St. Andreaskerk, Nuweland

Die Rondebosse Meent
December 13, 2017
Die Ned. Geref. Kerkgebou, Wynberg
December 13, 2017

Op die hoek wat Palmboomweg met Nuwelandlaan maak, staan die fraai St. Andreaskerkie. Dit is klein maar sy boustyl gee aan hom ’n vernaamheid wat die verbyganger onwillekeurig streel en beïndruk. Die lae, dik mure van Tafelbergsandsteen spreek van vastigheid en duursaamheid wat verder verhoog word deur die gelyksydige venster in die voorgewel. Die hoë Ieidak op ’n enkele skip, loop tot op die syvensters af en verleen aan die kerkie ’n besondere waardigheid. Uniek is die witgekalkte kloktorinkie bokant die ingang. Binne het die kerkie ’n behaaglike intiemheid. Die houtwerk is nie slegs dekoratief nie, maar die hoë plafon op balke van pikden skep die indruk van ruimte.

Die geskiedenis van hierdie kerkie gaan terug tot daar aan die begin van die 19de eeu toe Nuweland as ’n klein plattelandse dorpie sy ontstaan gehad het. Die behoefte aan ’n bedehuis is sterk deur die inwoners aangevoel en volgens oorlewering is daar reeds in 1810 ’n poging aangewend om op hierdie terrein langs die posroete deur “Papenboom” ’n dorpskerkie te bou. In 1837 is daar ’n vroeë skenkingsakte van hierdie grond vir ’n kerkie, maar daar is waarskynlik nie van die vergunning gebruik gemaak nie sodat Rudolph Cloete dit in 1857 weer aan die Anglikaanse Kerk vir “kerklike doeleindes” skenk. Dat die bekende biskop Robert Gray ook weer in hierdie transaksie ’n aandeel gehad het, blyk uit sy handtekening op die transportakte. Die kapelletjie is blykbaar kort daarna gebou.

Vir byna ’n eeu is die geboutjie as kerk gebruik en daarna vir enige jare as ’n kleurlingskool. Dit het vervalle geraak en is bedreig deur sloping. Vir die argitek Brian Mansergh was dit heiligskennis. Hy het dit gekoop en, nieteenstaande verset van verskillende kante, gerestoureer.

(Geproklameer 1969)

 

Bron: Oberholster, J.J. 1972. Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Die Kultuurstigting Rembrandt van Rijn, pp. 46-47.