Stryd in die NG Kerk

“Sneeuwitjie van die veld”
April 19, 2015
Geestelike herlewing en Pinksterbidure
April 21, 2015

Al meer gebore Afrikaners het in die negentiende eeu in Nederland vir predikant gaan leer. Daar het hulle in aanraking met nuwe teologiese sienings gekom. Dié nuwe strominge en gesindhede wat veroorsaak is deur die Franse Revolusie en die verowering van Nederland deur Franse magte het gehelp om die grondslae van die Gereformeerde leer te ondermyn. Die gesag van die drie belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerk, wat sedert 1816 as die Nederlandse Hervormde Kerk bekend was, is feitlik nie meer erken nie. Hierteen het daar verset ontstaan wat as die Réveil (herontwaking) bekend is, en gesteun is deur prominente skrywers soos Willem Bilderdijk en Isaac da Costa en die politikus en skrywer Groen van Prinsterer.

Onder die jong Afrikaners wat na Nederland is, was die broers John en Andrew Murray, seuns van die Skotse leraar van Graaff-Reinet, Andrew Murray, en ’n Afrikaanse moeder. Hulle het in Utrecht in aanraking gekom met die Réveil en lede geword van ’n studenteklub Sechor Dabar (“Gedenk die Woord”), wat ’n uitvloeisel van die Réveil was. John Murray het in 1859 professor geword van die pas gestigte Teologiese Kweekskool in Stellenbosch. Andrew was van 1849 leraar, eers van Bloemfontein en daarna van Worcester, Kaapstad en Wellington. Dominee Murray het hom veral tuis gevoel in kringe wat ook op die gevoel in die godsdienstige lewe klem gelê het. Daarom kon hy goed aansluit by die opkomende Brits-Amerikaanse Metodisme. Die opwekkings of revivals na Metodistiese voorbeeld het hom aangetrek. Sy mooi persoonlikheid en innige Christelike lewenswandel, asook sy talle godsdienstige publikasies, het baie mense onder sy invloed laat kom.

Saam met die Murrays het NJ Hofmeyr en JH Neethling in Utrecht gestudeer en soos ’n paar ander by die Sechor Dabar aangesluit. John Murray en NJ Hofmeyr is aangestel aan die teologiese kweekskool wat as vesting teen die groeiende liberalisme sou dien. Dis in 1859 geopen met dié twee professore en vier studente. Baie Afrikaners in Nederland het egter onder die invloed van die liberalisme gekom, soos TF Burgers en JJ Kotzé. Ook die groot koerante het die liberale rigting gesteun.

Die botsing het begin toe die Sinode in Oktober 1862 in Kaapstad byeenkom. Die ouderling van Swartland, HH Loedolff, het beswaar gemaak dat daar afgevaardigdes uit die Vrystaat en Natal is, en het hom op die Hooggeregshof beroep om uitspraak te gee. Dié het op 26 November 1862 besluit dat Loedolff se standpunt korrek is. Die kerk moes noodgedwonge aanvaar dat daar vir die Kolonie, Vrystaat, Transvaal en Natal elk ’n aparte NG Kerk was. Op dié Sinode, asook op die hervatting daarvan in Oktober 1863, is aanklagte teen die twee liberale predikante, dominee JJ Kotzé en dominee TF Burgers, behandel. Albei is na die Hooggeregshof nadat die Sinode Kotzé uit sy amp ontslaan en Burgers as leraar geskors het weens onregsinnigheid. Die Sinode het die hofsake verloor. Burgers, predikant te Hanover en later president van Transvaal, was skrywer van Tooneelen uit ons dorp (1867) en Schetsen uit Transvaal (1872) wat heelparty lesers gehad het, ook in Nederland. Die gesprekke tussen karakters het hy in Afrikaans gegee.