Die Burgerwaghuis
December 12, 2017
Coornhoop, Mowbray
December 13, 2017

Die skilderagtige Kaapse Skiereiland word deur Tafelberg, waarskynlik een van die bekendste berge in die wêreld, gedomineer. In grootsheid, natuurskoon en simboliek is Tafelberg as monument onoortroffe. Gevoelvol stel CA Lückhoff dit: “This mountain has come forth from the hands of the Great Architect. Through aeons it has been carvecl and moulded by the unceasing rhythm of Nature’s vast forces. It has been clothed with loveliness … It stands serene and self-contained, imperturbable in its steadfastness and nobility … symbolic of the soul of South Africa”.[1] Die berg se horisontaIe tafelrand wat twee kilometers van oos na wes strek, toring 1098 km bokant Tafelbaai uit. So snel en verrassend is egter die styging dat die berg veel nader en veel hoër skyn te wees as wat dit werklik is. Een ou reisiger het dit daarom op drie maal sy ware hoogte geskat, terwyl ou tekenaars geneig was om die hoogte te oorbeklemtoon. Aan die oostekant word Tafelberg deur die bekende Duiwelskop, vroeër Windberg genoem, en aan die westekant deur Leeuwkop, gestut.

Tafelberg se ryke geskiedenis is vol romanse, drama en tragedie, nou verbonde aan dié van Tafelbaai, Kaapstad, en trouens met ons land se vroeë geskiedenis. Dit was Tafelberg wat die eerste ou uitgeputte Portugese seevaarders aangetrek het met die belofte van skuiling teen hewige storms; dit was dié berg wat vir eeue die mees welkome gesig geword het op die lang roete na en van die Ooste. Dit was ook Tafelberg met sy hawe en sy helder bergstrome wat die plek van Jan van Riebeeck se nedersetting bepaal het, asook Kaapstad se vorm en groei, en dit was hiervandaan dat die Westerse beskawing onweerstaanbaar na die binneland deurgedring het.

Aan die energieke Portugese seevaarder Antonio de Saldanha word die eer gegee dat hy die eerste blanke was wat die berg bestyg het nl. in 1503, daaraan die naam Tafelberg gegee en die baai na homself genoem het – Agoada de Saldanha, ’n naam wat dit tot 1601 behou het toe die Nederlandse vlootvoog Joris van Spilbergen dit tot Tafelbaai verdoop het.

’n Eeu lank het die Portugese alleen om die Kaap geseil en was die gesig op Tafelberg hulle uitsluitende voorreg. As gevolg egter van die vyandigheid van die Hottentotte en die verlies van talle skepe op die rotsige strande van die Skiereiland, het die Kaap vir die Portugese meer en meer die betekenis van Cabo Tormentoso of Stormkaap gekry en dit is dan ook geen wonder nie dat hulle veiliger hawens aan die ooskus van Suider-Afrika opgesoek het. Teen die einde van die 16de eeu begin die skepe van die Hollanders en die Engelse Tafelbaai egter gereeld binneloop. Ook vir hulle was Tafelberg ’n uitdaging en in 1608 bestyg John Jourdain, ’n amptenaar van die Engelse Oos-Indiese Kompanjie, die berg.

Ook vir die stigter van Suid-Afrika, Jan van Riebeeck, het Tafelberg op sy koms hierheen eweneens as baken gedien. Op 5 April 1652 “sagen wij, Gode loff, ’t lant van Cabo de Boä Esperance, namentlijck den Taffelbergh”.[2] Dit was nou reeds by alle skepe wat die Kaap besoek het, die gebruik dat aan die man wat Tafelberg die eerste sien, ’n beloning gegee word en by hierdie geleentheid is aan die opperstuurman ongeveer R2 uitgekeer. Van Riebeeck se Dagregister meld nie dat hy ooit die berg uitgeklim het nie, maar hy het dikwels die hange besoek, in later jare veral met sy lieflingsperd, die Grote Vos. Hy het egter by herhaling sy amptenare die berg uitgestuur en teen 1657 was die Skiereiland reeds in kaart gebring.

In die lewe van die nuwe bewoners van die Kaap de Goede Hoop het Tafelberg weldra veel meer as net ’n blote besienswaardigheid geword. Vir die reisiger terugkerende die binneland het dit ’n onfeilbare koersbaken geword; vir die landbouer en visser ’n weerglas, want donker wolke oor hom uit die noordweste het reën bring, maar sy wit tafelkleed met ’n helder lug sterk wind, want dit was die onmiskenbare teken van die suidoos. ’n Helder oop berg in die winter voorspel ’n pragtige frisse en in die somer ’n snikhete dag. Vir die gesagvoerders van die Kolonie het die berg hoë terrein gebied vir forte vanwaar die nedersetting teen ’n aanval van die see verdedig kon word.

Die bestyging van die berg het egter ’n kordaatstuk gebly en daarom staan die name van besoekers wat dit aangedurf het, nogal prominent in die annale van Tafelberg. Sommige het die natuurskoon ’n genoegsame uitdaging gevind. Ander is deur die rykdom van plantegroei en dierelewe onweerstaanbaar na die kruin van die berg gelok. So kan genoem word, OF Mentzel, Charles P Thunberg, die Sweedse botanis, William Hickey, Francois Le Vaillant, lady Anne Barnard, William Burchell en ander. Vandag nog bly dit ’n paradys vir die bergklimmer en die plantkundige, maar die bestyging daarvan is geen buitengewone prestasie meer nie, want dit is nou ’n gewilde sport waaraan baie mense deelneem en ’n sweefspoor voer duisende ander besoekers binne ’n paar minute tot bo op die tafel.

Nieteenstaande Tafelberg ’n al hoe groter plek in die harte van al hoe meer mense in Suid-Afrika ingeneem het, was daar ’n toenemende bedreiging van onherstelbare skade aan hierdie grootse en indrukwekkende monument. Stadig maar onkeerbaar het die huise teen die berg opgekruip; paaie is uitgekap en het die aansig van die berg soos afsigtelike littekens ontsier, terwyl bosbrande die fauna en flora vernietig het. Uitgebreide maatreëls is getref om die natuurskoon van die berge van Tafelbaai tot by Houtbaai te beskerm. Op hierdie gebied mag nie gebou word nie; die grootste gedeelte daarvan is deur die Administrateur in medewerking met die Stadsraad, wat die grootste grond besit en beheer, tot ’n natuurreservaat verklaar; fondse vir die behoud en die herstel van die natuurlike aantreklikhede word beskikbaar gestel deur die Provinsiale Administrasie, die Stadsraad en die Kaapse Afdelingsraad, terwyl die Departement van Bosbou oor die staatsgrond toesig hou. Voorkoming van brand en brandbeveiliging is die verantwoordelikheid van ’n spesiale Skiereilandse Brandbeveiligings-komitee. Die Tafelberg-bewaringsraad bedien al die instansies wat met die berg gemoeid is, van advies. Die Historiese Monumentekommissie het die ganse gebied in 1957 tot ’n natuurlike monument verklaar.

(Geproklameer 1957)

 

H. Schneider • Tafelberg 1763 • William Fehr-versameling

 

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 36-37.

 

[1] Lückhoff, C.A., Table Mountain, Introduction.

 

[2] Bosman, dr. D.B. en Thom, dr. H.B., Daghregister, Deel I, p. 18.