Staatspresident M.W. Pretorius se verydelde droom

Baie, baie geluk aan vanjaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo-wenners
November 5, 2018
Wees lief – Cordelia
November 6, 2018

Die droom van ’n selfstandige Voortrekkerrepubliek met ’n eie hawe was die een ideaal waarna elke Voortrekkerleier en staatspresident van die noordelike Boererepubliek gestreef het.

 

Andries Pretorius se ideale

Foto: Andries Pretorius

Louis Trichardt, Hendrik Potgieter en Andries Pretorius, die held van Bloedrivier, was die eerste Voortrekker-leiers wat hierdie droom probeer verwesenlik het. Pretorius het hierdie strewe met die onafhanklike Voortrekker-republiek van Natalia probeer uitvoer. Na die ongunstige wending wat daar in 1843 ingetree het, het hy met sy ideale na die binneland verhuis. Vervolgens het hy in 1848 die uitbreiding van die Britse gebied noordwaarts probeer teenstaan en het hy met ’n Boeremag by Boomplaats, in die suide van die latere Oranje-Vrystaat, teen die magte van sir Harry Smith opgetrek. Hy het hierdie geveg verloor.

Andries Pretorius was bedeel met uitsonderlike staatsmanskap. Nieteenstaande ’n losprys van £1 000 wat vroeër op sy kop geplaas is, en wat die Britte na die slag by Boomplaats tot £2 000 vermeerder het, het hy daarin geslaag om die Britse verteenwoordigers vier jaar later om die konferensietafel byeen te bring. Daar het hy met die Sandrivier-konvensie onafhanklikheid en ’n belofte van nie-inmenging vir die Voortrekker-gebied noord van die Vaalrivier bewerkstellig, omdat Brittanje gebiedsuitbreiding op dié tydstip as onwenslik beskou het.

 

M.W. Pretorius se strewe

Niemand het egter in die lig van die eietydse gebeure in die subkontinent meer gedoen en meer gewaag in sy strewe na ’n onafhanklike, verenigde Voortrekker-staat as Marthinus Wessel Pretorius nie. Sy ideale het sy staatsmanskap, wat nie vergelykbaar was met dié van sy vader – Andries Pretorius – nie, ewenwel oortref. Die gevolg was dat die droom van hom tot sy ondergang gelei het.

Foto: Stephanus Schoeman

Met die dood van Andries Pretorius in 1853 het Marthinus Wessel Pretorius die kommandant-generaalskap vir Potchefstroom en ’n gedeelte van Rustenburg oorgeneem. Na die dood van kommandant-generaal Enslin het hy ook beheer oor die distrik Lichtenburg uitgeoefen. Die res van die burgers in die gebied was saamgetrek onder kommandant-generaal W.F. Joubert in Lydenburg, en ná Potgieter se dood onder kommandant-generaal Stephanus Schoeman in die Soutpansberge.

Marthinus Wessel Pretorius het homself gesien as die leidende persoonlikheid in hierdie trio en die man om sy vader se ideale deur te voer. Die nuwe staat moes egter ’n grondwet kry, en daarvoor het hy hom aanvanklik beywer. In 1853 neem die Volksraad gevolglik ’n besluit dat die gebied noord van die Vaalrivier bekend sal staan as die Zuid-Afrikaansche Republiek, maar, helaas, geen grense word beskryf nie en daar was nog nie sprake van ’n grondwet nie.

M.W. Pretorius het daarna die dienste van ’n Nederlandse immigrant, ene Jacobus Stuart, ingeroep om ’n ontwerpgrondwet vir die Republiek op te stel. Hierdie grondwet word in Januarie 1858 deur die Volksraad aanvaar. Twee van die bepalings van hierdie grondwet lui dat beide die staatspresident en die kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek deur die volk verkies moes word.

In stryd met hierdie vereistes in die grondwet stel die Volksraad egter in dieselfde maand M.W. Pretorius aan as staatspresident en kommandant-generaal Stephanus Schoeman, van Soutpansberg, as kommandant-generaal van die Republiek. Hierdie optrede het groot onmin tussen die drie faksies van die Voortrekkers in die Republiek meegebring. Veral kommandant-generaal Schoeman het hom hardnekkig teen dié besluit verset. Hierdie twis het feitlik op ’n volskaalse burgeroorlog uitgeloop.

Foto: Die eerste bekende afbeelding van Pretoria is hierdie waterverfskildery deur mej. Marian Churchill in 1857. Pretoria is in 1855 gestig om Pretorius se ideaal van sentrale setel vir die Volksraad te verwesenlik, hoewel Potchefstroom vir enkele jare nog die setel gebly het

Pretorius en die Oranje-Vrystaat

Intussen het M.W. Pretorius nie op hom Iaat wag nie, maar sy staatkundige ideale probeer verwesenlik. Binne ’n maand na sy aanwysing as staatspresident, op 24 Februarie 1857, eis hy in ’n onbeholpe staatsgreep die Oranje-Vrystaat op as deel van sy Republiek. As rede daarvoor voer hy ooreenkomste aan wat sy oorlede vader met Moselekatse sou aangegaan het. Pretorius het hom egter hopeloos misreken met die steun wat hy vanuit Vrystaatse geledere verwag het, en hy word deur die plaaslike regering beveel om die Oranje-Vrystaat binne 24 uur te verlaat.

Terug in die Zuid-Afrikaansche Republiek oortuig hy egter genoeg lede van die Volksraad van die juisheid sy strewe, sodat hy toegelaat word om met ’n gewapende mag teen die Oranje-Vrystaat op te ruk. Die gevolg was dat die magte van die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat teenoor mekaar stelling ingeneem het by Renosterrivier en broer teenoor broer en familielid teenoor familielid gestaan het. Toe Pretorius verneem dat Schoeman, van die Soutpansberg, en Joubert, van Lydenburg, gereed gestaan het om aan die kant van die Vrystaters te veg, het hy die altyd teenwoordige Paul Kruger met ’n wit vlag uitgestuur en die oorlog beëindig voordat dit kon begin. Daarna het Pretorius dit oorgelaat aan sy ondersteuners in die Oranje-Vrystaat om met die verwesenliking van sy verenigingsideale voort te gaan.

As gevolg van die swak ekonomiese posisie van die Oranje-Vrystaat was die algemene gevoel onder die inwoners van daardie land dat die Oranje-Vrystaat wel met Transvaal of die Kaapkolonie sou moes verenig om kop bo water te kan hou, veral in die lig van die sterk Basoeto-magte in hul bergvesting aan die oosgrens. Hierdie gedagte het meegebring dat twee groepe in die Oranje-Vrystaat drie jaar later onderskeidelik sterk gepleit het vir inlywing by die Kaapkolonie of die Zuid-Afrikaansche Republiek. Pretorius se volgelinge het hierdie stryd gewen en hy is in Desember 1859 ook verkies as president van die Oranje-Vrystaat.

Intussen is die onderlinge twis oor die grondwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek opgelos en ’n nuwe grondwet op 16 Februarie 1858 aanvaar. M.W. Pretorius het as staatspresident aangebly en Stephanus Schoeman het die amp van kommandant-generaal aanvaar.

Pretorius het hierdie kans weer aangegryp om sy verenigingsideale met die Oranje-Vrystaat ten uitvoer te bring, en daarvoor staan die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek ses maande verlof aan hom toe. Hy kon egter weer nie slaag nie, en toe sy aandag nodig was vir verskeie aangeleenthede binne die grense van die Zuid-Afrikaansche Republiek, oorreed die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek hom om as president van die Oranje-Vrystaat te bedank as voorwaarde vir sy herverkiesing in 1864 vir ’n verdere termyn as staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek.

Foto: David Livingstone

Voorlopig het Pretorius se strewe vir ’n verenigde Voortrekker-staat dus deur die mat geval en tewens moes hy sy onverdeelde aandag wy aan interne sake soos die eise van die Zoeloe-stamme, probleme met Swart stamme in die westelike gebiede, en die aggressie van vlugtelinge voor Moselekatse vanuit die noorde. Die aanslae vanuit die noorde onder hoofman Magadu het tot gevolg gehad dat die burgers Schoemansdal later moes ontruim en suidwaarts terugtrek. Dié probleme is ook veral aan die westelike front vererger deur die rol wat sendelinge as opstokers en wapenverskaffers aan Swart stamme gespeel het—en wel in so ’n mate dat die bekende David Livingstone deur die Zuid-Afrikaansche Republiek gelas is om daardie gebied te verlaat.

Op hierdie tydstip in die geskiedenis het die vae en onbeskrewe grense van die Zuid-Afrikaansche Republiek soos volg daar uitgesien:

Aan die suidekant was die grens volgens die Sandrivier-konvensie die Vaalrivier, maar daar was ’n dispuut tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje-Vrystaat oor die grens by die bolope van hierdie rivier. Aan die suid-oostekant het daar ’n los verdrag met Panda, die Zoeloe-opperhoof, bestaan, maar die geldigheid daarvan is deur sy opvolger, Cethswayo, in twyfel getrek. Suid-oos het verdrae met Umzwaas, die Swazi-koning, sy gebied vir die Republiek toeganklik gemaak. Oos was daar slegs ’n vae idee van ’n grens tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Mosambiek, die Portugese kolonie. Noordwaarts het die res van Afrika braak gelê, die invloedsfeer van Moselekatse uitgesonder. Die weste, tot aan die woestyn, en noord van die Oranje-rivier is aanvaar as ’n gedeelte van die Zuid-Afrikaansche Republiek as gevolg van die bewoning daarvan deur enkele Voortrekkers en die jurisdiksie wat die Republiek se landdros in Bloemhof oor dié gebied uitgeoefen het.

Twee belangrike gebeurtenisse in Suidelike Afrika het Pretorius op hierdie stadium tot vinnige aksie gedwing in wat moontlik bestempel kan word as ’n wanhoopspoging om ’n selfstandige Boere-republiek met ’n eie hawe gevestig te kry. Beide gebeurtenisse het in 1866 plaasgevind.

 

Pretorius en uitbreiding na die noorde

Die eerste diamante is in die gebied noord van die Vaalrivier ontdek. Ook ontdek die legendariese olifantjagter Henry Hartley op een van sy jagtogte noord van die Limpoporivier die oorblyfsels van eeue-oue goudmyne aan die Tati-rivier, diep binne die grense van die huidige Zimbabwe. Gedurende die daaropvolgende jaar oorreed Hartley vir Karl Mauch, die bekende Duitse ontdekkingsreisiger en geoloog, om sy vondse te besigtig. Mauch deel dadelik in Henry Hartley se entoesiasme.

Foto: In 1867 het dr. Wangemann, direkteur van die Berlynse Sendinggenootskap, ’n besoek aan Suid-Afrika gebring en ’n tydjie in Pretoria vertoef, waar hy hierdie skets gemaak her. Op dié stadium was Pretoria die setel van die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek

In 1867 is Karl Mauch terug in Pretoria en verkondig hy wyd en syd sy verhaal van ryk goudvondse aan die Tati-rivier. Dit laat delwers vanoor die hele wêreld in die gebied belang stel, en die ou legendariese sendeling- en jagtersroete na die noorde begin skielik tekens van ekonomiese belangrikheid toon.

Pretorius, lugtig vir die moontlike totstandkoming van ’n Britse staat noord van die Republiek, en gretig om die goud van daardie gebied vir sy leë staatskas te bekom, tree dadelik op. Hy stuur ’n gesant, ene J.W. Viljoen, om met Moselekatse te onderhandel. Viljoen slaag in sy doel, hoofsaaklik omdat Moselekatse nog groot respek vir die afgestorwe Andries Pretorius koester. Die Matebele-opperhoof gee toestemming dat die Zuid-Afrikaansche Republiek die goudmyne mag ontgin, ‘al grawe hulle die berge weg’. In ruil vir hierdie gebaar erken die Zuid-Afrikaansche Republiek vir Moselekatse as opperhoof van die Matebele-nasie.

Terwyl Viljoen tydens sy lang reis en onderhandelings uitstedig was, het Pretorius reeds die Volksraad vir sy beoogde uitbreidingsplanne voorberei. Op 6 April 1868 kry hy goedkeuring daarvoor, maar met dié voorbehoud dat hy nie mag optree nie alvorens hy ingelig is van die uitslae van Viljoen se sending na Matebeleland.

Twee weke later, op 22 April 1868, tref ’n ongekende goudkoors egter die Zuid-Afrikaansche Republiek toe ‘The Transvaal Argus and Commercial Gazette’ – die eerste Engelse koerant in Pretoria – berig dat ’n sekere kaptein Black onderweg is om die Tati-goudvelde te ontgin en dat hy die Union Jack daar wil hys. Daar word ook melding gemaak van ’n georganiseerde groep burgers uit die Waterberge wat beplan om na die goudvelde te verhuis. Intussen vier die diamantkoors ook hoogty in die omstreke van die

Dit laat Pretorius in die netelige posisie om te besluit en op te tree sonder om van die uitslag van Viljoen se sending af te wag. Hy proklameer nuwe grense vir die Zuid-Afrikaansche Republiek in die ‘Staats Courant’ van 29 April 1868. Daarvolgens sou die Zuid-Afrikaansche Republiek bykans drie keer so groot as die huidige Transvaal wees. Dit het nagenoeg die helfte van die huidige Zimbabwe ingesluit asmede die grootste gedeelte van die huidige Botswana tot aan die woestyn, die diamantvelde, insluitende die huidige Kimberley, Swaziland as gevolg van verdrae met koning Umzwaas, en ’n deurgang tot by die see al met die Pongola- en Umsuthu-rivier langs.

Daar kan aanvaar word dat hierdie proklamasie met toestemming van die Volksraad in die allergrootste haas, en waarskynlik sonder dat die grense vir hierdie doel besoek is, opgestel is, want daar kom geografiese foute in voor. So vloei die Gwaai-rivier nie in die Botletle-rivier nie (voorheen die Kuway- en Zeuga-rivier onderskeidelik), en is dit haas onmoontlik om hierdie grense akkuraat op ’n kaart aan te toon. In ’n brief van Friedrich Jeppe aan Karl Mauch, waarna weer verwys sal word, meld Jeppe dat selfs die landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ene Forssman, nie al die grensbakens kon identifiseer nie en gevolglik deur die Volksraad aangesê is om die grense te besoek en ’n deeglike kaart op te stel.

Die kaart wat hier afgebeeld word, dui die grense aan soos dit in 1869 daar uitgesien het, moontlik ’n jaar na die proklamasie en waarskynlik nadat Forssman die grense besoek het en die vriendskapsverdrag met Portugal gesluit is. Daarvolgens strek die grense selfs verder noord as in die proklamasie aangedui is tot feitlik teen die Zambesi-rivier. Waar die proklamasie as deurgang tot die see ook net van een ‘myl’ grond aan weerskante van die ‘Umzutie-rivier’ melding gemaak het, is die verbinding met die see nou as ’n breë band parallel met Swaziland aangetoon.

Die proklamering van die grense by proklamasie in die ‘Staats Courant’ van 29 April 1868 het in die republiek se amptelike taal, Hollands, geskied. Hoewel die Zuid-Afrikaansche Republiek op hierdie stadium nog afgesonder van die buitewêreld was – die eerste telegraaflyn is eers op 19 September 1879 – 11 jaar later, tussen Newcastle en Pretoria oopgestel – het die nuus in verband met die nuwe grense die aangrensende state en die betrokke grootmoondhede nogtans vinnig bereik.

 

Foto: Hierdie kaart dui die grense van die Zuid-Afrikaansche Republiek aan, waarskynlik in 1869 nadat die landmeter-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, ene Forssman, die grense besoek het en die Vriendskapsverdrag met Portugal in werking getree het. Die geografiese foute wat in die proklamasie voorgekom het, is uitgeskakel en die deurgang na die see sien daar anders uit

Pretorius ondervind teenstand van die Kaapse regering

Veral Richard Southey, die Kaapse sekretaris, het gesien dat die weg vir moontlike Britse uitbreidings na die noorde deur die proklamasie gesluit word. Hy het besef dat die Kaap se hawens die meeste aan uitvoere sou verloor as Pretorius se proklamasie sonder verset aanvaar word. Hy het dit so gestel: ‘The Republic has absorbed the country of many natives, with whom we have always been on friendly terms and through whose territory our traders and hunters go for ostrich feathers, ivory, etc. If this is permitted it will ere long seriously interfere with our interior trade.’

Een van die eerste gevolge van Pretorius se proklamasie was dat beide Brittanje en Portugal hul eise vir grondgebied aan die ooskus gestel het. Sir Philip Wodehouse, goewerneur van die Kaapkolonie, het ’n oorlogskip na Delagoabaai gestuur om die gebied noordwaarts aan die kus tot by die 26ste breedtegraad vir Brittanje te beskerm. Insgelyks het Portugal inderhaas sy konsul van Kaapstad daarheen gestuur en die gebied suidwaarts tot by die 26½-ste breedtegraad vir Portugal opgeëis as gevolg van bewoning sedert die 16de eeu.

 

Pretorius en Portugal

Dit was vir Pretorius duidelik dat waar hierdie grootmoondhede nou aanspraak op dieselfde gebied aan die ooskus gemaak het as gevolg van langdurige bewoning of proklamasies, die Zuid-Afrikaansche Republiek op hierdie stadium kon vergeet van ’n deurgang na die see en ’n eie hawe. Om die Portugese se gemoedere te kalmeer en die gebruik van Mosambiek se hawens vir die Republiek te verseker, kon Pretorius bloot sy hoop vestig op ’n vriendskapsverdrag met Portugal.

Hierdie vriendskapverdrag is op 29 Julie 1869 gesluit. In hierdie ooreenkoms is die grense tussen die Zuid-Afrikaansche Republiek en Mosambiek omskryf soos dit tot vandag bestaan. Die verdrag het ook uitleweringsooreenkomste ingesluit en die gebruik van Mosambiek se hawens vir die Republiek moontlik gemaak. President Pretorius is deur die koning van Portugal met ’n kommandeurskruis vereer.

Tot op hierdie stadium van sy geskiedenis het die Zuid-Afrikaansche Republiek slegs een geloof, Protestantisme, toegelaat, hoofsaaklik om die Britse kerke en sendelinge buite die grense van die Republiek te hou. Portugal wou egter dat sy onderdane in die Republiek die Katolieke geloof moes kon beoefen. ’n Klousule in hierdie genoemde vriendskapsverdrag verklaar dat die Zuid-Afrikaansche Republiek voortaan ’n godsdiensvrye land sou wees, wat dit vandag nog is. Hierdie besluit is op 1 Junie 1870 deur die Transvaalse Volksraad bekragtig. ’n Verdere grensooreenkoms het op 26 Oktober 1870 tot stand gekom en daarna is pogings aangewend om verbindingsweë tussen Delagoabaai en Transvaal daar te stel. Hierdie ideaal is deur president Kruger verwesenlik.

 

Pretorius en noordelike en westelike uitbreiding. Die diamantveldgeskil

Ten noorde van die Limpoporivier kon die Zuid-Afrikaansche Republiek ook nie sy aansprake op die nuutontdekte goudvelde behou nie. Die Republiek het nie oor ’n besettingsmag beskik nie, en kon nie mense lewer om die gebied te bewoon nie. In 1868 is die London & Limpopo Mining Co. in Londen geregistreer en in 1869 het sir John Swinburne, dié maatskappy se hoofbestuurder, die Tati-rivier bereik met die nodige toerusting om die goudvelde te ontgin. Sy groep is kort daarna met delwers uit Australië aangevul, wat ’n effektiewe besetting van hierdie gebied deur Britse onderdane meegebring het.

Aan die westelike grens het die Zuid-Afrikaansche Republiek as gevolg van regpleging en bewoning aanspraak gehad vir uitbreiding van sy grondgebied. Die ander aanspraakmakers na die ontdekking van diamante was verskeie Swart stamme, bygestaan deur hul agente of deur sendelinge, en Brittanje. Ook die Vrystaat het in die geskil betrokke geraak en in 1870 het president Brand bewys dat ’n deel van die betwiste gebied Vrystaatse grondgebied was. Pretorius het, van sy kant, ook ’n deel van die gebied opgeëis en die Britse regering het eweneens tot die stryd toegetree. Oorlog het tussen die Vrystaat en Engeland gedreig. Die Zuid-Afrikaansche Republiek was so seker van sy aansprake op ’n deel van die gebied dat Pretorius onverwyld en te goeder trou ingestem het tot arbitrasie oor die aansprake in die gebied, wat gelei het tot die sogenaamde Keate-toekenning.

Foto: Friedrich Jeppe

Voordat hierdie arbitrasie egter plaasgevind het, het die vergrote Zuid-Afrikaansche Republiek reeds onduidelikheid opgelewer vir twee kartograwe, Friedrich Jeppe, wat bekendheid verwerf het weens sy geografiese kaarte van die Zuid-Afrikaansche Republiek, en Karl Mauch, wat ’n geologiese kaart van die Republiek opgestel het. Hulle het saamgewerk aan verskeie projekte en die volgende uittreksels uit ’n brief van Jeppe aan Mauch, geskryf op 15 Desember 1869, gee ’n aanduiding van die posisie waarin Pretorius hom op hierdie stadium bevind het:

‘As far as the boundaries according to Pretorius’s proclamation of April 1868 are concerned I would suggest that these should not be used in the maps. The Government of this Republic has enough trouble in maintaining the present natural boundaries without putting in any claims for unnatural ones. In the south we have a longstanding quarrel with the Freestate which claims the Vaal River right up to its sources, while the Republic claims the Klip River as a boundary …’

‘In the east we have constant quarrels with the Zulu tribes who are not content with the present boundaries, and the boundary between this Republic and the Portuguese possesions towards the north has been established in such a way by a recently completed treaty – which, however, has as yet not been sanctioned by the King of Portugal – that it in no way coincides with Pretorius’ Proclamation.

‘I could not up to now obtain a copy of this boundary treaty, but from what I have learned from reliable sources, the southern part of Delagoa Bay falls to Portugal and not the Republic …’

‘We have for years been at war with the natives in the north(-east) and only recently has this been concluded. The Limpopo will remain the north(-eastern) boundary for the obvious reason that the whole country to the north of it is claimed by the Portuguese.’

‘In the north-west we have the Matebele as neighbours, a belicose and powerful nation that would not cede one inch without force being used, while southwards of Mosilikatse’s country as far as Mahura, Gassibon and Jantje and up to the Vaal the boundary as now depicted on our map is claimed by this chief. A (later) proclamation by Pretorius of the 12 November 1869 reveals that he (Pretorius) is satisfied with the Hart River as a western boundary. You will agree with me, therefore, that the proclamation of April 1868 has no practical significance and that we had better ignore it for the time being…’

 

Die Keate-uitspraak

Die finale terugslag vir Pretorius se ideaal was die Keate-uitspraak waartoe Pretorius ingestem het en hom skriftelik verbind het om die toekomstige uitslag daarvan te aanvaar – so seker was hy van die aansprake van die Zuid-Afrikaansche Republiek op die betwiste gebied.

Sir Henry Barkly, goewerneur aan die Kaap na sir Philip Wodehouse, het Klipdrift in die betwiste westelike gebied in Februarie 1871 besoek en al die aanspraakmakers, insluitende Pretorius, ontmoet. Daar word onderling besluit om ’n arbitrasiehof in die lewe te roep en, soos vermeld, verbind Pretorius hom tot die uitslag.

Vir hierdie arbitrasiehof stel Pretorius sy landdros vir Wakkerstroom, Anthony Alexander O’Reilly, aan en Barkly vir John Campbell, spesiale Britse magistraat vir Klipdrift. Indien eenstemmigheid nie bereik kon word nie, sou verdere uitsluitsel deur Robert William Keate, luitenant-goewerneur vir Natal, gegee word.

Die sitting van die arbitrasiehof begin op 4 April 1871 in Bloemhof. Die Zuid-Afrikaansche Republiek se saak is gestel deur Pretorius en Frederik Kleijn, sonder enige stawende dokumente of deeglike voorbereiding. Die hof is gelei deur die geslepe agente van die ander aanspraakmakers in die geskil met vervalste dokumente. Die werklike gronde vir aansprake van die Zuid-Afrikaansche Republiek, nl. dat die betwiste gebied kragtens die Sandrivier-konvensie Transvaalse grondgebied was, het nooit na vore gekom nie. Die uitspraak van die hof was verdeel en die saak word na die Natalse goewerneur, Robert Keate, verwys vir ’n finale uitspraak.

Op 17 Oktober 1871 lewer Keate sy uitspraak en ken hy aan Nicolaas Waterboer en verskeie swart stamme die hele gebied wes van die Makwassie-spruit toe. Dit het die hele distrik van Bloemhof en groot dele van die distrikte Potchefstroom en Marico ingesluit.

Vier dae later word hierdie uitspraak deur sir Henry Barkly in Kaapstad ontvang en gebruik hy dit om deur ’n reeks proklamasies die hele betwiste gebied, min of meer die huidige Griekwaland-Wes, onder Britse beheer te kry. Die anneksasie was ’n voldwonge feit op 27 Oktober 1871.

 

Pretorius neem sy ontslag

Hoewel hierdie hoegenaamd nog nie die finale dispute oor die grondgebied van die Zuid-Afrikaansche Republiek was nie, en ’n deel van hierdie westelike gebied maar eintlik deel van die Republiek gebly het as gevolg van bewoning, het dit die einde van Marthinus Wessel Pretorius se loopbaan as staatspresident beteken. Hy is deur die Volksraad daarvan beskuldig dat hy ongrondwetlik opgetree het deur die akte van aanvaarding voor die sitting van die arbitrasiehof te onderteken. As gevolg van hierdie beskuldiging het hy sy amp as staatspresident neergelê. Hy het ook uit die openbare lewe getree, buiten vir ’n kort tydjie voor en na die Eerste- en gedurende die Tweede Vryheidsoorlog. Hy is in 1901 in Potchefstroom oorlede en daar begrawe.

Na Pretorius sou menige staatshoof van die Zuid-Afrikaansche Republiek nog pogings aanwend om die Republiek se grense uit te brei of ’n hawe aan die ooskus te bekom. Niemand sou egter ooit weer so twyfelagtig ambisieus soos Marthinus Wessel Pretorius optree nie, en nooit was dit weer vir ’n staatspresident nodig om sy amp as gevolg van s idealisme vir sy land en sy mense neer te lê nie.

 

Bron: Van Niekerk, H.L. 1981. Staatspresident MW Pretorius se verydelde droom. Lantern, Mei, pp. 33-44.