Slag van Bergendal

Die Groot Trek – Hoofstuk 4 Deel 3
August 20, 2020
Anna Jacoba BÖESEKEN (23.10.1905 – 28.06.1997)
August 28, 2020

deur Dirk Marais

Die Slag van Bergendal of Slag van Dalmanutha het van 21 tot 27 Augustus 1900 digby Belfast, Mpumalanga plaasgevind. “Berg en Dal” was die naam van die plaas waarop die finale geveg van die veldslag plaasgevind het. Dalmanutha is die naam van die nabygeleë spoorwegstasie. Dit was die laaste veldslag van die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die Boere die oorlog as guerillas voortgesit. Die veldslag is ook daarvoor bekend dat al vier die Boere se Long Tom-kanonne daar gebruik was.

 

Vooraf

Die oorlog het in Oktober 1899 uitgebreek. Op die Kaapse front het die Britte in Februarie 1900 deurgebreek en die volgende maand was hulle in Bloemfontein. Pretoria, die hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), is in Junie 1900 ingeneem. Die regering van die ZAR en verskeie kommando’s het ooswaarts al langs die spoorlyn gevlug. Hulle is agternagesit deur generaal Pole-Carew se 11de infanteriedivisie (7500 manskappe) en luitenant-generaal French se kavalleriedivisie.
Ben Viljoen skryf dat hulle nog by Donkerhoek was, toe die kommandant-generaal sekere offisiere vooruit gestuur het om by Belfast forte en uitgrawings vir die kanonne te gaan maak. Dit was eers daar waar hulle die Britse oormag met ’n wyd genoeg front kon konfronteer.

Die Boeremagte was soos volg opgestel. Noord van die spoorlyn was die verdedigingslinie in ’n halfmaan om die dorpie Belfast. Die noordoostelike punt was op die plase Spitskop en Zuikerboschkop en is deur die Lydenburg-kommando bewaak. ’n Long Tom, moontlik die Jood, is waarskynlik op die plaas Spitskop opgestel. Volgens Amery se kaart het die Boere ook skanse op die plaas Langkloof gehad. Hierdie burgers se taak was om ’n agterpad na Dullstroom te bewaak. Die Johannesburg- en Middelburg-kommando’s was op die plaas Steynsplaats, net oos van die hoofpad na Lydenburg. Hulle taak was om enige Britse troepe wat hierdie pad gebruik, met dwarsvuur te peper. Hulle is bygestaan deur ’n Long Tom op Witrant. Ook aan die noordekant, maar digby die spoorlyn, was die Krugersdorp-kommando.

Aan die suidekant van die spoorlyn, digby die sentrum, was ’n afdeling ZARPs. Langs hulle was die Germiston-kommando. Suid van die spoorlyn vloei die bolope van die Komatirivier van noord na suid, wat die terrein in ’n gebied van berge en dale omskep. Tussen twee van hierdie spruite vind ons die Gelukplato. Dit was juis op hierdie plato wat die res van die Boeremag opgestel was. Heidelberg-kommando was op die rant bokant die plaas Geluk, terwyl die Bethal-kommando op die plaas Frischgewaagd skanse opgerig het. Hulle is ondersteun deur die derde Long Tom op Driekop. Die vierde Long Tom was aanvanklik op ’n treintrok opgestel. Waarskynlik na 6 Augustus, toe Buller sy opmars noordwaarts begin het, is hierdie kanon naby Elandskop opgestel. Daarvandaan kon dit die Britte bestook as hulle Machadodorp oor Groblersbrug probeer nader het.

Pole-Carew het Middelburg in Julie 1900 bereik en die XIde Infanteriedivisie begin bymekaarmaak. French het aangeskuif na Wonderfontein.

Op die Natalse front het Generaal Sir Redvers Buller (Rooiversbul deur die Boere genoem) ook in Februarie 1900 deurgebreek, maar toe vasgeval. Hy het eers op 6 Augustus 1900 in die rigting van Belfast begin beweeg. Sy taakmag het bestaan uit die 4de Infanteriedivisie onder luitenant-generaal N.G. Lyttelton, met brigadier-generaal F.W. Kitchener van die 7de Brigade en generaal-majoor F. Howard van die 8ste Brigade. Sy berede troep het bestaan uit 2de Kavalleriebrigade, aangevoer deur generaal-majoor J.F. Brocklehurst en 3 berede Infanteriebrigade onder die graaf van Dundonald. Hulle was 9000 manskappe toegerus met 42 kanonne. Hy het die plaas Twyfelaar op die walle van die Komatirivier op 15 Augustus bereik. Daar het hy in aanraking met French se regterflank gekom. French se manskappe het ’n linie na Wonderfontein gevorm sodat Buller voorraad daarvandaan kon bekom.

 

Die veldslag

Generaal Buller het opgeruk na die plaas Van Wyk’s Vley, omtrent agt myl noord van Twyfelaar. Generaal French het op sy linkerflank gebly. Vir die laaste drie myl het Buller se regterflank onder skoot van die Bethal-kommando op Frischgewaagd gekom. ’n Geveg het uitgebreek en dit het tot vroegaand geduur. Britse ongevalle was 36 (insluitend 7 dood en 3 vermis) en aan Boerekant is 3 man gewond.

Foto: Sir Redvers Buller se opmars

22 Augustus

Generaal Buller het generaal-majoor Walter Kitchener gestuur om die Bethal-kommando op Frischgewaagd (Vrischgewaagd) ’n les te leer. Twee bataljons voetsoldate, vier eskadrons ruitery en 8 kanonne het Kitchener vergesel. Intussen het die Carolina-kommando by die Bethallers aangesluit. Na die dag se bakleiery het Kitchener na Van Wyk’s Vley teruggekeer. Britse ongevalle was 2 dood en vyf gewond. Geen ongevalle is aan die ander kant aangemeld nie.

 

23 Augustus

Die Boere het intussen die Long Tom, wat naby Elandskop opgestel was, verskuif na die plek waar kaptein Alfred von Dalwig se kamp op die plaas Waaikraal was.

Grafsteen van Liverpools op Geluk

Pole-Carew en sy infanteriedivisie het aangeskuif van Middelburg na Wonderfontein. Buller, met French aan sy linkersy, het opgeruk na die plaas Geluk, waar hy sy hoofkwartier naby die opstal ingerig het. Aan sy regtersy was die Gelukplato, waarvandaan die Heidelberg-kommando hom beloer het. Die 8ste Infanteriebrigade, bygestaan deur Dundonald se ruitery, asook die South African Light Horse is aangesê om die rant van die Gelukplato uit te klim en te beveilig. Hulle het hulself vasgeloop teen die kommando’s van Heidelberg en Bethal, asook Von Dalwig se kanonne, insluitend die twee Long Toms. Dit was veral die soldate van die Liverpool Regiment wat dit ontgeld het. Die Engelse het nogtans hul posisie op die plato behou.

Britse ongevalle vir die dag was 12 gesneuwel, 61 gewond en 33 vermis. Aan die Boere se kant was omtrent 12 gewond, insluitend kaptein Von Dalwig.

 

24 Augustus

4.7 QF kanon op Howitzer affuit

Gedurende die nag van 23 Augustus het Buller se troepe hulself ingegrawe op die westelike rand van die Geluksplato en ook stellings voorberei vir die 4 skeepskanonne (twee 5-duim en twee 4.7-duim). Die volgende dag is gewy aan ’n geveg tussen die groot kanonne. Die 2 Long Toms het ses ongevalle in die Natal Field Force veroorsaak.

Pole-Carew se infanteriedivisie het Wonderfontein verlaat en ooswaarts opgeruk. Belfast is ingeneem en die Britse troepe het sover as Monumentheuwel gevorder. Britse ongevalle was maar 18. Gedurende die nag van 24/25 Augustus het Pole-Carew onder andere twee 5-duim-kanonne in goeie vestingswerke op hoërliggende grond suid van die spoorlyn opgestel en twee 4.7-duim-kanonne naby die Belfast-stasie.

 

25 Augustus

Lord Roberts, die Britse opperbevelvoerder, het op 25 Augustus Belfast besoek en samesprekings met sy generaals gevoer. French is beveel om die Boere se regterflank op Zuikerboschkop te verwilder en dan regs te swenk na Machadodorp. Buller is opdrag gegee om regs te draai en oor Dalmanutha na Machadodorp te gaan. Pole-Carew moes noord na Lakenvley uitbrei en daar by French aansluit.

Die 25ste se gevegsbedrywighede was beperk tot ’n swaar kanongeveg wat vroeg die oggend begin het en tot sononder geduur het. Oor die kanongeveg teken die amptelike History of the war in South Africa die volgende aan: “Moreover, the enemy had by no means the better of the exchanges with the heavy guns of both divisions, one of the 6-in. Creusots near Bergendal being reduced to silence by a 5-in. shell from Pole-Carew’s position.”

 

26 Augustus

French se linkerveeg

French se kavallerie het vroegoggend Geluk verlaat en eers by Belfast aangedoen. Hulle het om 09:00 daarvandaan vertrek en vir ’n wyle die spoorlyn gevolg en toe regs geswenk om op die plaas Boschpoort onverwags hul verskyning te maak. Die Boere se artilleriste met die Long Tom het gevlug sonder om ’n skoot te skiet. Die res van die burgers is van Zuikerboschkop en Langkloof verdryf. Teen 14:00 kon French van Lakenvley aan Pole-Carew berig dat die terrein tussen hulle skoongemaak was. Sommige van Pole-Carew se soldate het noordwaarts marsjeer en is ietwat deur dwarsvuur gepla. Die Long Tom op Witrant het ook ’n paar skote op hulle gevuur. Pole-Carew was dus in beheer van al die hoogtes tussen die spoorlyn en Lakenvley. ’n Groot deel van die Middelburg-kommando het die hasepad gekies.

Buller het weer noordwaarts aangeskuif. Sy plan was om op Vogelstruispoort regs te swaai en dan oor Waaikraal na Dalmanutha op te ruk. Daardie middag het sy verkenners egter rapporteer dat die Boere se regterflank eintlik suid van die spoorlyn op die plaas Bergendal geëindig het. Buller het toe besluit om eerder daar sy deurbraak te maak.

 

27 Augustus

Vroegoggend op 27 Augustus het Buller self die wêreld gaan verspied. Die Boere se front het net suid van die spoorlyn skerp na links geswenk. Op hierdie hoek het die ZARPs se stelling soos ’n ryp puisie uitgesteek. Dit was die ideale plek om ’n aanval te loods, want hul makkers aan beide kante het in die verkeerde rigting gerig om hulle met geweervuur by te staan. Dit was wat die Engelse ’n “salient angle” noem. Daarbenewens was daar ’n lae rantjie omtrent 2.7 km suidwes van die ZARPs se stelling. Dit was ’n ideale plek vir Buller om sy kanonne op te stel. Buller het daar ten minste 36 van hulle opgestel. Die bombardement het om 11:00 begin. Na 3 ure het die Rifle Brigade en die Inniskilling Fusiliers gestorm en deur die Boere se front gebars. Die veldslag van Bergendal was verby.

Britse ongevalle vir die hele veldslag was 385 en die Boere s’n 78.

 

Daarna

Toe die Britte deurbreek, het die Boere gevlug. Die kommando’s van Carolina, Heidelberg en Bethal het gaan wegkruip in die berge by Kaapsche Hoop. Krugersdorp en Johannesburg onder Ben Viljoen het op die spoorlyn gebly om seker te maak dat Kruger ontsnap. Botha en die res van die kommando’s het na Lydenburg gevlug.

’n Gedenkteken van 32 m is op 29 Augustus 1970 op die slagveld onthul.