Die Smuts-beeld
April 11, 2017
Die staking van 1922
April 11, 2017

(Geskryf deur Joseph Geyer, St. 5, Dalesideskool, soos verskyn in Historia Junior, Augustus 1963)

In die Voortrekkers se tyd was vuurhoutjies nog onbekend. Die skaapwagters het, wanneer hulle vuur gemaak het, ’n droë en sagte stuk hout geneem. Hulle het dan ’n harde droë stukkie hout geneem, dit in ’n gaatjie in die hout gedruk en vinnig tussen die handpalms gevryf totdat die sagte hout begin rook het. Daarna is die rokende hout geblaas, droë grassies opgegooi en weer geblaas totdat dit aan die brand geslaan het. So ’n vuurtjie, of die gloeiende kole, is die hele dag lewendig gehou, want hierdie soort vuurmaak was moeilik en tydsaam. Ou inboorlinge van Suid-Afrika, waaronder die Boesmans, het ook hierdie metode gebruik.

Die Voortrekkers het ook die tonteldoos gebruik. Dit was ’n kort silindertjie van koper, omtrent 3 duim lank. Aan die een end van die silinder was ’n sterk kettinkie geheg wat ook aan die dekseltjie vas was. ’n Ovaalvormige vuurslag is deur die kettinkie gesteek, wanneer die tonteldoos se deksel opgesit is, sodat dit nie kan verloor nie. In die tonteldoos was tonteldoek wat verkry is deur lappe of die sagte deel van wilgehout te verkool. Die vuurklip is bo in die tonteldoos gebêre, wanneer dit nie gebruik is nie. Vuur of gloeiende kooltjies is verkry deur die dekseltjie af te haal, die vuurklip naby die opening van die tonteldoos te hou en met die vuurslag daarop te kap. Die vonkies spat in die silindertjie en laat die tonteldoek gloei. Die gloeiende deel word op droë gras geplaas en aan die brand geblaas. So het hulle ook hulle pype opgesteek. Soms het hulle ook buskruit geneem, in ’n lappie toegebind, op ’n klip saam met droë grassies geplaas en aan die brand gekap met ’n klip. Buskruit was egter skaars en is selde so gebruik.

Die eerste swawelvuurhoutjies (swawelhoutjies) het in 1847 uitgekom en het tien sent per dosie gekos. Net ryk mense kon dit bekostig. In 1852 het fosforvuurhoutjies uitgekom wat baie goedkoper was. Hierdie vuurhoutjies is egter net gebruik om vetkerse in die nag op te steek.