Stryd oor kieserslyste

Die eerste apartheidsmaatreëls
January 25, 2015
Apartheid skep bitterheid
January 25, 2015

Die onderlinge agterdog tussen die Nasionale en Verenigde Party het bygedra tot een van die negatiefste apartheidsmaatreëls – wetgewing om die bruin kiesers van die gemeenskaplike kieserslys in Kaapland te verwyder. Die NP het die VP daarvan beskuldig dat laasgenoemde net in die bruin mense belang stel as daar ’n verkiesing nader. Dan is talle bruin kiesers geregistreer, maar in kiesafdelings waarin die NP sterk staan of waar die VP niks van die NP te vrees gehad het nie, is die bruin kiesers aan hulleself oorgelaat. Die beweringe is tot groot hoogte bevestig in die boek In Smuts’s Camp deur BK Long, gewese redakteur van die Cape Times. Die Engelssprekendes in die VP het weer gevrees dat die NP ná die kieserslyswetgewing hul taalregte sou wegneem.

In die provinsiale verkiesing het die VP twee Kaapse kiesafdelings teruggewen wat hulle in 1948 verloor het – die Paarl en Bredasdorp. Die NP het beweer dat dit net kon gebeur het omdat die VP in dié twee afdelings soveel meer bruin kiesers geregistreer het. Vir die NP, wat so lank al ten gunste van afsonderlike kieserslyste was, het dit die deurslag gegee. In 1951 het die regering sy Wetsontwerp op die Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers by die Parlement ingedien. Dit het bepaal dat die bruin kiesers van Kaapland op ’n afsonderlike lys kom met die reg om vier wit verteenwoordigers in die Volksraad te kies. Die wetsontwerp is wel in die Volksraad en Senaat aangeneem, maar vier bruin kiesers het met welslae appèl aangeteken op grond daarvan dat die wet nie aangeneem is met ’n tweederde-meerderheid in ’n gesamentlike sitting van die Volksraad en Senaat nie, soos deur die Grondwet vereis word. Ook daaropvolgende manipulasies om die wet deur te voer, is deur die hof ongeldig verklaar. In 1956 het die regering met sy planne geslaag nadat dit die Senaat vergroot en so die nodige tweederde-meerderheid op ’n gesamentlike sitting behaal het.

Die lang stryd het ernstige spanning tussen die regering en opposisie geskep – selfs in die regering. Havenga, Afrikanerpartyleier, was eers teen die wet. Die ontneming van hul stemreg het by bruin mense ’n bittere wrok geskep. Onder die kritiese nasionale Afrikaners was dertien dosente van Unisa en die UP wat in 1955 geprotesteer het. Ook MER en NP van Wyk Louw was daarteen. In Die Huisgenoot het Louw in sy rubriek “Die oop gesprek” teen onreg gewaarsku. Een van die krisisse waarin ’n klein volk kan beland, skryf hy, ontstaan wanneer ’n groot deel van die volk kan meen dat blote voortbestaan verkieslik is bo voortbestaan in geregtigheid. Daar is seker geen volk wat nie op die een of ander tyd so gesondig het nie; “en belangrikste van alles is om te weet dat die versoeking die bestendigste versoeking is wat elke volk in die woestyndae inwag – dat dit die grootste, die byna mistieke krisis is waarvoor ’n volk te staan, kan kom. Ek glo dat op ’n vreemde manier dit die krisis is waaruit ’n volk herbore, jonk, skeppend, te voorskyn kom, hierdie ‘donker nag van die siel’ waarin Louw gesê het:  Ek sal liewer ondergaan as deur ongeregtigheid bly voortbestaan.”