Sonder kennis en ervaring

SJ du Toit en sy seun verskil
January 22, 2015
Nuttelose beleërings
January 22, 2015

NP van Wyk Louw skryf dat die Afrikanervolk teen sy sin en sonder vorige ervaring in ’n stryd met ’n wêreldmag gesleep is. Die volk moes baie leer en afleer. Inderdaad was hulle sonder ervaring en sonder kennis van strategie. GD Scholtz skryf dat die Britte ’n strategiese plan gehad het om Johannesburg en Pretoria te verower deur langs die Kaaps-Vrystaatse roete daarheen op te ruk. Al wat die twee republikeinse regerings beoog het, was om die stryd na die Kaapkolonie en Natal te voer en daar ontwikkelings af te wag.

Net twee jong regsgeleerdes met ’n Europese opleiding het ’n mate van strategiese insig openbaar, naamlik JBM Hertzog en JC Smuts. Hertzog het Steyn in Augustus 1899 aangeraai om, indien oorlog uitbreek, die Kaapkolonie binne te val en strategies belangrike plekke te beset. Steyn wou dit nie doen nie, en het eers einde Oktober bevel gegee dat die Kolonie binnegetrek word. Net ’n paar noordelike distrikte is beset. Die versuim om die Kolonie diep in te gaan, het die Britte in staat gestel om groot magte aan die Vrystaatse grens te konsentreer en so ’n besliste wending aan die oorlog te gee. In Transvaal het Smuts voorgestel dat die Boere die Kaapkolonie en Natal binneval, maar dis nie oorweeg nie. Die politieke en militêre leiers van die republieke het doodgewoon nie geweet hoe om oorlog te voer en watter oogmerke hulle wou bereik nie. Die gebrek, hoewel begryplik, was noodlottig, want aan die begin van die oorlog was die Britse soldate in Suid-Afrika nog minder as die Boere. Ook die verdeling van die magte getuig van min insig. Scholtz vat dit so saam: “Waar die moontlikheid vir die grootste militêre bedreiging vir die twee republieke die ernstigste was en waar die beste kans was om die oorlog tot diep in die vyandelike gebied te voer, was die geringste aantal burgers saamgetrek.”

’n Groot verskil tussen die twee kante, veral aan die begin van die oorlog, was dat die Britte steeds daarna gestreef het om aan te val, terwyl die Boere verkies het om op die verdediging te bly. Die meeste was gesinshoofde en wou hulle nie onnodig aan gevaar blootstel nie. Die grootste verskil was die getalsterktes. Met die uitbreek van die oorlog was daar hoogstens 55 000 burgers, maar met elke burger wat gesneuwel het of krygsgevange geneem is, het hul getalle afgeneem. Die Britte het eers gemeen dat ’n klein mag die Boere sou kon onderwerp. Dit was ’n vergissing en hulle getalle is gou opgestoot tot 250 000.

Die Britte was beroepsoldate – goed gedissiplineer en gretig om roem te behaal; daarom dat soveel offisiere “in ecstasies” was, soos die minister van oorlog, lord Lansdowne, verklaar het. Die Boer, weer, wou net stil met sy boerdery voortgaan; hy het na die lewe gekyk met die oë van ’n veeboer, sê Scholtz. In April 1900 wou generaal Louis Botha in Natal ’n aanval op die Britse magte by Elandslaagte doen, en het medewerking van die Vrystaat gevra. Generaal M Prinsloo het hom laat weet dis onmoontlik – baie burgers en selfs offisiere was na ’n vendusie wat die volgende dag in Harrismith sou gehou word!