Die swarte ommegang
March 3, 2015
Engels versterk deur immigrante en predikante
March 5, 2015

Cradock is in 1814 opgevolg deur lord Charles Somerset (1767-1831). Sosiaal het hy op goeie voet met die Afrikaners verkeer, en hulle het dit ook waardeer dat hy volbloedperde, Devonbeeste en Southdownramme ingevoer het. Vroeg in sy bewind moes hy egter die Slagtersnek-opstand onderdruk.

’n Klag deur ’n Khoi-werker Booi teen Frederik Cornelis Bezuidenhout van die plaas Baviaanskloof het dié opstand laat begin. Bezuidenhout is gedagvaar om op 5 Oktober 1815 in die hof op Graaff-Reinet te verskyn. Hy het nie opgedaag nie, omdat hy erg aan jig sou gely het. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is uitgereik. Omdat vermoed is dat hy sou teenstand bied, is luit. H. Rousseau met veertien pandoers gestuur om hom te vang. Toe hy hulle sien kom, het hy ’n Erasmus-seun en ’n Khoi-man, Hans, gedwing om saam met hom in ’n spelonk te gaan skuil. Hy het op die soldate gevuur en is self deur een van hulle doodgeskiet.

By sy begrafnis het sy broer Jan Bezuidenhout en ’n vriend besluit om Frederik se dood te wreek. Hendrik Prinsloo, seun van Marthinus Prinsloo wat ná ’n opstand in 1798 onder leiding van Adriaan van Jaarsveld in die kasteel opgesluit is, was bereid om ’n rebellie teen die amptenare te help organiseer. Toe hy in Oktober 1815 die hulp van die Xhosa-opperhoof Ngqika (Gaika) probeer kry, het hy die simpatie van die meeste grensboere verloor. Andries Stockenström, adjunklanddros van Cradock, het alleen en ongewapend by ’n groep voornemende rebelle opgedaag en hulle oorreed om van hul plan af te sien.

Die amptenare was goed ingelig en Prinsloo is gou gevang. Ongeveer 600 burgers het toe bymekaargekom en sy vrylating geëis. Landdros JG Cuyler van Uitenhage, ’n gebore Amerikaner van Nederlandse afkoms wat saam met die Britte na die Kaap gekom het, het die opstandige burgers met ’n kommando van wit en bruin mense genader en hulle op 17 November per brief gevra om vrywillig oor te gee. Dit was die einde van die opstand. Party het oorgegee, ander het gevlug. Almal is gevang, behalwe Hans Bezuidenhout, wat liewer tot die dood wou veg. Sy vrou Martha Faber en 12-jarige seun Gert het die geweer help laai. Eers toe Bezuidenhout dodelik gewond is, is die verset gestaak.

Die rebelle is van 16 Desember 1815 tot 22 Januarie 1816 op Uitenhage verhoor, en 39 is gevonnis. Ses is ter dood veroordeel. Die ander is na Robbeneiland verban. Somerset het die 60-jarige Willem Prinsloo begenadig, maar Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, Cornelius en Abraham Bothma en Theunis de Klerk is op 9 Maart 1816 op Slagtersnek opgehang. Cuyler was met 300 soldate teenwoordig.

Die dramatiese gebeurde het ’n onuitwisbare indruk op geslagte Afrikaners gemaak. Die laksman en sy swart assistent het met net een tou opgedaag, want hulle was onder die indruk dat net een man opgehang sou word. Nog vier toue is op Uitenhage gekry, maar omdat hulle so oud en half vrot was, is besluit om hulle dubbeld om die nekke te hang. Die familie en die ander rebelle is gedwing om teenwoordig te wees. Op  versoek van een van die ongelukkiges, Stephanus Bothma, is ’n gewyde lied gesing. Toe die laksman die luik ooptrek, was dit net een man wat hang. Die ander vier val op die grond, want die toue het gebreek. Die vier, hul familielede en vriende het na Cuyler gestorm en om genade gesmeek. Dat die tou gebreek het, was vir hulle ’n vingerwysing van God. So verwoord die verteller in DJ Opperman se Joernaal van Jorik dit ook: “En soos jy weet, my seun, die tou was vrot / waaraan die vier opstandiges moes hang; / party sê dis toeval, / maar ons sê dis God.”  Cuyler het gesê dat hy hul gesigte nooit sou vergeet nie. Hy het egter geen mag gehad om die vonnis te versag nie en die ongelukkiges is weer opgehang – een na die ander met die een bruikbare tou.

Helde was hierdie rebelle nie; hul eie volksgenote sou die meeste gely het onder ’n roekelose opstand. Maar die onvergeetlike teregstelling het van hulle martelaars help maak. Langenhoven wat hulle verkeerdelik idealiseer (“Op Slagtersnek staan ’n ereboog”), het ook geskryf: “Déur die spelonk, deur die bloed van ’n dwaas, loop die pad van Suid-Afrika.”