Die Voortrekkerkind
April 10, 2017
Die Voortrekkerkinders se speelgoed
April 10, 2017

(Geskryf deur P van Zijl, Laerskool Japie Greyling, soos verskyn in Historia Junior)

Hedendaagse kinders bring nie net lang ure op skoolbanke deur nie, – daar is ook tyd om te ontspan en te speel. By skole is atletiekbane, rugbyvelde, netbalbane en ander spelgeriewe.

Dan is daar ook nog ander speletjies wat kinders onderling organiseer om hulself te vermaak.

In speelgoedwinkels is ’n baie groot verskeidenheid speelgoed, waaruit seuns en dogters kan kies en keur. Dikwels word daar egter gesê dat vandag se kinders hul spel nie soveel geniet soos kinders in vroeëre dae nie. Húlle speelgoed was maar primitief en meesal selfgemaak.

Die seuns van destyds moes diere versorg en opdragte uitvoer wat met die boerdery te doen gehad het. Wanneer die skape en beeste rustig wei, het die seuns osse en ander plaasdiere van potklei gemaak. Die kleiperd met die ruiter daarop om die vee op te pas, het ook nie ontbreek nie. In die ruiter se hand was die onmisbare karwats. Die kleiosse is met jukke en stroppe ingespan en in hul gedagtes het die seuns die gevare van die Groot Trek belewe. Soms is die groot dorings van doringbome gebruik om as horings te dien vir die kleiosse.

Dolosse het ook ’n baie belangrike rol gespeel om die speelgoed aan te vul. Wanneer ’n bees geslag, of ’n wildsbok geskiet is, is daar gewedywer om eerste die dolosbene in die hande te kry.

Dikwels het die seuns ook kattekwaad aangevang. Dan moes die kalwers op die plaas dit ontgeld! Wanneer ’n bulkende kalf al bokspring van sy ruiter ontslae wou raak, het die ander seuns geskater van die lag. Menige waaghalsige ruiter het dikwels met moederaarde kennis gemaak voordat hy die kuns van kalfry kon bemeester.

Die Voortrekkerdogters het met tuisgemaakte lappoppe gespeel wat van oorskiet-kledingstowwe gemaak is. Sulke poppe is vandag baie skaars en slegs enkele museums in ons land kan met sulke poppe spog. Die poppe was aangetrek volgens die modes van daardie dae.

’n Spogpop se wange is rooi gemaak met ’n stuk rooi doek, en die oë is met swart lappies uitgewerk. Die gesig is met moesselien-materiaal oorgetrek. Die hare was van lanfer terwyl sommige poppe ook ’n kappie op gehad het. Die pop is volgens ’n patroon gemaak en met wol opgestop. Dogters het dus reeds van kleinsaf geleer om met naald en gare te werk.

Mooi pop-breekgoedstelletjies soos die waarmee hedendaagse dogters speel, was onverkrygbaar. Hulle het maar die skerwe van gebreekte borde, koppies en pierings geneem, dit effens rond geslyp op klippe om as pop-eetgerei te dien.

Soms het die dogters ook klip-klip gespeel. Mooi ronde klippies is vir hierdie doel gebruik. Die spel het sy reëls gehad en het nogal behendigheid vereis om reg gespeel te word.