Staaltjies oor ongekunstelde Ouma Isie is legio

Hendrik sy tyd ver vooruit met eerste landgoed-ontwikkeling
July 7, 2017
Merkwaardige Rissik had vele ysters in ou Pretoria se vuur
July 7, 2017

Angie Kleijn

Ouma Isie
Foto: Friends of the General Smuts Foundation

Die staaltjies wat oor Ouma Isie Smuts vertel word, is legio. As vrou van staatsman Jan Smuts het sy nie altyd opgetree soos mense verwag het nie en Jan is gereeld aangemoedig om haar te oorreed om ’n bietjie deftiger, meer formeel, netjieser en konvensioneel te wees.

Dit het hy egter nooit reggekry nie. Daar is diegene wat sê dat hy nie eers probeer het nie en maklik ingeval het met Isie se idees – soos die een dat die Britse koningsgesin eerder in die Smutse se hout-en-sinkhuis op Doornkloof onthaal moes word, in plaas van die deftige ampswoning in Pretoria.

Jan Christian Smuts was eerste minister van die Unie van Suid-Afrika van 1919 tot 1924, en weer van 1939 tot 1948. Hy is op 24 Mei 1870 in die distrik Riebeek-Wes gebore as die tweede kind van Jacobus Abraham Smuts, later lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering vir Malmesbury, en Catharina Petronella (Philippina) Gerhardina de Vries, ’n suster van Riebeek-Wes se NG predikant, ds. Boudewyn Homburg de Vries.

Isie het verder studeer in ’n tydperk toe min vrouens selfs gematrikuleer het. Sy is beskryf as intelligent, kunstig en deeglik, alhoewel ’n bietjie eksentriek. Isie wou eintlik ’n doktor word, maar haar ouers se beperkte fondse het beteken dat sy op die ou einde onderwys studeer het.

Ontmoet
Jan en Isie het mekaar op Victoria Kollege, later Stellenbosch Universiteit, ontmoet toe hy 17 en sy 16 jaar oud was. Hulle het altwee in 1887 gematrikuleer, Jan het ’n derde plek in meriete-orde behaal en Isie ’n negende plek.

In hulle studiejare op Stellenbosch het Jan en Isie saam klas toe gestap. Hy het naby haar ouerhuis, genaamd Libertas Parva, loseer. Later jare moes die naam van die ampswoning in Pretoria, Libertas, baie herinneringe vir die Smuts-egpaar ingehou het. Tog het hulle verkies om nie daar te woon nie.Sybella Margaretha Krige is op 22 Desember 1870 op Stellenbosch gebore as die tweede oudste van nege kinders van Jacob Daniel (Japie) Krige, ’n gerespekteerde wyn- en melkboer, en sy vrou Susanna Johanna, ’n nooi Schabort.

Ouma Isie se besoek aan die Vrouehulpdiens by die Rec Klub in Cullinan in die Tweede Wêreldoorlog
Foto: John Lincoln

Jawoord
Moenie dink dat Jan en Isie direk ná universiteit getrou het nie. Dit het Jan op die ou einde tien jaar gevat om die jawoord te vra. Hy het eers vir vier jaar verder aan die Universiteit van Cambridge in Engeland gaan studeer. Isie het dié tyd gebruik om aan klassieke studies te wy en het gereeld die Ou Testament in Grieks gelees. Sy was vlot in Grieks, Duits, Frans, Hollands, Engels en Afrikaans en het in later jare haar man se boeke in Engels vertaal.

Uit die vreemde het Jan baie liefdesbriewe aan Isie geskryf, maar terug in Suid-Afrika het hy steeds nie die groot vraag gevra nie. Isie het op Stellenbosch agtergebly en Jan het as regsgeleerde in Johannesburg begin praktiseer.

Op ’n dag in 1897 het Jan skielik besluit dis nou tyd om te trou en hy kon nie meer wag nie. Hy het vir Isie laat weet hy is op pad, het die trein na Stellenbosch gehaal en het 5 uur die oggend opgedaag toe Isie se gesin hom nie verwag het nie.

Binne ’n japtrap het hy ’n huwelikslisensie gekry en ’n ou vriend en dosent aan Victoria Kollege, eerwaarde Murray, oorreed om hom en Isie op 30 April 1897 in die Kriges se voorkamer te trou. 

Direk daarna is hy weer vort na Johannesburg met sy bruid. In Maart 1898, toe Isie 27 jaar oud was, het sy geboorte geskenk aan ’n tweeling wat oorlede is. Die jaar daarna, 1899, is Jacobus Abraham (Kosie) Smuts gebore.

Jan Smuts toe hy sy BA-graad verwerf het aan die ou Victoria-kollege, voorganger van die Universiteit Stellenbosch, waar hy en Isie saam studeer het
Foto: Wikipedia

Jan en Isie Smuts met Santa, een van hulle dogters
Foto: Wikipedia

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oorlog
Dit was die tyd van die Engelse Oorlog en Jan was in Pretoria. Hy moes Pretoria in Junie verlaat om by Louis Botha aan te sluit. Isie was vir lang tye siek in die oorlog en Lord Kitchener het haar saam met haar 11 jaar oue sussie en vriendin Ella de Wet na Pietermaritzburg gestuur waar hulle onder huisarres gelewe het. ’n Versoek om na haar familieplaas in Stellenbosch te skuif, is geweier.

Kosie is drie maande daarna daar dood. Isie moes die verlies van haar seuntjie alleen dra en het nie geweet waar Jan was en wat met hom gebeur nie. In dié tyd het sy blykbaar vreemde dinge begin doen om haar patriotisme te bewys. Sy het glo die seëls onderstebo op briewe geplak sodat die Britse koning op sy kop moet staan.

In 1903, ná die oorlog toe Isie 32 was, is Susannah (later Weyers) gebore; Catherine (later Clark) is in 1904 gebore, Jacob is in 1906 gebore toe Isie 35 was, Sybella (later Coaton) is in 1908 gebore toe Isie 37 was en Jan in 1912 toe Isie 41 was.

Die Britse koningsgesin het in 1947 by die onpretensieuse Ouma Isie in Doornkloof se tuin gaan tee drink. Die tonge het behoorlik geklap oor die feit dat Ouma Isie hulle in haar hout-en-sinkhuis ontvang het

Doornkloof
In 1908 het die Smuts-gesin ’n deel van die oorspronklike Doornkloof-plaas by Irene, omtrent 16 km buite Pretoria, gekoop. Dié plaas is deur die Voortrekker, Daniël Elardus Erasmus uitgelê. Die Hongaar Alois Hugo Nellmapius het in 1889, saam met sy vrou, ’n nooi Johanna Corlydia Hoffman, twee derdes van die plaas gekoop en dit vernoem na hulle dogter, Irene.

Nellmapius het op dié plaas gebly tot sy dood in Julie 1893. Die plaas Irene is in 1896 deur Albertus van der Bijl op ’n veiling gekoop. In 1908 word die Smuts-gesin hulle bure.

Jan het ’n voorafvervaardigde hout-en-sinkhuis gekoop wat die offisiere se menasie by Kitchener se hoofkwartier in Middelburg, Transvaal was. Hy het dit ná die oorlog vir 300 pond van die Britte gekoop en die hele gedoente moes van Middelburg na Doornkloof aangery word.

Die huis kon egter nie net op Doornkloof neergeplak word nie en die heroprigting daarvan het ’n jaar geneem en nog ’n duisend pond gekos. Later is ’n aantal kamers aangebou en die stoepe is toegemaak, maar die Smutshuis-museum lyk vandag nog baie soos die oorspronklike familiewoning.

Dinge het nie verander toe Jan Eerste Minister geword het nie. In Xenia Barnard se proefskrif oor Libertas, ’n kultuurhistoriese studie van die ampswoning van die uitvoerende hoof van Suid-Afrika in Pretoria, vertel sy dat die Smuts-gesin Libertas nooit bewoon het nie. Hulle het verkies om op Doornkloof in hulle hout-en-sinkhuis te bly, iets waaroor dié gesin baie gekritiseer is.

Die spotprent sê: Once a soldier. He could live in a palatial residence if he chose – but South Africa’s Spartan old premier, Jan Christiaan Smuts, sticks to his farm outside Pretoria where he still makes up his own army cot every day
Prent: NASA, Pretoria A1 Smutsversameling

Kritiek
’n Ene kaptein Donald Macintyre het toentertyd gesê dat die huis soos ’n versameling sink koeistalle lyk. Lady Daphne Moore het die huis die Smutse se “sinkplaat pondok” genoem wat met skreeuende kinders en opgegaarde dinge gevul was. Sy het gesê dat die lawaai onophoudelik en luid was en dat dit gelyk het of die inwoners dit so verkies het.

In 1942 het Lord Harlech die Doornkloof-huis as heeltemal ongemoderniseer en hopeloos slordig beskryf. Belangrike gaste was verbaas dat hulle self die krane moes oopdraai as hulle wou bad en dat hulle nie ontbyt in die bed gekry het nie.

Volgens Xenia se proefskrif het die Smuts-gesin gereeld by ’n tafel wat nie ’n tafeldoek oor gehad het nie, geëet. Hulle het sommer uit oopgemaakte blikkies opgeskep en sout uit ’n eierkelkie gestrooi. Jan het dit glo nie eens opgemerk nie, tot familie hom gevra het om Isie daaroor aan te spreek. Sy antwoord was dat sy ’n kind van die natuur is en dat hulle haar moet uitlos.

Isie het nie met haar akademiese opleiding te koop geloop nie. Sy is as ’n kalm mens met vrede in haar siel beskryf en haar optrede was altyd ongekunsteld en natuurlik, dit maak nie saak wie kom kuier het nie. Met koning George VI en sy familie se 1947-besoek aan Doornkloof het Isie met die koning en koningin gepraat asof sy hulle al jare lank geken het. Selfs Koningin Mary, het aan Isie geskryf as “My dear Ouma Smuts”.

Jan en Isie saam met James Barry Munnik Hertzog en sy vrou Wilhelmina
Foto: Wikipedia

Jan en Isie in die laat 1930’s
Foto: Wikipedia

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Meubels
Xenia skryf dat Doornkloof se leefvertrek as ’n mengsel van vervalle vroeg-Victoriaanse meubels en foto’s wat skeef teen die mure hang, beskryf kon word. Isie se kinders het later jare vertel dat niks wat by die huis in Doornkloof ingegaan het, ooit weer daar uitgekom het nie. Dieselfde wankelrige tafel waarby hulle kleintyd aangesit het, is steeds deur die kleinkinders gebruik. Van die meubels is 20 jaar tevore by familie gekoop en Isie het glo gevoel dat, alhoewel dit nie goed in daardie familie se huis vertoon het nie, dit goed genoeg vir die Smutse was.

Een van die eerste dinge wat jou egter sou opval as jy by dié huis ingeloop het, was dat daar oral boeke was. Byna elke vertrek het boekrakke gehad, daar het boeke in die kamers rondgelê en selfs in die gange; in die leefkamer was daar omtrent 75 boeke en in die studeerkamer was daar ongeveer 6 000 boeke.

Jan se gunsteling tydverdryf was plantkunde en die studie van grasse, en hy het daagliks in gemaklike ou klere in die veld gaan stap. Hy het glad nie van aangeplante tuine gehou nie en Isie moes haar Doornkloof-tuin prysgee sodat Jan die veld kon geniet.

Hulle het baie bome rondom die huis aangeplant en wildeganse, volstruise, rooibokke, koedoes en elande kon van die stoep af gesien word. Natuurlik het die Smuts-kinders wilde diere as troeteldiere aangehou en volgens Xenia se proefskrif was daar in ’n stadium selfs twee leeuwelpies en ’n luiperd op Doornkloof.

Die hout-en-sink woning op Doornkloof kort na die aankoop daarvan in 1909
Foto: Smutshuis-museum Irene

Libertas
Die deftige Libertas was glad nie vir Isie aanloklik nie. Sy het glo ongemaklik gevoel as sy by deftige mense moes tuisgaan, het niks van status en seremonie gehou nie en niemand moes tog ooit haar badwater vir haar ingetap het nie.

Wanneer die Smutse verplig was om in Libertas te oornag, wou sy nie in die hoofslaapkamer slaap nie, maar in een van die eenvoudige enkelkamers wat waarskynlik vir ’n bediende bedoel was. Jan het self ook altyd een van die eenvoudiger slaapkamers verkies.

In Doornkloof het hy op die stoep op ’n harde enkelbed geslaap en sy bedtafeltjie was ’n kombuisstoel wat net genoeg plek vir ’n boek, ’n lamp en koppie koffie gehad het. Sy bed was agter ’n net in dit wat kritici as ’n breë gang beskryf het en met dagbreek het die voëltjies nader gekom na die net toe om die saadjies te soek wat hy vir hulle gevoer het.

Hoe die Smutshuis-museum vandag lyk

Teen die mure was kindertekeninge en familiefoto’s. Op die vloer was die eenvoudige leersandale wat Mahatma Ghandi vir hom gemaak het en die enigste ander dinge in die kamer was sy skeergoed en ’n waterbeker.

Spook
Langs die eetkamer was daar ’n “donkerkamer”, wat niks met die ontwikkeling van foto’s te doen gehad het nie, maar met spoke. Isie het blykbaar altyd vertel dat daar ’n spook in dié kamer is en die egtheid van haar storie is in 1936 deur George Wilson, redakteur van die Cape Times bevestig toe hy daar geslaap het.

Hy het in die “donkerkamer” oornag en het so 5 uur wakker geskrik van die gevoel dat iemand vir hom kyk. ’n Ou man het glo ’n paar tree van sy bed af gestaan. Toe George sy hand uitsteek, het die man verdwyn.

Dié spook pas blykbaar die Boereskat by die Smutshuis-museum op
Foto: Springsstad

Met ontbyt het hy die man aan Isie beskryf en dit was presies hoe sy dié spook ook gesien het. Sy het George gevra dat hy die spook asseblief tog nie weer moet verwilder nie, maar hom beleefd moet vra waar die £30 000 begrawe is.

Die spook het blykbaar vir haar gesê dat dit die waarde van die Boere-goud is wat iewers in die tuin begrawe is. Klaarblyklik is dié spook die bewaarder van die geheim oor die Boereskat, beter bekend as die Kruger-miljoene, wat in die Engelse Oorlog verdwyn het. Mense het vermoed dat dié skat iewers in die destydse Oos-Transvaal begrawe lê, maar dalk het dit meer met die hout-en-sinkhuis uit Middelburg te doen gehad.

Die spook loop steeds en is selfs afgeneem en dit wil voorkom asof Isie reg was: Dis ’n ouer man met ’n stel Kruger-snorbaarde.

Die ander Smutshuis-spook was glo ’n offisier in die Koninklike Hussars, wat selfmoord in dié gebou gepleeg het toe dit nog as ’n offisiersmenasie in Middelburg gebruik is.

 

Vergesel
Behalwe om spookstories te vertel, het Isie-as-Staatsvrou ander ongekende dinge gedoen: Sy het nie vir Jan na die Parlementsittings in Kaapstad vergesel nie. Sy wou nie hulle skoolgaande kinders alleen by die huis los nie. Jan het die wêreld vol gereis, maar Isie het tuis gebly en sake op Doornkloof bestuur.

Biograwe skryf altyd dat Isie verkies het om stil in die agtergrond te bly. Tog het sy op die ou einde ’n prominente figuur in politieke kringe geword. Sy was aktief betrokke by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), het ’n leidende rol in die Vroue Verenigde Party gespeel, het in die Tweede Wêreldoorlog vir Jan sy verkiesing help veg deur met vroue in stede en dorpe te praat, en het in 1940 die “Gifts and Comforts” Fonds vir soldate in die oorlog gestig.

Die Smutse het vir 40 jaar op Doornkloof gewoon. Rondom die tyd van Jan se tagtigste verjaardagvieringe, waar hy verrigtinge reg oor die land bygewoon het, het hy siek geword. Hy het op 27 Mei 1950 ’n kroonslagaartrombose gekry, waarna longontsteking gevolg het. Jan was baie siek, maar het soveel beter geword dat hy selfs op sy bosveld-plaas gaan kuier het.

Terug op Doornkloof het hy die lentedag van Sondag 10 September 1950 saam met sy kleinkinders in die tuin geniet. Die volgende dag het hy goed gevoel; hy het twee keer uitgery en was vir aandete aan die hoof van die etenstafel. Teen halfagt die aand het hy aan die koppenent van sy bed gaan sit en gesterf terwyl sy twee dogters by hom was.

Ouma Isie het Jan oorleef en is op 25 Februarie 1954 op 83-jarige leeftyd stil op Doornkloof oorlede. ’n Voetpaadjie lei van die tuin tot by Smutskoppie agter die huis waar Jan en Isie se asse gestrooi is. Vandag merk ’n graniet gedenknaald en twee eenvoudige naamborde die plek.

Die gedenkteken op Smutskoppie, Doornkloof waar Isie en Jan se asse gestrooi is en die
eenvoudige naamborde aangebring is
Foto: eggsa Hetta Scholtz

Hierdie artikel het verskyn in Die Bronberger.