Slawewette en die koms van die Islam

Khoi-Khoin verloor selfstandigheid
January 30, 2015
Boerekos en smulpape
February 1, 2015

Rijk Tulbagh (1699-1771) was van 1716 in diens van die Kompanjie aan die Kaap en was van 1751 tot 1771 goewerneur. Hy word gewoonlik getipeer met die beskrywing: “streng maar regverdig”. Daarby het hy ook ’n lewendige belangstelling gehad in die Kaapse dier- en plantelewe, en het dikwels die Kompanjie se tuinier, JA Auge, na die binneland gestuur om plante en insekte te versamel. Tulbagh en Auge het gereeld plante en opgestopte diere na Europa gestuur en gekorrespondeer met Europese wetenskaplikes soos die beroemde Sweedse plantkundige Carolus Linnaeus. Dié het uit blyk van waardering vir al die plante wat hy van Tulbagh ontvang het, een soort van die leliefamilie Tulbaghia genoem.

Goewerneur Tulbagh is veral bekend oor die afkondiging van die Prag- en Praalwette, ’n aanpassing van wette wat in Batavia uitgevaardig is om die swierige en buitensporige lewenswyse van die amptenare in Batavia aan bande te lê. Omdat die Kaapse paaie so sleg was, is die aantal perde wat voor ’n wa en rytuig gespan kon word, nie so straf beperk as in Batavia nie.

Een van die moeilike vraagstukke wat hy moes hanteer, was die bekamping van die pokke. Die pokke van 1755 is waarskynlik deur ’n skip uit Ceylon (tans Sri Lanka) oorgebring. Aan die Kaap is minstens 2000 oorlede, maar die sterftesyfer was baie laag in die buitedistrikte.

Verder was Tulbagh veral bekend vir sy hersiening van die slawewette in 1754. Die slawe was toe al een van die grootste groepe aan die Kaap. Die leeftoestande het baie gewissel. Op ’n plaas van Martin Melck het elk van sy 200 slawe ’n afsonderlike baksteengebou gehad om in te slaap, maar oor die algemeen was hulle gehuisves in “slawehuise” waar hulle saam geleef en op houtbanke geslaap het.

Plattelandse slawe het die kos geëet wat die plaas gelewer het. Op die meeste plase het die meesters en die slawe dieselfde brood geëet. Dit is aangevul met rantsoene van vleis, soms rys en vis, asook groente, wat slawe op party plase in hul eie tuintjies gekweek het. Op groter plase het party meesters skape en osse vir slawe geslag. Ander het egter swak voedsel gekry.

Slawe maar ook wit mense is soms swaar en wreed gestraf. In 1708 is ’n boer gefusilleer wat van sy arbeiders mishandel het; in 1741 is ’n slaaf vasgebind en verbrand weens brandstigting; in 1765 is ’n boer 25 jaar lank verban omdat hy ’n Khoi-Khoi-man mishandel en bedrieg het. Nadat slawe, wat teen berghange geskuil het, ’n boekhouer, sy vrou en kind vermoor het, is burgers verbied om slawe brandhout teen berghange te laat haal.

Weens die slawe se verspreiding het daar geen bloeiende slawekultuur op die platteland ontstaan nie. Aan die Kaap self, met sy groter getalskonsentrasie, was daar wel ’n soort subkultuur. ’n Kenmerk van dié ontwikkelende kultuur in Kaapstad was die groei van die Islam. Dit is in die sewentiende eeu na die Kaap gebring deur politieke ballinge en slawe van Oos-Indië wat Moslems was. Die sendingywer van die Moslems het die Islam laat groei – geleidelik in die agtiende eeu en baie vinnig in die negentiende eeu. Ook die Christendom het in Kaapstad sy grootste impak onder die slawe gehad, veral onder die slawe van die Kompanjie, maar net ’n handjievol slawe verskyn in die Nagmaalslyste.