Suid-Afrikaners veg in Angola

Onafhanklikheid vir enkele tuislande
January 26, 2015
Betogings teen Afrikaans
January 26, 2015

Die bewind van premier Marcello Caetano van Portugal is op 25 April 1974 omvergewerp. Dit het die lotgevalle van die Portugese gebiede Mosambiek en Angola ten nouste geraak. Mosambiek het in Julie 1975 onafhanklik geword. Teen die verwagting in het Suid-Afrika die Kommunistiese Frelimo nie probeer verhinder om aan die mag te kom nie.

Angola het in November onafhanklik geword. Daar het drie bewegings meegeding. Die MPLA, wat openlik gesteun is deur die Sowjet-Unie, het sterk gestaan in en om die hoofstad Luanda; die FLNA se magsbasis was in die noorde van die land en Unita het veral van die suidelike stamme steun gekry. Nog voor onafhanklikheid het ’n burgeroorlog uitgebreek wat tot aan die grens met Namibië uitgebrei het. Om die MPLA te help, is Kubaanse troepe en Russiese krygstuig na Angola gestuur.

Die Amerikaanse en ander Westerse regerings en ook sommige Afrikalande het besorgd geraak oor die indringing van die Sowjet-Unie in Afrika. Met die medewete en selfs op aandrang van die betrokke regerings het Suid-Afrika ’n klein troepemag oor die grens van Angola gestuur om Unita en die FLNA te help in die stryd teen die MPLA en sy meer as 10 000 Kubaanse helpers. Die Suid-Afrikaners het klinkende oorwinnings oor die Kubane behaal. Die Amerikaanse Kongres het egter geweier dat die Amerikaanse regering sy beloofde steun aan die teenstanders van die MPLA verskaf. Suid-Afrika het in Maart 1976 gevolglik sy troepe teruggetrek. Die Angola-avontuur was ongewild onder baie blankes en die oudredakteur en kommentator, Schalk Pienaar, het dit ’n “ligte mistykie” genoem.

Die MPLA het die mag in Angola oorgeneem, hoewel Unita in die suide sy stryd voortgesit het. Die MPLA-oorwinning het van die bewaking van die Namibiese noordgrens ’n gedugte taak gemaak. Al meer bruin en swart soldate het saam met wit soldate gaan grensdiens doen.

Die onttrekking van die Suid-Afrikaners uit Angola in Maart 1976 is voorgestel as ’n swart oorwinning oor die wit Suid-Afrikaners. In die swart woonbuurte het die opstandigheid en ontevredenheid oor apartheid toegeneem.

’n Belangrike broeiplek vir onrus was die onderwys. Toe die sentrale regering in die vyftigerjare swart onderwys oorgeneem het, is besluit dat die Afrikatale die voertaal aan laerskole sou wees. Dit het die ontwikkeling van die tale baie aangehelp. Maar in die hoërskole is dié tale nie gebruik nie, onder meer weens ’n gebrek aan handboeke daarin. Daar moes Afrikaans en Engels sover moontlik gelyk behandel word as voertaal. Amptenare het die beleid soms onbuigsaam toegepas. Party amptenare van Bantoe-onderwys se houding was dat wit belastingbetalers die onderwys van swart kinders betaal en dat blankes dus moet besluit wat gedoen moet word.

Die houding van amptenare het die verset teen Afrikaans as een van die voertale in hoërskole laat toeneem. Dit is aangegryp deur mense wat die hele onderwysstelsel wou aftakel en verset teen die regering wou skep. Die ongegronde gedagte dat swart onderwys daarop bereken is om swart handlangers vir wit mense op te lei, is oral verkondig.