Teenslae en suksesse

“Goue eeu” in Nederland
January 3, 2015
Voedsel gerantsoeneer
January 5, 2015

Met die koms van Van Riebeeck het sommige Khoikhoi in die Suidwes-Kaap gewoon. Hulle was veeboere en die enigste gewas wat hulle gekweek het, was dagga. Vee was hul rykdom, maar ’n baie wisselvallige soort rykdom, want diefstal, siekte of droogte kon dit maklik verminder. Mense wat vee verloor het, het maklik van ander gesteel om hul eie getalle aan te vul. Gevolglik was oorlog, al was dit nie te bloedig nie, iets algemeens.

In die Suidwes-Kaap was daar ’n taamlike groot bevolking weens die hoë reënval en voortreflike weiding. In voorspoedige tye kon dié veld groot veetroppe onderhou.

Hierdie bees- en skaaptroppe was een van die redes waarom Van Riebeeck-hulle na die Kaap is, want dit was die plan om vee te ruil waarmee ook die besoekende skepe voorsien kon word. Om te kon ruil, moes hulle goeie verhoudinge met die Khoikhoi handhaaf.  As iemand een van die Khoikhoi sou slaan of aan hom of haar stamp, was sy straf vyftig slae met die kolf van ’n geweer en agt dae sonder wynrantsoen. Ruilhandel met die Khoikhoi was vir individue totaal verbode.

Van alles wat gebeur het, in die nuwe land, het Van Riebeeck noukeurig verslag gedoen in sy dagverhaal, wat uit 2400 foliobladsye bestaan en waarvan in 1952-1957 ’n wetenskaplik verantwoorde uitgawe verskyn het.

Behalwe vee ruil, moes die gemeenskap ook tuin maak en genoeg groente, vrugte en graan vir toekomstige skepe kweek. Met sowel die veeruil as die gesaaides het dit die eerste jaar maar sleg gegaan.

Met groot gesukkel het die koloniste ’n koei en ’n kalf van die Khoikhoi geruil. In Junie en Julie het die reëns die gesaaides weggespoel. Die mense moes maar van die karige skeepsrantsoene leef, en baie het siek geword in die vogtige hout-tente. Maar Van Riebeeck het moed gehou en weer groente geplant. Op 4 September 1652 kon hulle die eerste geelwortels uittrek. Op 13 Oktober het hy ’n feesmaal gegee met Kaapse hoenders, ertjies, spinasie, aspersies en kropslaai. Op 26 Desember 1652 is twee “pond” taamlike skoon geel botter gekarring.

In die somer is die Kaap geteister deur die suidoos. Van Riebeeck het geglo dat die wind nêrens op aarde so sterk waai as daar nie – erger as die Japanse tifoons en die Wes-Indiese orkane! Graan is platgewaai, koringkorrels uitgeslaan en ertjies en boontjies verniel. Nadat die Fort de Goede Hoop in 1653 voltooi is, het dit met die woonplek beter gegaan. Aan dié fort het die manne die eerste paar weke ná 6 April 1652 elke dag gewerk, terwyl die vroue en kinders maar op die skepe moes bly.

In Maart 1653 was hulle in staat om vars voedsel aan die eerste skepe te gee. Dit was die retoervloot wat op 2 Maart uit die Ooste aangekom het. Die meeste matrose was siek en uitgeput by hul aankoms, maar ná ’n maand van verpleging en vars voedsel was hulle perdfris. Die admiraal, Gerard Demmer, was baie tevrede met die hoeveelheid en gehalte van die vars voorrade. Die Kaap het gou sy waarde bewys.

Omstreeks April 1654 was daar nietemin ’n ernstige kos tekort. Die rys, gort, grondboontjies en bone was op, en die Khoikhoi het geweier om vee te ruil. Van Riebeeck was byna lus om die Here XVII se gebod te oortree en die onwillige Khoikhoi te dwing om vee te ruil.