(Soos verskyn in Historia Junior)
Op 31 Mei 1961 is adv. CR Swart op Pretoria ingesweer as die eerste Staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika. Baie van julle het seker self die groot republiekfees daar bygewoon. Hier is ’n kort lewenskets van ons geëerde Staatspresident:
Charles Robberts Swart is op 5 Desember 1894 gebore op die plaas Morgenzon in die distrik Winburg, O.V.S. Sy vader was Hermanus Bernardus Swart en sy moeder Aletta Catharina Robberts. Hy dra die naam van sy groot vader aan moederskant, Charles Robberts.
As kind het sy moeder hom “Doempies” genoem en hy is vandag nog vir sy kleinkinders “oupa Doempies”. By sy vriende en bekendes, veral in Winburg is hy algemeen bekend as “Black” of “Blackie”, ’n bynaam wat hy op universiteit gekry het na aanleiding van sy van. Toe ons eenkeer op Winburg by ’n vulstasie aan die naturelle-bediende gevra het of hy vir adv. Swart ken, kon hy eers nie verstaan wie ons bedoel nie, totdat hy meteens uitroep: “O, baas Blackie, ja ek ken hom goed!”
Staatspresident Swart het sy skoolloopbaan in 1902 op Winburg begin, toe hy ’n kleuter van sewe jaar was. Hy was baie skrander en leergierig en het soms sommer twee standerds in een jaar afgelê. So het dit gekom dat hy sy matriek gemaak het skaars sewe jaar na vir die eerste keer op skool gekom het. Vir ’n gewone leerling neem dit twaalf jaar, as alles goed gaan!
Na matriek het die Staatspresident ’n jaar lank in die landdroskantoor op Winburg gewerk. In 1910 is hy na die Grey Universiteitskollege, waar hy in 1912 die B.A.-graad behaal. Na nog ’n jaar verdere studie aan die universiteit, gaan hy ’n tyd lank skoolhou, tree daarna van 1915 tot 1918 op as sekretaris van die Raad van Eksaminatore van die Vrystaatse Departement van onderwys, maar hou hom intussen ook nog besig met buitemuurse studie en behaal in 1918 die graad LLB met onderskeiding in vyf uit die ses vakke. In 1919 word hy toegelaat tot advokaat van die Vrystaatse Hooggeregshof. Hy begin nou op Bloemfontein praktiseer as advokaat maar gaan aan die begin van 1921 eers weer op ’n studiereis van twee jaar na Engeland, Holland en Amerika. Terug in sy vaderland word hy in 1923 volksraadslid wat hy met ’n kort onderbreking bly tot 1959, toe hy na die dood van dr. EG Jansen goewerneur-generaal van die Unie van S.A. geword het. Vanaf 1948 totdat hy goewerneur-generaal geword het, was hy minister van Justisie.
En nou is hy Staatspresident CR Swart van die Republiek van Suid-Afrika. Ons eer hom as die hoof van ons land.