Siek kinders
February 5, 2015
Kos en lekkernye
February 5, 2015

Tydens die Groot Trek was daar darem altyd vir Trekkerkinders ’n tydjie om te speel. Seuns kon van kleins af al perdry en met ’n voorlaaier skiet. Van ses jaar af moes hulle skape oppas, koeie melk en tou lei. Dogters moes huiswerkies doen en help brood bak, botter maak en seep kook. Daar was nie speelgoedwinkels nie en daarom het die kinders tuisgemaakte speelgoed gehad. ’n Reisiger wat die Trekgeselskappe in Natal besoek het, vertel dat die Trekkerkinders graag lawwe speletjies gespeel het, mekaar poetse gebak het en lief was vir stoei. Daar word vertel van ’n Trekkerseun met die van Fick en sy maats wat op ’n keer klippe teen ’n rantjie afgerol het en per ongeluk ’n luiperd gedood het. Saans om die kampvuur het hulle graag wegkruipertjie in die donker gespeel. Trekkerkinders was veral lief vir die volgende speletjies:

Dolosse

’n Dolos is ʼn been in die hakskeengewrig van diere. Die vorm lyk soos ’n bees met horings voor en ronde boude agter. Dolosse en onderkakebene van beeste of perde is bymekaar gemaak en dan is die dolosse met riempies voor die onderkakebeen ingespan. Die onderkakebene het soos ’n kakebeenwa gelyk. Sestien tot agttien dolosse was ’n span wat die wa moes trek. Soms het elke dolos selfs ’n beesnaam gehad, soos Voorslag, Makman of Donkerland. Seuns het van kleins af houtwerk gedoen en was lief daarvoor om klein waentjies te maak wat deur dolosse getrek is. Waentjies is ook van dik ronde takke gemaak met kleiwiele. Tentjies is van ou doeke of afvalleer gemaak deur dit oor stokkies te span. Soms het die kinders klein swepies gevleg. Kleiwaens is ook van potklei gemaak en aste van rietjies of hout.

Die name van Louis Tregardt se trekosse was:

Ribbok en Somer
Friesland, Rooiland en Wiegeland
Robbert en Duiker
Joeman en Vryman
Liefhebber, Witbol en Fluit
Witsenberg, Tiegerberg en Blouberg
Regter en Roman

Kleiosse

Terwyl hulle vee moes oppas, het die seuns graag kleiosse van potklei gemaak.. Hulle het krale van klippe en modder gebou en jukke, skeie en stroppe van takkies en grassies gemaak. Soms is lang wit dorings gebruik vir kleiosse se horings.

Kleilat

Klam potklei is saamgedruk tot ’n stewige ronde balletjie en aan die voorpunt van ’n buigsame tak vasgedruk. Seuns het dan twee spanne teen mekaar opgestel en oorlog met die kleikoeëls gemaak.

Pyl en boog

Van al die speelgoed het die pyl en boog ’n ereplek in ’n Trekkerseun se lewe gehad. ’n Stywe lat van een of ander boom is gebuig en die twee punte met ʼn voorslagriempie aan mekaar vasgebind. Die pyle is van fluitjiesriet gemaak wat orals in die uitgestrekte vleie gegroei het. Vir die voorpunt is ’n spyker of ’n stukkie skerp yster in ’n stukkie hout gedruk en dan voor by die riet se punt ingedruk. Die Voortrekkers het hulle kinders verbied om sekere voëls te skiet. Beskermde voëls in daardie tyd was onder meer swaeltjies, kwikstertjies, suikerbekkies en klap-klappies.

Poppe

Voortrekkerdogters het graag met geverfde houtpoppe uit Nederland gespeel, wat ook Vaderlandse poppe genoem is. Meestal moes dogters self hulle poppe maak. Lappoppe wat van ou oorskietmateriaal gemaak is, was baie gewild. Die poppe is met ou lappe of gras vol gestop en dan toegewerk. Popgesigte is soms van lewer- of niertjievliese gemaak. Die popgesiggie is op die lap geteken en dan is die vlies oor die kop getrek, sodat die getekende gesig mooi deurgeskyn het. Rooi wange is van rooi doek gemaak en die oë is met ’n swart lappie uitgewerk. Soms is likkewaanpootjies vir hande gebruik.

Ruiterbal

Spelers is verdeel in groepe van ruiters en perde. Die ruiters klim op die perde se rûe en dan gooi die ruiters vir mekaar bal. Die perde moes deur skewe spronge verhoed dat die ruiters die bal vang. Vang die ruiter die bal mis, hardloop al die ruiters weg, terwyl een van die perde die bal gryp en probeer om ’n ruiter raak te gooi. Indien ’n perd die ruiter raakgooi, is sy span weer die ruiters en die ruiters perde.

Aljander

Kinders gaan staan met hulle arms omhoog en hulle hande teen mekaar. Soos wat die ander onderdeur loop, sing hulle: “Aljander, aljander so deur die bos, my mamma kook sulke lekker kos; Aljander, aljander, lui die klok, my mamma is ʼn goeie kok.” Die laaste een word gevang.

Ou-ooi en jakkals

Een van die kinders is jakkals en die ander een is die ou-ooi. Die ander kinders is almal lammertjies wat die een agter die ander aan die ou-ooi vashou. Jakkals kom vra vir ou-ooi een van haar lammertjies. Ou-ooi hardloop met die lammertjies agter haar weg en draai heen en weer sodat jakkals nie haar lammertjies gryp nie. Die lammertjie wat deur jakkals gevang is, moes eenkant gaan staan.

Beesvelgooi

Vir hierdie speletjie het jongmense ’n vars beesvel gebruik en die harige kant na onder gedraai. Vier persone het die vel skielik styf getrek, sodat die een wat in die middel lê, hoog in die lug opgeskiet is.

Velskoenmaak

Een speler beduie met sy hande hoe om ’n velskoen te maak, maar telkens slaan hy skielik ’n vinnige hou met sy plathand na een van die ander spelers. Die ander wat elk ’n slaanding het, mag net regaf op die grond tussen hulle en die velskoenmaker slaan in ’n poging om sy hand te tref.

Jukskeigooi

Die lang skei van die voorjuk is  in sagte grond geplant. Die spelers het elkeen twee gewone skeie gehad het en moes dan probeer om die geplante skei raak te gooi.