kort tevore aangekondig het, is Wynand Claassen as toerkaptein gekies. Nogtans was hy die kaptein van die span wat die toets op Lancaster Park in Christchurch gespeel het; die All Blacks het daardie toets met 14-9 gewen. Hy het nie gespeel in die toets in Auckland wat deur meelbomme ontsier is nie, maar hy was wel in die span wat daarna teen die Verenigde State van Amerika gespeel het; die toets wat deur die minste toeskouers tot nog toe bygewoon is. Theuns is gekies as kaptein van die reeks van twee toetse teen Engeland in 1984 en hy het sy laaste toetsdrie in die tweede en laaste toets van daardie reeks gedruk. Daarna het hy sy uittrede aangekondig; die Springbokspan het in elk geval nie in 1985 toetsrugby gespeel nie.

Nadat Theuns sy graad in fisioterapie verwerf het, is hy vir sy militêre diensplig na Pretoria opgeroep, wat beteken het dat hy vir die destydse Noord-Transvaal gespeel het en die Curriebeker onder die legendariese afrigter brig. Buurman van Zyl gewen het. Nadat hy sy diensplig voltooi het, het hy in 1982 na Kaapstad verhuis waar hy sy praktyk as fisioterapeut bedryf het. In hierdie tyd het hy deel geword van die Westelike Provinsie se span wat die Curriebeker elke jaar tot in 1986 gewen het, hoewel hy net tot in 1984 gespeel het.

Theuns het tot in 2008 as fisioterapeut gepraktiseer maar weens probleme met sy gesondheid het hy en sy vrou ’n onderneming begin wat toergroepe na die buiteland neem. Hy het ’n rugbytoets in Engeland bygewoon toe hy skielik ernstig siek geword het. Churg Strauss-sindroom is by hom gediagnoseer; dit is ’n siekte wat die are en die slagare aantas en lugweginfeksie en asma tot gevolg kan hê. Dit het tot gevolg gehad dat hy nie verder as fisioterapeut kon praktiseer nie.