Sport word ’n twisappel

Moord op doktor Verwoerd
January 26, 2015
Koms van Herstigte Nasionale Party
January 26, 2015

Die Suid-Afrikaanse blankes se groot liefde vir sport het aan die vyande van die bewind ’n magtige wapen gegee. Hulle het Suid-Afrika op sportgebied probeer isoleer. Die Suid-Afrikaanse sportbeleid het dit vir dié mense maklik gemaak. So het doktor Verwoerd op 4 September 1965 by Loskopdam gesê dat enige besoekende sportspan in die land se gebruike moet berus. Dit het beteken dat geen Maori lid van ’n besoekende All Black-span mag wees nie. Die Nieu-Seelandse rugby-unie het daarop besluit om geen span te stuur nie. Meneer Vorster het die Verwoerd-beleid omvergewerp en op 11 April 1967 aangekondig dat die regering geen voorskrifte sal gee aan lande met wie SA sportbande het nie. Maori’s sou dus lede van All Black-spanne kon wees. In 1970 het ’n All Black-span met drie Maori’s en een speler van Samoaanse herkoms Suid-Afrika besoek.

In 1968 is die sportkwessie verder vertroebel. Basil d’Oliviera, ’n bruin man van Kaapstad, het ’n paar jaar vantevore in Engeland gaan woon, groot opgang gemaak as krieketspeler en vir Engeland gespeel. Toe ’n MCC-span gekies is vir ’n toer na Suid-Afrika in 1968-1969, is hy uitgelaat tot ontevredenheid van die Anti-Apartheid Movement en ander organisasies. Toe ’n spanlid onfiks verklaar word, is D’Oliviera onverwags in sy plek aangewys. Vorster het gesê dat dit nie meer ’n span van die MCC is nie, maar van die Anti-Apartheid Movement. Die land is nie bereid om ’n span te ontvang wat aan hom opgedwing is deur mense met politieke oogmerke nie. Dit het voorlopig die einde van krieket met Engeland beteken.

In 1969–1970 kon ’n Springbok-rugbyspan ’n toer na Brittanje onderneem, maar anti-apartheidsbetogers met die jong Suid-Afrikaansgebore Peter Hain aan die spits het dit erg ontwrig. Dieselfde het gebeur met ’n Springbok-toer na Australië in 1971. In 1973 het die Nieu-Seelandse Rugby-unie ’n uitnodiging om ’n span daarheen te stuur, teruggetrek in opdrag van dié land se eerste minister wat gesê het hy vrees so ’n toer sou lei tot die grootste wanorde en geweldpleging in Nieu-Seeland se geskiedenis.

Tydens die toer van 1969–1970, met Dawie de Villiers as kaptein, het betogers wedstryde probeer ontwrig deur drukspykers en rookbomme op die veld te gooi, spelers te vloek en op hulle te spuug. Bomdreigemente, lawaaierige samedrommings buite hotels en ‘n poging om een van die toerspan se busse voor ’n toets te kaap, het dit vir spelers onmoontlik gemaak om op rugby te konsentreer. Die Springbokke het 15 van die 24 wedstryde gewen, vier keer gelykop gespeel en vyf keer verloor. Vir die eerste keer kon die Springbokke geen toets in Brittanje wen nie.

Suid-Afrika is in 1964 ook deelname aan die Olimpiese Spele geweier. In 1967 het ’n span van die Internasionale Olimpiese Komitee sportgeleenthede vir “nie-blankes” kom ondersoek. ’n Gunstige verslag en die versekering dat die land ’n veelrassige span sou stuur, het die IOK laat besluit om Suid-Afrika toe te laat om in Mexiko deel te neem. Veral Kommunistiese en swart lande het met ’n boikot gedreig. Toe Mexiko boonop sê dat hy nie die veiligheid van deelnemers kan waarborg nie, is die uitnodiging aan Suid-Afrika teruggetrek.