Suid-Afrika en die “Groot Oorlog”

Afrikaans word universiteitstaal
January 22, 2015
Nasionale Party vorder
January 22, 2015

Afrikanernasionalisme is versterk deur die verset teen die land se deelname aan die “Groot Oorlog” soos die Eerste Wêreldoorlog bekend was totdat die Tweede Wêreldoorlog sy naam gekry het. Maar die oorlog het Afrikaans indirek bevorder. Nadat die Rebellie onderdruk is, het Suid-Afrika Duits-Suidwes-Afrika in besit geneem onder persoonlike bevel van generaal Botha. In Mei 1915 het sy magte Windhoek binnegeruk en in Julie is die Duitse hoofmag tot oorgawe gedwing. Voorlopig het amptenare en polisie die gebied beheer, maar ná die vredesverdrag tussen Duitsland en die Geallieerdes het die mandaatkommissie van die Volkebond die beheer daaroor aan Suid-Afrika opgedra. Die naam het nou Suidwes geword, hoewel ouer mense dit Duitswes bly noem het. Baie Afrikaners is daarheen, onder andere die voorouers van die skrywer en storieverteller Jan Spies, en het die Afrikaanse element so versterk dat Suidwes in die tweede helfte van die twintigste eeu die mees Afrikaanse deel van Suider-Afrika was.

Nadat Suidwes verower is, het generaal Jan Smuts in 1916 die bevel van die Suid-Afrikaanse en Britse magte in Oos-Afrika oorgeneem. Hy het ’n swaar stryd gehad teen die Duitsers onder aanvoering van generaal Paul von Lettow Vorbeck. Teen die einde van die oorlog was Duits-Oos byna heeltemal verower, maar Von Lettow en sy manskappe het met die hulp van swart hulptroepe of askari’s die stryd op Portugese bodem voortgesit en eers aan die end van die oorlog die wapen neergelê. ’n Vrywillige afdeling Suid-Afrikaanse troepe het saam met die Britse magte in Frankryk geveg en in Julie 1916 in Delvillebos swaar verliese gely tydens die veldslag van die Somme. Sowat 750 man het die heldhaftige slag oorleef – al wat oor was van die Brigade van 3433 man.

In Januarie 1917 het Botha Smuts teruggeroep en na Londen afgevaardig om aan die Rykskonferensie deel te neem. Hy is in Engeland as held verwelkom. Groot ophef is van hom gemaak as eertydse teenstander wat nou Britse staatsman geword het. Lloyd George het hom in sy oorlogskabinet opgeneem. Baie Afrikaners het egter sy samewerking met Brittanje as verraad beskou, en hy het die bynaam “handyman van die Empire” gekry. Botha en Smuts het die Vrede van Versailles met groot teensin geteken omdat die oorwinnaars sulke harde vredesvoorwaardes aan die oorwonne Duitsland opgelê het. Hulle het dit beskou as ’n toekomstige bedreiging vir die wêreldvrede, en die geskiedenis het hulle reg bewys. In ’n pleidooi vir gematigdheid het Botha in Parys sy hande op Milner se skouers geplaas en gesê dat die Vrede van Vereeniging “not unjust” was, ’n “generous peace”. Tog, toe die Duitsers op 28 Junie 1919 die vernederende verdrag moes onderteken, het die Boer Botha in sy sakboekie neergeskryf: “Vandag gedenk ek 31 Mei 1902”.

Botha was reeds ’n siek man toe hy in November 1918 uit Suid-Afrika vertrek het. Die maande onder die vredemakers het hom vermoei. In Augustus 1919 het hy op sy plaas in Standerton ’n swaar verkoue opgedoen en na Pretoria gereis. Hy is op 27 Augustus 1919 op 56-jarige leeftyd aan ’n hartaanval oorlede. Smuts was sy opvolger.