Aan die hoofstraat, ’n klein entjie bokant die Oefeninghuis, lê ’n besonder mooi ou Kaapse huis met wit gewels en grasdak. Dit is die geestelike tuiste van die Barry-familie in Suid-Afrika.
In die geskiedenis van die Overberg is die naam van Joseph Barry byna spreekwoordelik. Hy het in 1817 by die Kaap aangekom. Aanvanklik het hy hom op die kushandel toegelê, maar het hom weldra te Swellendam gevestig, waar hy in 1825 met die dogter van Jacob van Reenen getroud is. Na ’n ernstige finansiële terugslag het hy tesame met sy twee neefs, Thomas en John, ’n handelsryk opgebou wat van Worcester tot by Mosselbaai gestrek het.
In 1826 het Joseph Barry vir hom hierdie woonhuis aan die hoofstraat gekoop. Dit het aan J.W. Paulsen, skoolmeester en voorleser van die gemeente van Swellendam, behoort. Om sy handelsware op te berg het hy buitegeboue op dieselfde terrein opgerig. In 1834 het daar in die huis ’n brand ontstaan en volgens die S.A. Advertiser “the conflagration was so rapid that the whole of these premises, with outhouses and stores, and the goods contained in them, were burned”. Na die brand het Joseph Barry die oorspronklike T-vormige huis herstel, maar terselfdertyd het hy ’n ry vertrekke voor die ou huis laat aanbou. Hierdie nuwe vertrekke het hy met die ou huis verbind deur die oorspronklike voorkamer verder uit te bou. Op die wyse het hierdie voorkamer ’n ware praalsaal geword, terwyl die dormeringang en die driehoekige, skerp eindgewels aan die gebou ’n besondere atmosfeer en karakter verleen.
In 1857 het Joseph Barry na Kaapstad verhuis en “The Auld House” is deur sy kleinneef en opvolger, John Joseph Barry, betrek. Laasgenoemde het op sy beurt weer ’n vleuel aan die linkerkant van die huis laat aanbou. Hy het ’n belangrike rol in die openbare lewe gespeel en is in 1878 tot lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering verkies. Na sy dood het die ou huis in besit gekom van Gerhardus Cornelius Deneys Reid wat met een van die Barry-dogters getroud was en aldus het die Reid-familie die bewaarders van die Barry-tradisie geword.
(Geproklameer 1966)
Francois Krige • “The Auld House” • Drosdy-museum, Swellendam
Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 110-112.