Stemreg vir vroue

Die eerste Springbokke
January 23, 2015
FAK en ATKV kom tot stand
January 23, 2015

Wit vroue bo 21 jaar het in 1930 stemreg gekry nadat ’n gekose komitee van die Volksraad in 1926 aanbeveel het dat hulle kan stem. Verskeie vroueverenigings het hulle daarvoor beywer, onder meer die Women’s Enfranchisement League, waarvan Afrikanervroue opsy gestaan het omdat die beweging so Engels van oorsprong en instelling was.

Die eerste stap na vrouestemreg van Afrikanerkant was die vorming van die Vroue Nasionale Partye van die Vrystaat, Transvaal en Kaapland. Ook die SAP het ’n vroue-afdeling gehad. Wat ’n aansporing vir die wetgewing was, was die feit dat stemreg aan vroue die wit kiesers van Kaapland kon help om die swart stem in dié provinsie te neutraliseer.

Onder die Afrikanervroue wat hulle ter wille van die vroue self vir die stemreg beywer het, was dokter Petronella van Heerden, die eerste Afrikaanse vrou wat dokter geword het en in dié stadium verloskundige in Kaapstad was. Sy het op ’n kongres van die Vroue Nasionale Party gepraat; vooraf het sy die vroue oor die kwessie gepols, maar min was daarvoor te vinde. “Wat ek [op die kongres] gesê het, weet ek glad nie meer nie, maar die afgevaardigde van Marydale het my later vertel toe ek sê as die motor in die modder vasval, moet ons almal stoot, maar as dit uit is, klim die mans in en ry weg en die vroue bly in die pad staan, was dit vir haar nou net een te veel. Toe ek klaar gepraat het, is daar stilte en ek wag vir die aanvalle wat kom en hoop net dat ek hulle kan beantwoord. Daar gebeur niks. Toe staan ’n vrou in die voorste ry op. Sy sê sy reken die kongres moet die mosie eenparig en staande aanneem. Almal staan op. Dit was verbluffend. MER vertel my later een vrou het gesê: ‘Ek weet nie wat my ou man hiervan gaan sê nie!’ Ons ry huis toe, ek is op die hoofbestuur, verbaas, ’n biekie verbouereerd en diep onder die indruk van die plattelandse vrou.”

Terwyl die debat in die Parlement aan die gang was, was daar tot vervelens toesprake oor die edel roeping van die vrou wat haar nie toelaat om ’n kruisie op ’n stukkie papier te maak nie. Telegramme het ingestroom. Die hoofbestuur van die Vroue Nasionale Party het al die takke gevra om telegramme aan generaal Hertzog en hul parlementslede te stuur. Toe iemand sê die vroue wil nie stemreg hê nie, slaan Hertzog met sy hand op die stapel telegramme en roep uit: “En wat hiervan?” Hertzog het verklaar dat hy daarvoor is dat die bruin mense opgeneem word in die politieke en ekonomiese lewe van die wit mense, maar dat daar “vooroordeel” by sommige wit mense bestaan. Die bruin mense moet nie haastig wees vir vrouestemreg en hul kanse verbrou nie.

In die Senaat het Langenhoven, wat eers téén vrouestemreg was, daarvóór gestem. Toe hy Van Heerden kort daarna ontmoet, sê hy vir haar: “Ek verkrag my siel vir jou, en jy sê nie eers dankie nie!” Sy het hom “op die plek ’n soen gegee!”

Vroue is in 1931 geregistreer en kon in die verkiesing van 1933 stem. Die vroue van die Colesberg-kiesafdeling kon op 7 Julie 1932 stem in ’n kritieke tussenverkiesing. Die NP het die setel met moeite behou.