Die eerste Afrikaners noord van die Gariep

Foto 1Die storie van Afrikaners in Namibië het 1738 begin, toe die eerste Hollandssprekendes die Gariep oorgesteek het. Hulle was Pieter de Bruyn, Willem van Wyk, Frans Campher, Jan Gous, Augustus Lourens, Lodewyk Putter, Hendrik Ras, Jacob Swart, Andries van der Walde, Sybrand van Dyk en Matthys Willemse. In 1786 het sewe gesinne hulle gevestig in die omgewing van Keetmanshoop. Die bekendste was Gideon Visagie wat ook vee van die omliggende Nama-bevolking geruil het. Gedurende 1868 besoek Hendrik van Zyl en nog ’n Bern Bouwer die Herero-leiers, Maharero en Aponda, om jag- en verblyfregte te verkry.

Dorslandtrekkers

Foto 2Die eerste van die Dorslandtrekkers uit Transvaal bereik Rietfontein, oos van Gobabis op 18 Januarie 1876. Die rede vir hul trek uit Transvaal was onbekend, maar hul trekleier Gert Alberts, het die tog beskryf as ’n trekgees om nuwe horisonne te verken. As gevolg van dors in die Kalahari en koors langs die Okavango-moerasse, het die trekgroepe ontsettende lyding deurgemaak. As gevolg hiervan het die trekgroepe bekend geword as die Dorslandtrekkers. Nadat nog trekke die getalle versterk het, trek die Dorslandtrekkers in Januarie 1878 vanaf Rietfontein ooswaarts deur die Omaheke, vanwaar hulle uiteindelik weswaarts, suid van Etosha na Otjitundua en Kaoka-Otavi in Kaokoland trek. Die Dorslandtrekkers kom op 22 Desember 1880 in Huila in Angola aan. Hulle vestig hulle by Humpata en lewer oor ’n tydperk van 50 jaar ’n belangrike bydrae tot die ekonomiese ontwikkeling in die gebied.

In April 1885 aanvaar 46 Dorslandtrekkers ’n aanbod van ’n handelaar, W Jordan, om hulle in ’n gebied rondom Grootfontein te vestig. Hulle kies ’n bestuur, stel regulasies op en stig die Republiek van Upingtonia. Die Duitsers wou egter nie die Boere se eiendomsreg op die grond by Grootfontein of die klein republiek erken nie.

In 1892 bereik nog ’n groep van 100 gesinne uit Transvaal Grootfontein. Van hulle vestig hulle in die gebied, terwyl die res hulle aansluit by die Afrikaners in Angola.

Foto 3Vanaf 24 Augustus 1928 tot Januarie 1929 trek die nasate van die Dorslandtrekkers vanaf Angola deur die Kunene-rivier terug om hulle in Suidwes-Afrika te vestig. Altesaam 373 gesinne (sowat 1900 mense) het aan die trek deelgeneem. Hulle hervestig op plase naby Gobabis, Aranos, Grootfontein en Otjiwarongo. Slegs sowat 40 gesinne het in Angola agtergebly. Die “Angolaboere” het hulle binne ’n paar jaar ekonomies hervestig, ten spyte van die feit dat hulle geen besittings, behalwe dit wat op ’n ossewa pas, die land kon inbring nie. Suid-Afrikaanse joernaliste het melding gemaak van die Dorslandtrekkers se suiwer gebruik van hul moedertaal na ’n halfeeu in Angola. Dit, tesame met hul Christelike lewenswaardes, was van die groot eienskappe wat hulle die nuwe land binnegedra het.

Suid-Afrika val Duitswes-Afrika binne

Op 6 Mei 1915 val Louis Botha met die Uniemagte Duitswes-Afrika binne. Die Duitse bevelvoerder Franke gee op 9 Julie 1915 by Korab oor. ’n Groep Afrikaners in Duitswes-Afrika wat hulle vereenselwig het met die Suid-Afrikaanse Rebelle stig ’n Boere-Vrykorps onder leiding van Andries de Wet, om die Unie-troepe se intog vanaf Upington teë te staan. Hul poging misluk vanweë ’n gebrek aan militêre dissipline en ervaring.

Die verowering van Duitswes-Afrika in minder as ses maande met ’n lewensverlies van minder as 300 Suid-Afrikaanse soldate was ’n uitsonderlike militêre prestasie. Die Geallieerde magte het dit as ’n groot oorwinning begroet in ’n tyd toe daar maar min suksesse op die Europese front was.

Met die ondertekening van die Vrede van Versailles in 1919 is Duitswes-Afrika as ’n Klas C-mandaatgebied onder Suid-Afrika se beheer geplaas. Dit het beteken dat die gebied nooit polities en ekonomies onafhanklik sou word nie en dat Suid-Afrika die gebied deur sy landswette sou regeer.

Stryd om Afrikaans

Die eerste skool vir Afrikanerkinders is reeds in Augustus 1883 op die plaas Gannapan in die omgewing van Rietfontein, naby die huidige Aroab, begin. Die onderwyser was MH le Roux wat sy opleiding in Wellington onder leiding van Andrew Murray ontvang het. Die skool het tussen 40 en 50 leerlinge gehuisves, maar moes na 13 maande sluit vanweë die oorlog tussen Hendrik Witbooi en die Duitsers.

Albertus Kooy en sy vrou kom in 1902 na Suidwes-Afrika om ’n skool vir Afrikanerkinders in die Gibeon-omgewing te begin. In 1903 skuif die skool na Kub aan die Visrivier waar dit vir ’n halfeeu sou bestaan. In 1917 kom die Windhoek Hoërskool tot stand. Die onderrig was aanvanklik Hollands en Engels, maar vanaf 1950 slegs Afrikaans.

Engels en Hollands word in 1920 die amptelike tale van Suidwes-Afrika. Meneer Gys Hoffmeyer word die eerste Afrikaanssprekende administrateur van Suidwes-Afrika.

Foto 4Dit was veral ’n Duitse-Afrikaner, Ernst Schlengemann, wat ’n belangrike rol sou speel om Afrikaans in Suidwes-Afrika te vestig. Onder sy leiding verskyn op 8 April 1927 Die Suidwester-Afrikaner, ’n koerant wat bedoel was om as mondstuk vir Afrikaners te dien. Hy verteenwoordig die Afrikaanse gemeenskap van Suidwes in 1929 by die stigting van die FAK. Talle toneelstukke en poësie het ook uit Schlengemann se pen verskyn. Die heel eerste Afrikaanse gedig in Suidwes, naamlik “Die Namib-woestyn”, is in 1929 deur Schlengemann geskryf:

Verlate, verdor, deur die lewe verstoot,
Is my wese verbitter met nyd,
En ek voer in die diens van my Meester, die Dood,
Met alles wat lewe ’n stryd.
Heet soos my sonskyn en diep soos my sand
En hard soos my berge se rots,
Is die wreedheid van weerwraak wat binne my brand
Met die haat van gekrenkte trots.
Geen skoonheid, geen skadu, geen groenheid of gras,
Geen vleie my vaalte versier;
Seëvierend verdryf ek indring’rig gewas
En folter vir mens en vir dier:
Ek teken mirages uit tergende spot
Vir verdwaaldes, gemartel deur dors,
En my sande dans juigend met helse genot
Oor geraamtes verstrooi op my bors.

Maar saans as die mis oor my west’like strand
Soos ’n lykkleed my kaalte bedek,
En die nagwinde kerm oor my eind’lose sand
En skadu’s my lengte oorstrek-
Dan word ek meteens met weemoed omgewe,
Al bly ek hoogmoedig en wreed,
En ek smag na die wellus van groenheid el lewe,
En sug in my eensame leed.

Politieke omwentelinge

Gedurende 1949 kondig DF Malan aan dat Suid-Afrika nie langer op die inlywing van Suidwes by die Unie van Suid-Afrika sal aandring nie. In 1962 word die Odendaal-kommissie aangestel om die politieke, sosiale en ekonomiese toestande in Suidwes-Afrika te ondersoek. Dit lei onder meer daartoe dat ’n groot aantal plase van Afrikanerboere deur die regering gekoop en by die tradisionele grond van die Herero, Damara en Nama gevoeg word.

Op inisiatief van die NP van Suidwes-Afrika kom die 11 etniese groepe in 1975 in die ou Duitse Turnhalle in Windhoek byeen om te besin oor die konstitusionele toekoms van die land.

Regter MT Steyn, kleinseun van president MT Steyn, word vanaf 1 September 1977 as die eerste administrateur-generaal van Suidwes-Afrika aangestel. Hy gaan voort om die weg van een-mens-een-stem-verkiesing onder toesig van die Verenigde Nasies voor te berei en diskriminerende wetgewing af te skaf. Die Veiligheidsraad aanvaar Resolusie 435 waarvolgens Suidwes-Afrika op grond van ’n algemene verkiesing onafhanklikheid kan kry.

As gevolg van die Grensoorlog vind die verkiesing egter eers in November 1989 plaas, wat deur SWAPO gewen word.

Onafhanklikheidswording

Op 21 Maart 1990 word Suidwes-Afrika ’n onafhanklike staat en heet voortaan Namibië. Onafhanklikheidswording het vir die Afrikaners geweldige implikasies gehad. Gevestigde Afrikaanse kultuurorganisasies met Suid-Afrikaanse wortels het oornag uit Namibië onttrek. Afrikaanse en ander regeringskole moes Engels as onderrigtaal begin gebruik. Soos wat die Suid-Afrikaanse weermag uit Namibië onttrek, het die getalle van Afrikaners dramaties gekrimp. Die NG Kerk het amper 40 000 lidmate verloor en Die Voortrekkers se getalle het in ’n jaar of twee gedaal van 800 tot 40. Afrikanererfenisterreine het verlate en leeg gestaan en oor tyd verwaarloos. Vandag is daar ’n handjie vol Afrikaners, wat maar 2% van die totale Namibiese bevolking is.

Netwerk vir Afrikanerbelange

’n Handjie vol Afrikanerkultuurorganisasies het na onafhanklikheid oorgebly, soos Die Voortrekkers, die ATKV, die Dorslandtrekkersvereniging en ’n paar Geloftefeeskomitees. Die Afrikaanse groepe het nie goeie onderlinge skakeling met mekaar gehad nie. ’n Klein groepie Afrikaners het egter besef dat ons kultuur en tradisies nie op hierdie manier voldoende bewaar en uitgebou sou word in Namibië nie. Onder leiding van Nico Tromp, Callie Opperman, Polla Steyn, Ernst Stals en Jurie Viljoen is die organisasie Netwerk vir Afrikanerbelange gestig. Netwerk het uitgereik na Afrikaanse organisasies en begin om die werksaamhede te koördineer.

Netwerk het kulturele eiendomme en finansiële bates in Namibië deur middel van die Selfhelp Trust gekonsolideer, sodat dit aangewend kon word vir die bevordering van kultuur. In samewerking met Selfhelp Trust het Netwerk in die middestad van Windhoek ’n bymekaarkomplek vir Afrikaners opgerig en dit Ons Erfdeel genoem. Op die terrein is ook ’n belangrike Afrikanermonument in Namibië, naamlik die Bittereinder-monument. Die boodskap was duidelik – Afrikaners is steeds hier, is steeds georganiseerd en lewer steeds ’n bydrae.

Foto 5Afrikaanse kultuur in Namibië het in so mate begin blom dat die Ministerie vir Onderwys en Kultuur die Boeremusiekgilde in 2013 finansieel ondersteun het om in die VSA te gaan optree. Netwerk het in 2013 hande gevat met die FAK deur die ondertekening van ’n kulturele vennootskap. Dit is die eerste internasionale kulturele vennootskap tussen Afrikanerkultuurorganisasies.

Netwerk het by die Rapport Onderwysfonds se beurskomitee betrokke geraak om te verseker dat voornemende Namibiese Afrikaanse onderwysstudente beurse kry wat hulle kan terugploeg in die land.

Afrikaners het op eie inisiatief privaat Christelik-Afrikaanse skole regoor die land gestig. Uit eie kapitaal het Afrikaners die skole gefinansier, onderwysers betaal en geboue opgerig wat in geldwaarde gesamentlik al meer as ’n biljoen Namibiese Dollar werd is (R1 = N$1). Vandag is daar duisende Afrikaanse kinders wat kwaliteit onderwys op Christelike grondslag in hul moedertaal ontvang, iets wat baie Afrikaansprekendes in Suid-Afrika as vanselfsprekend aanvaar. Namibiese Afrikaners het die prys vir moedertaalonderrig nie net in geldwaarde betaal nie, maar ook deur harde werk, deursettingsvermoë en selfopoffering.

Foto 6Netwerk het in Die Voortrekkers ’n strategiese kultuurvennoot gevind om jong Afrikaners as leiers te ontwikkel. Die Voortrekkers word op Netwerk se bestuur verteenwoordig. Soos wat Afrikaners na onafhanklikheid hul selfvertroue herwin het, het die Voortrekkers se getalle dramaties gestyg van 40 na amper 500. Nico Tromp, wat ook die eerste Presidentsverkenner in Namibië was, is in 2013 deur die Hoofbestuur van Die Voortrekkers aangewys as die eerste Namibiër om as Hoofbeskermheer van Die Voortrekkers in Suidelike-Afrika te dien.

Namibiese Afrikaners dink lankal nie meer aan hulself as die vyfde provinsie of die verlengstuk van Suid-Afrika met sy probleme nie. In twee dekades het Namibiese Afrikaners hul eie kultuurvoete gevind, eie kultuurorganisasies gestig, monumente en terreine gebou, kultuurfondse geskep, eie helde ontwikkel en antwoorde vir hul uitdagings gevind. Namibiese Afrikaners is nie net staatkundig nie, maar ook kultureel onafhanklik. Die ontwikkeling van netwerke en vennootskappe vra van kultuurorganisasies ’n fyn trap om nie die eiesoortige ontwikkeling van Afrikanerkultuur dood te trap nie. Die kulturele verskeidenheid verryk en verdiep Afrikanerkultuur in Suider-Afrika. Soos die Dorslandtrekkers van ouds is die Namibiese Afrikaners steeds besig om nuwe horisonne vir Afrikaners te verken.

Kulturele bakens

Foto 7Erfdeel Kultuursentrum, Windhoek: Die sentrum in die middestad van Windhoek is opgerig deur Netwerk vir Afrikanerbelange en huisves ’n Afrikaanse biblioteek en Afrikanerargief. Dit dien hoofsaaklik as bymekaarkomplek vir Afrikanerorganisasies.


Foto 8Bittereinder-monument, Windhoek: Die monument is opgerig ter nagedagtenis aan die bittereinders tydens die Anglo-Boereoorlog. Die monument verwoord ook iets van die opstaan na die oorlog met die woorde: “Ook ons het gebou.”


Foto 9Dorslandtrekker-monument, Swartbooisdrift: Die Dorslandtrekker-monument is in 1953 onthul tydens die 25-jarige herdenking van die hervestiging van die Dorslandtrekkers in Suidwes-Afrika, wat vir ’n halfeeu in Angola gewoon het. Dit is ontwerp en opgerig deur Jan van der Smit, ’n afstammeling van die Dorslandtrekkers. Sedert 2003 word elke vyf jaar ’n Dorslandtrek-gedenkfees gehou, waartydens ’n gedenksteen by die monument gevoeg word.


Kultuursimbole

Foto 10Simboliek van items op die Dorslandtrek-gedenkfeesvlag

Wawiel: Simboliseer die historiese en kulturele eenheid binne die Afrikanergeledere

Halwe wawiel, deel van die groter wa: Dorslandtrekkers as deel van die Afrikaners in Suidelike Afrika, met die Groot Trek as gemeenskaplike herkoms. Die wawiel simboliseer verder die historiese agtergrond waarteen die Dorslandtrek plaasgevind het.

Son: Simboliseer die toekoms

Groen lourierblare: Simboliseer oorwinning