Suid-Afrikaners veg in Afrika

Die Tweede Wêreldoorlog breek uit
January 24, 2015
Ossewabrandwag en Stormjaers
January 24, 2015

Die oorlog het die armblankevraagstuk help oplos omdat die oorlogsekonomie en die verdedigingsmag aan soveel armes ’n heenkome gegee het. Weens die verset teen die oorlogsbeleid wou Smuts, opperbevelhebber van die strydkragte, nie mense opkommandeer nie. Hy het egter beroepe op mense gedoen om vrywillig aan te sluit. Duisende hét ook. Teen 1942 was daar 150 000 en teen die einde van die oorlog 200 000 wittes in die gewapende magte – die meerderheid Afrikaans. Daarby het duisende swart en bruin mense hulpdienste verrig. Duisende vroue is in diens geneem as verpleegsters, voertuigbestuurders en tiksters. ’n Groot probleem was om uitrusting vir die leër te vind. Die enigste wapenfabriek was die Pretoriase Munt, waar kleingeweer-ammunisie vervaardig is. Die regering het doktor HJ van der Bijl, besturende direkteur van die yster- en staalfabriek in Pretoria, as direkteur-generaal van oorlogsvoorrade aangestel. Onder sy leiding is stappe gedoen vir die produksie van die nodige oorlogstoerusting. ’n Aantal fabrieke het uniforms, komberse en dergelike vervaardig en die staalfabriek weer allerlei soorte wapens en ammunisie. Baie herstelwerk vir die Britse leër is hier gedoen en dosyne vliegvelde is aangelê om Britse vlieëniers op te lei.

Onmiddellik ná die uitbreek van die oorlog het Suid-Afrikaanse bomwerpers lugaanvalle op Italiaanse forte en vliegvelde in Abessinië (Ethiopië) gedoen en van einde 1940 af het die Suid-Afrikaanse leër ook in die gebied geveg. Binne enkele maande was die veldtog in Abessinië verby. Die Italiaanse weerstand was swak, maar die Unietroepe, die meeste Afrikaners, het getoon dat hulle afstammelinge was van die taai bittereinders van weleer.

Ná die verowering van die Italiaanse ryk in Oos-Afrika is die Eerste en Tweede Suid-Afrikaanse Divisie onder generaal-majoor George Brink en generaal-majoor Pierre de Villiers in Julie 1941 na Egipte. In Noord-Afrika het die Suid-Afrikaners te staan gekom teen die beroemde Duitse generaal Erwin Rommel. Dié het op 20 Junie 1942 die vesting Tobruk aangeval, waar generaal-majoor HB Klopper op 21 Junie moes oorgee. Daarmee het ’n ontsaglike buit en 25 000 krygsgevangenes (10 727 van hulle Suid-Afrikaners) in Duitse hande geval. Die 49-jarige Rommel is bevorder tot veldmaarskalk en hy het sy opmars voortgesit en sy vyande tot diep in Egipte teruggedryf.

Eers by El Alamein, nie ver van Alexandrië nie, kon hy in Julie 1942 tot stilstand gebring word. Rommel, wat aan bande gelê is weens gebrek aan brandstof, kon nie stand hou teen die Geallieerdes wat op 23 Oktober met die slag teen hom begin het nie. Hy moes terugtrek en ook die Eerste Suid-Afrikaanse Divisie onder generaal-majoor Dan Pienaar het aan die agtervolging deelgeneem. Toe Tobruk op 12 November ontset is, was die Suid-Afrikaners die eerste wat dit binnegetrek het. In Mei 1943 het die einde van die oorlog in Noord-Afrika aangebreek. 250 000 Italiaanse en Duitse soldate moes oorgee. In die veldtog het die Suid-Afrikaanse lugmag, landmag en mynveërs ’n aansienlike rol gespeel. Daarna het hulle in Italië gaan veg.