Taalvyltjie: Afkappingstekens

Tannie Poppie kook weer
April 16, 2018
Laat jou belasting vir Afrikaans werk!
April 16, 2018

In hierdie rubriek gaan ek voort om opsommenderwys en slegs in breë trekke party van die reëls in die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) te behandel. Die AWS is nie net ’n uiters nuttige en veelsydige hulpmiddel vir enigeen wat Afrikaans skryf nie, maar ook ’n noodsaaklike naslaanbron as ’n mens die standaarde van ons taal wil handhaaf.

Die reëls vir die gebruik van die afkappingsteken (ook ’n apostroof genoem) word volledig en met duidelike voorbeelde in hoofstuk 2 van die Spelreëls in die AWS bespreek. Die nuutste (11de) uitgawe van hierdie publikasie is ook aanlyn beskikbaar.

Die afkappingsteken word vir hoofsaaklik twee doeleindes in Afrikaans gebruik, naamlik (1) om by sommige goed wat geskryf word, die meervouds- en verkleiningsuitgange aan te heg, en (2) om in sommige skrifbousels aan te dui dat letters weggelaat is. By (1) sê ek “sommige goed wat geskryf word”, want dit sluit ook sake in wat nie sonder meer woorde is nie, soos syfers, afkortings, alleenstaande letters en simbole.

 

(1) Meervouds- en verkleiningsuitgange

(i) Die afkappingsteken word gebruik by meervoudsvorme op -s en verkleiningsvorme van woorde wat op ’n -i, -o of -u eindig wanneer die -i, -o of -u óf die enigste vokaal (klinker) aan die woordeinde is, óf deur ’n ander vokaal/vokale voorafgegaan word maar nie deel van daardie vokaal/vokale se lettergreep is nie, byvoorbeeld:

alibi’s, alibi’tjie; rabbi’s, rabbi’tjie
eggo’s, eggo’tjie; radio’s, radio’tjie; video’s, video’tjie
residu’s, residu’tjie; skadu’s, skadu’tjie

Reël (i) geld nie as die i, o of u deel van ’n kombinasie van vokaalletters is wat ’n diftong (tweeklank) of ’n ander klank voorstel nie, byvoorbeeld:

essais, essaitjie; bitterkaroos, bitterkarootjie; milieus, milieutjie; kabeljous (naas kabeljoue), kabeljoutjie

Reël (i) geld ook nie as die slotvokaalletter ’n diakritiese teken dra nie, byvoorbeeld:

ietermagôs, ietermagôtjie; attachés

Al bogenoemde – dit wil sê waar die afkappingsteken gebruik word EN nie gebruik word nie –  geld ook vir eiename, soos Nigrini, Mimi, Schoombee, Vosloo, André of Fouché.

(ii) Die afkappingsteken word gebruik by meervoudsvorme op -s en verkleiningsvorme van woorde wat op ’n beklemtoonde of lank uitgespreekte -a eindig, byvoorbeeld:

aha’s; ma’s, ma’tjie; karba’s, karba’tjie; peetpa’s, peetpa’tjie; spa’s, spa’tjie

MAAR

casanovas, casanovatjie; Evas, Evatjie; oumas, oumatjie; togas, togatjie

In laasgenoemde reeksie is die slot-a nie beklemtoon nie en word dit ook nie lank uitgespreek nie.

(iii) Meervoude op -e by veral leenwoorde waarvan die slot-e nie uitgespreek word nie, kry die meervouds-e ’n afkappingsteken, byvoorbeeld:

crèche’e, crèche’ie; garage’e, garage’ie

Baie van dié woorde kan ook ’n -s-meervoud neem, wat SONDER ’n afkappingsteken geskryf word: crèches, garages.

(iv) Die meervouds- en verkleiningsuitgange van afkortings, letters, simbole en syfers word met ’n afkappingsteken geskryf, byvoorbeeld:

b.v.p.’s; OTM’e of OTM’e; c’s, c’tjie; l’e of l’s, l’etjie; ©’s; Ω’s, Ω’tjie; 3’e of 3’s, 3’tjie

 

(2) Die afkappingsteken word in Afrikaans soms gebruik om aan te dui dat letters weggelaat word in die spelling of nie uitgespreek word nie.

Die algemeenste hiervan is die onbepaalde lidwoord ’n of ‘n. Let op die vorm van die afkappingsteken, want hier word besonder baie gesondig in skrif wat op ’n rekenaar voortgebring word, omdat die woordverwerkingsprogram die enkelaanhalingsteken “ ” voor die n plaas. Afrikaans het hierdie lidwoord geërf uit Nederlands, wat “een” gebruik (en meestal “één” skryf as hulle die telwoord 1 bedoel). Afrikaans gee ons uitspraak weer deur die oorspronklike ee- weg te laat en ’n te skryf.

Hierdie weglating van klanke en/of letters kom ook voor in vaste uitdrukkings soos as ’t ware en om ’t ewe, waarin die ’t die Nederlandse woord het verteenwoordig, en in ons besitlike voornaamwoord s’n of s’ne: Dis Sara s’n/s’ne. Dit word ook soms in digterlike taal gebruik, soos in die bekende berymde psalm 146: “ ’k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof”.

Dit kom ook dikwels voor wanneer spreektaal op skrif voorgestel word, byvoorbeeld:

Sy’t my gister vertel.
Hy’s al vroeg hier weg.
Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê nie.
Oorle’ Pa het die boerdery begin.
’Skuus? Hoe sê jy?

 

Let op die vorm van die afkappingsteken: óf “ ” (dus min of meer 9-vormig), óf “ ” (dus ’n regaf strepie), maar NIE “ ” (dus min of meer 6-vormig) nie.

JD (Tom) McLachlan

The post Taalvyltjie: Afkappingstekens appeared first on FAK.

Powered by WPeMatico

Comments are closed.