“Sneeuwitjie van die veld”

Kerklike verdeeldheid
April 17, 2015
Stryd in die NG Kerk
April 20, 2015

Een van die mooiste kinderverhale van Suid-Afrika het deur die skrywer Eugène Marais bekend geraak. Dis die verhaal van die twaalfjarige Rachel [Ragel] de Beer met die noemnaam Raggie. Haar ouers, sy en haar sesjarige broertjie het uit die Vrystaat na Transvaal getrek. Terwyl haar pa nog besig was om ’n plaas te soek, het die gesin tydelik in ’n hartbeeshuisie in die Drakensberge tussen Transvaal en Natal gewoon. Wanneer presies dit was, vermeld Marais nie, maar dit was in elk geval voor 1877.

Dit was winter, en in een van die koudste dele van die land. ’n Paar weke ná die aankoms van die De Beers het daar vroeg die dag ’n groot sneeustorm opgekom. Die eerste wat die boere in so ’n geval doen, is om hul vee in die veld te gaan haal en vir beskerming in die kraal te jaag. Toe die skape en beeste in die kraal was, merk Raggie se pa op dat een kalfie ontbreek. Die beeste het nie te ver van die huis gewei nie, en almal meen toe dat die kalf maklik gevind kon word. De Beer en ’n skaapwagtertjie gaan dadelik soek, maar hy stuur Raggie om te gaan soek in ’n laagte naby die huis.

Net toe sy loop, kom haar boetie daar aan en dwing om saam te loop. Aangesien hulle ma gemeen het dat die kalf nie te ver kon wees nie, het sy gesê hy kan maar saamgaan, en ’n karossie van skaapvel om hom gebind. Dit word naderhand donker, die sneeu val, die wind waai. Toe die vader tuis kom, verneem hy ontsteld dat die kinders nog nie terug was nie. Die hulp van bure word gevra en gou is daar ’n soektog aan die gang. Die ma het ’n groot misvuur voor die huis aangepak en aan die brand gesteek sodat die kinders dit kon sien.

Die nag het hulle vergeefs gesoek. Toe die dag breek, gaan soek ook die moeder, met die hoop dat hulle in ’n erdvarkgat gekruip het en nog lewe. Kort ná sonop gewaar een van die soekers ’n dowwe spoor. Hulle kon aflei dat die kinders deur die eerste laagte geloop, naderhand in ’n ander laagte beland en in die storm verdwaal het. Naderhand kom die soekgeselskap by ’n miershoop. Ragel het vas daarteen gelê; sy was heeltemal naak, behalwe dat sy nog skoene aangehad het. Sy het verkluim en haar lyf was kliphard. Toe hulle haar optel, merk hulle ’n gat in die miershoop. Dit was uitgehol binne-in en daarbinne was haar boetie opgekrul. Hy was ook styf van die koue maar het nog geleef, toegedraai in Raggie se klere. Dit was duidelik dat Raggie die miershoop uitgehol het – sy het meermale gesien hoe haar ma dit doen om op dié manier ’n bakoond te maak – en haar broertjie die klere aangetrek het.

Die verhaal van Raggie is ook verewig in die gedig “Sneeuwitjie” van AG Visser, waarvan die slotvers lui: “Wanneer jy van die dade leer/ van menig dapp’re held,/ vergeet nie Racheltjie de Beer – / Sneeuwitjie van die veld.” Nog ’n skrywer wat dit oorvertel het, is CR Swart in Kinders van Suid-Afrika. Raggie de Beer is ook in een van die tonele op die Kindermonument (op die fasade van die Sondagskoolgebou van die NG Kerk in Bloemfontein) wat aan Suid-Afrikaanse kinderhelde gewy is.