Taalvyltjie: Hoe breek Afrikaans woorde aan die einde van ’n reël af?

Grethe van der Merwe
Maart 13, 2018
Horisonjaar
Maart 13, 2018

Soos ek in die vorige Taalvyltjie gesê het, gaan ek opsommenderwys en slegs in breë trekke party van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) se reëls behandel. Hierdie publikasie is nie net ’n uiters nuttige en veelsydige hulpmiddel vir enigeen wat Afrikaans skryf nie, maar ook ’n noodsaaklike naslaanbron as ’n mens die standaarde van ons taal wil handhaaf.

Soms is dit nodig of wenslik om aan die einde van ’n reël ’n woord te verdeel omdat dit nie volledig aan die einde van die reël inpas nie. Dit gebeur veral as ’n mens met die hand skryf of as jy jou teks aan die regterkant wil “blok” of justeer. As ’n mens nie die woord afbreek nie en jy justeer regs, skuif die rekenaar meestal ’n volle woord na die volgende reël, en dit laat weer allerhande groot spasies in die teks. Woordverwerkingsprogramme kan dikwels outomaties koppeltekens invoeg, maar nie almal kan woorde korrek volgens die Afrikaanse stelsel afbreek nie; daarom sien mens soms in die media die vreemdste afbrekings.

Die AWS behandel die afbreekreëls in besonderhede. Hier onder noem ek slegs enkele van die belangrikstes.

  1. Afrikaans breek by voorkeur volgens betekenisvolle dele af (hier verteenwoordig die koppelteken ’n afbreekpunt). Dan breek ons rekenskap af as reken-skap, en nie byvoorbeeld re-kenskap of rekens-kap nie, en verswak as ver-swak en nie vers-wak nie.

 

  1. ’n Tweede belangrike reël is dat ons volgens lettergrepe afbreek. Daarom kan prosa as pro-sa afgebreek word, en kluisenaar op een van twee plekke: klui-se-naar.

 

MAAR:

  1. Ons breek volgens betekenisvolle dele af slegs indien die betekenisvolle dele met die lettergrepe ooreenstem. Daarom breek ons vriendin af as vrien-din en nie vriend-in nie; laasgenoemde is wel volgens betekenisvolle dele, maar dit stem nie met die lettergrepe ooreen nie. Daarenteen word vriendskap wel as vriend-skap afgebreek, want hier stem die betekenisvolle dele met die lettergrepe ooreen. Insgelyks word handeling nie as handel-ing afgebreek nie, maar as han-de-ling, omdat laasgenoemde met die lettergrepe ooreenstem.

 

  1. ’n Mens moet ook probeer om altyd die afgebreekte woord herkenbaar te hou, dit wil sê jy moet probeer om die leser nie te laat struikel nie. Daarom moet vereniging liefs as ver-eniging afgebreek word, en nie as vere-niging nie, en goederetrein as goedere-trein en nie goe-deretrein nie.

 

Bostaande is waarskynlik die afbreekreëls wat die meeste gebruik word, maar ek noem baie kortliks vier ander:

 

  1. Indien twee identiese konsonantletters tussen vokaalletters staan, word altyd tussen die twee afgebreek; grammatika en letters kan dus byvoorbeeld as onderskeidelik gram-matika en let-ters afgebreek word, en nie as gramm-atika en le-tters nie. Onthou egter dat daar nooit tussen twee vokaalletters wat tot dieselfde lettergreep behoort, afgebreek word nie – dus nooit iets soos voka-al of mo-oi nie.

 

  1. Indien ’n vokaalletter (a, e, i, o, u) wat nie deel van ’n diftong ofte wel ’n tweeklank uitmaak nie, direk voor of ná ’n diftong staan, word tussen die twee afgebreek, byvoorbeeld geyl word ge-yl en skouer word skou-er. (Terloops, ek het al gehoor dat [laerskool]onderwysers kinders wysmaak dat iets soos -aa- of -oo- ’n tweeklank is, wat natuurlik nie korrek is nie. ’n Tweeklank begin op een vokaalklank en eindig op ’n ander.)

 

  1. Ongeag die uitspraak word altyd tussen ’n –n– en ’n –g– afgebreek, byvoorbeeld klingel à klin-gel; angora à an-gora; Angola à An-gola; ingewande à in-gewande. Vanselfsprekend geld hierdie reël nie as die –ng– aan die einde van die eerste lid van ’n samestelling voorkom nie, byvoorbeeld slangbyt of wangspiere word slang-byt en wang-spiere, nie slan-gbyt of wan-gspiere nie!

 

  1. Wanneer ’n –s– en ’n –j– langs mekaar staan, word tussen die twee afgebreek indien hulle as twee verskillende klanke uitgespreek word, byvoorbeeld baasjagter à baas-jagter; morsjors à mors-jors. As die twee egter as een klank uitgespreek word, word die twee nie geskei nie, byvoorbeeld marsjeer à mar-sjeer; kosjer à ko-sjer; kasjoeneut à ka-sjoe-neut. Hierdie reël verklaar ook waarom brosjure afgebreek word as bro-sjure en nie bros-jure nie, want laasgenoemde verteenwoordig ’n soort foutiewe letteruitspraak.

 

Hierdie en die ander afbreekreëls word deeglik met duidelike voorbeelde in hoofstuk 1 van die Spelreëls in die AWS bespreek. Die nuutste (11de) uitgawe van hierdie publikasie is ook aanlyn beskikbaar.

Ek herhaal ook graag die uitnodiging dat lesers vrae oor praktiese gebruikskwessies aan die redakteur kan stuur, en ek sal dit dan in ’n rubriek probeer behandel.

JD (Tom) McLachlan

 

(Red. Sien die ander uitgawes van ink om die vorige Taalvyltjies te lees. Moet ook nie die volgende uitgawes van ink misloop nie. Vir die volgende paar maande gee Tom McLachlan opsommings van die nuwe AWS.)

The post Taalvyltjie: Hoe breek Afrikaans woorde aan die einde van ’n reël af? appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico