Susanna Catharina Smit (1798-1863)

Gerhardus Marthinus Maritz (1798-1839)
March 5, 2019
Andries Wilhelmus Jacobus Pretorius (1798-1853)
March 5, 2019

VROUE PROTESTEER TEEN ANNEKSASIE VAN NATAL

Eweas ’n Wolraad Woltemade of Dirkie Uys skielik uit die onbekende opgedoem en sigself deur ’n enkele dapper daad tot onsterflikheid in ons geskiedenis verhef het, net so sal Susanna Smit vir die Afrikaanse volk tot in lengte van dae ’n besieling bly al het sy dan ook niks meer gedoen as om op een moment na vore te tree en ’n woord te spreek wat in die komende jare ’n refrein ou word van ’n vryheidslied wat bestemd is om langs die eeue af te klink.

Want dit was haar enigste groot prestasie: dat sy kragtiger as enigeen voor haar die vasberadenheid van die Afrikaner om vry van alle vreemde oorheersing te wees, blootgelê het.

Foto: Susanna Smit (Denkbeeldige tekening)

Van haar lewe is nie veel bekend nie. Op 28 Augustus 1798 is sy gebore en op 27 Julie 1863 te Pietermaritzburg oorlede. As suster van die Voortrekkerleier, Gert Maritz, en vrou van die eerste Voortrekkerpredikant, eerw. Erasmus Smit, het sy ’n prominente plek beklee onder die vrouens van die Voortrekkers.

Die wederwaardighede van die Voortrekkers in die Vrystaat en Natal het sy meegemaak en as predikantvrou skynbaar steeds opgetree as leier ot mondstuk van die vrouens van die Trekkergemeenskap. Blyk daarvan is die feit dat sy met die anneksasie van Natal deur die Engelse, gekies is as mondstuk van ’n deputasie van sowat 400 ontevrede vrouens om teen die anneksasie te protesteer by advokaat Cloete, wat deur die Britse regering gestuur is om die land oor te neem. Dit was by hierdie geleentheid dat sy vir haar ’n blywende plek in ons geskiedrolle verower het.

Cloete is deur die vrouens uitgenooi om hulle te ontmoet in die hofsaal wat gedien het as vergadersaal ook vir die Volksraad. Daar het Susanna Smit as leidster van die deputasie hom op welsprekende wyse ingelig oor die redes waarom hulle die Kaapkolonie verlaat het en die lyding en onderdrukking wat hulle moes verduur om die land veilig te maak; en hom daarby duidelik te verstaan gegee dat dit vir hulle onmoontlik was om genoeë met die Britse anneksasieplanne te neem.

Toe Cloete naderhand ongeduldig word en weier om verder te luister, het sy op duideliker wyse as ooit tevore gedoen is, die vasberadenheid van haar volk om hulle nooit aan die Britse bewind te onderwerp nie, tot uitdrukking gebring. Met al die hartstog van haar siel het sy verklaar: “Meneer Cloete, al die mooie beloftes wat hier gedaan is, smaak soos aloem in die mond. Ons het goed en bloed gegee om onder die gehate Britse vlag uit te kom, en al moet ons ook kaalvoet en blootshoof oor Drakensberg loop, sal ons onder die vlag nie berus nie”.

Daarna het sy van die toneel verdwyn. Haar woorde het egter verder gedra en steeds magtiger weerklink: “vryheid of die dood”,– die uitdrukking van die wilskrag en vasberadenheid van die Afrikaanse vrou en die Afrikaanse volk. En elke slag wat hulle weer herhaal is, het hulle die gestalte van Susanna Smit laat herlewe sodat sy, ook al kan sy haar nie op groot dade beroem nie, ’n volksfiguur geword het, ’n werklike inspirasie, wie se naam altyd genoem sal word waar ook die Suid-Afrikaanse geskiedenis verkondig word.

Eggenote van eerwaarde Erasmus Smit en woordvoerder van die Voortrekkervroue

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.