Die Voortrekkerkinders se speelgoed
April 10, 2017
’n Transvaalse Voortrekker lê sy plaas aan
April 10, 2017

(Soos verskyn in Historia Junior, Februarie 1972)

Het die seuns gedurende die Groot Trek ook voetbal gespeel? Daardie dae was daar seker nog nie voetballe nie, veral nie in die binneland van Suid-Afrika nie.

Daar is egter ’n spreekwoord wat sê, ’n boer maak ’n plan, en die seuns van daardie dae het seker ook ’n plan gemaak wanneer hulle ouers ’n bees geslag het of ’n groot koedoe of eland afgeslag het. So ’n groot dier het ’n groot blaas en die seuns het dit seker opgeblaas en met ’n riempie styf vasgemaak sodat die wind nie kon ontsnap nie. Dan het hulle dit seker in die lug geskop of heen en weer vir mekaar gegooi of geskop. Hulle sou gesê het hulle “sool die bal”!

Die mense moes byna elke dag hulle gewere gebruik om wilde roofdiere van hulle koeie, skape of perde weg te hou. Hulle moes ook gereeld bokke skiet om vleis vir die braairooster te kry.

So het die seuns dan ’n speletjie gehad om kleilat te skiet. Waar hulle naby ’n rivier, sloot of vlei uitgespan het, het hulle dan ’n lat van ’n boom gesny en al die blare verwyder. Dan het hulle klei uit die walle geneem en dit goed gebrei deur dit op ’n klip aan te hou stamp of in die hande te frommel en te druk. As die stuk klei dan lekker styf is, het hulle stukkies uit die groot stuk geneem en ronde koeëls gemaak. Die koeëls is voor aan die lat gesteek en styf vasgedruk. Nou kon die lat een of twee keer oor die kop geswaai word en met ’n handige ruk van die lat het die klei-koeël in die rigting van ’n bees of ’n perd getrek. As die bees sy kop vinnig  oplig of die perd rats wegspring, het die seun geweet dat sy koeël die teiken getref het.

Soms het die seuns na mekaar met die kleilatte geskiet en dan het meer as een seker ’n stuk klei op die neus gekry.

Die seuns het ook op kalwers gery of aan wilgerbome se takke geswaai, en geswem.