Skoonheid om ’n stadsplein

Enkele gedenkwaardighede oor Totius
July 17, 2018
Boerehelde op De Hoge Veluwe vereer
July 17, 2018

Foto 2: Die uitleg van Johannesburg, Ferreirasdorp en Marshalltown vroeg in Desember 1886

Ou stadspleine vorm meestal die fraaiste en boeiendste gedeeltes van stede. Dikwels het dorpe en stede rondom ’n plein ontstaan, soos in die Middeleeue gebeur het waar ’n kerk op ’n plein die hart van die stad gevorm het. Ook in Suid-Afrika het stede rondom sulke kerkpleine gegroei, waarvan die Pretoriase Kerkplein ’n bekende voorbeeld is. Die plein wat tot in die begin van hierdie eeu nog die grootste in ons land was, die Markplein van Johannesburg, het egter die sentrum van die snelgroeiende myndorp geword sonder dat daar ’n kerk op gestaan het. Parallel aan die rede vir die ontstaan van die stad, was die plein van die begin af vir die handel bestem.

Foto: Suid-Afrika se grootste plein ’n halfeeu gelede: Die Johannesburgse Markplein in 1889. ’n Unieke 180°-foto

Die Markplein van Johannesburg het die jong wêreldstad se historiese middelpunt gevorm. Hier het die owerheid, handelaars en sakelui bymekaar gekom, elk in sy eie pronkerige gebou. Hier het ook die stad se bekwaamste argitekte met mekaar meegeding om die meeste effek. Die verloop van die vertoonparade van geboue om die plein vorm dan ook ’n besonder boeiende verhaal.

Foto: Die uitleg van Johannesburg, Ferreirasdorp en Marshalltown vroeg in Desember 1886

Êrens tussen 19 Oktober en 3 November 1886 val die geboortedatum van die Johannesburgse Markplein. Gedurende dié twee weke het die Goewermentslandmeter, Josias de Villiers, naamlik die eerste gedeelte van die mynkamp Johannesburg uitgemeet. De Villiers se opdrag was om ’n kamp van 600 standplase (erwe) op die regeringsplaas Randjeslaagte uit te lê. Randjeslaagte was ’n driehoekige stuk ‘uitvalgrond’ wat, vanweë die destydse onnoukeurige meetmetode, tussen die plaas Braamfontein, Doornfontein en Turffontein ‘uitgeval’ het. Vir De Villiers het die uitleg ’n probleem opgelewer, want op die plek van die huidige Von Brandisplein ten noordooste van die Markplein, was toe nog delwerye aan die gang. Randjeslaagte was immers ook tot delfgebied geproklameer! De Villiers se oplossing was om die kamp in twee los stroke uit te lê, een noord en een suid van die kleims waarop gedelf is. Deel van sy opdrag was tewens om drie pleine uit te lê. Die grootste van die drie, die Markplein, het in die suidelike strook ’n plek gekry. Die ander twee, in die noordelike strook, is Attwelltuin en Uniegrond.

Van die begin af was dit duidelik dat die Markplein die kern van die myndorp sou vorm. Aan die oostekant, in Rissikstraat, het die regering in 1886 reeds 4 standplase vir regeringsgeboue gereserveer. En, in die verwagting dat die plein in ’n handelsentrum sou ontwikkel, het die standplase daaromheen die hoogste pryse behaal by die eerste verkoping van erwe op 8 Desember 1886.

Die eerste bousels om Markplein was eenvoudige enkelverdiepinggeboutjies van songedroogde baksteen en/of sink. Hulle het maar uit enkele vertrekke bestaan, dikwels met ’n winkelgedeelte aan die straatkant en ’n woongedeelte daaragter. ’n Oordekte stoep, ’n veranda, apart teen die gewel geplaas of as verlenging van die dak, was ’n noodsaaklike bykomstigheid vanweë die warm klimaat. Enkele baksteenbousels het borswerings gehad met getekende klassistiese ornament soos rustiekwerk, konsoles en lyste, of soms ’n fronton bo die ingang, veral as die geboutjie op ’n straathoek gestaan het. Gedurende die eerste jare van die mynkamp se bestaan het die Markplein dan ook ’n ruim en oop indruk geskep, omring deur lae geboutjies waarvan die verandas ’n vriendelike aspek aan die geheel gegee het.

Foto: ’n ‘Wild West’-opname van Markstraat naby die plein. Dit gee ’n goeie indruk van die besige myndorplewe omstreeks 1890. Die eenvoudige geboutjies is volgens Victoriaanse beginsels almal versier. Na nege dekades van boukoors is hul plek vandag ingeneem deur moderne wolkekrabbers.

Sonder twyfel was die Goewermentsgebou aan die oostelike sy van die plein die belangrikste bouwerk in die vroeë jare van Johannesburg. Sy uitgestrekte fasade moes voorwaar imposant gelyk het tussen al die klein winkeltjies. Dit is in 1887 ontwerp deur H. Lindhorst, wat in Februarie dié jaar as eerste opgeleide argitek in die mynkamp aangekom het. Van Lindhorst se dienste is gebruik gemaak omdat die Z.A.R. in daardie stadium nog geen goewermentsargitek gehad het nie. (S. Wierda is in November 1887 in dié pos aangestel.)

Min of meer gelyktydig met die Goewermentsgebou verskyn die eerste Markgebou op die plein. Dit was geleë tussen Harrison- en Simmondsstraat, en het, jammer genoeg, die plein gehalveer. Die eenheid van die ruimte was verbreek en daarmee was die agteruitgang van die westelike gedeelte van die plein reeds bepaal. Die laer ligging van hierdie westelike gedeelte, en die nabyheid van die krotbuurt The Brickfields op ’n moeras ten noordweste van die sentrum, was faktore wat sy geringe ontwikkeling beïnvloed het. Hierdie gedeelte van die plein is dan ook slegs gebruik vir veevendusies, terwyl die oostelike gedeelte gebruik is vir die verkoping van allerhande handelsware.

Foto: Wanneer die tweede Markgebou vroeg in die jare negentig reeds die eerste een vervang, beteken dit ’n verfraaiing van die plein. Die talle spitsgewels van die hoë ring kantore en winkeltjies wat die marksaal omring het, asook die lyswerk en patrone met swart bakstene in die muurvlakke, het die Markgebou ’n aantreklike middelpunt van die plein gemaak. Sy gewels en dekoratiewe baksteenpatrone herinner aan die Neo-Queen Anne-boumode in Engeland. Na die voltooiing van die Stadhuis in 1915, is hierdie Markgebou uiteindelik afgebreek.

Reeds vroeg in die jare negentig word die eerste Markgebou deur ’n groter en aantrekliker een vervang. Maar met hierdie bouwerk, met sy gesellig-burgerlike proporsies, beland ons reeds in die tweede boufase van die myndorp, wat van 1890 tot 1899 geduur het.

Foto: Weinig mense kan nog die eksotiese deurloop The Arcade in Markstraat onthou. In 1890 is elke onderdeel hiervan per stoomboot vanaf Skotland en per ossewa vanaf die Kaapprovinsie na die jong myndorp vervoer. Soos meeste verandas in Johannesburg, is hierdie struktuur ook per katalogus van die bekende gietysterfabrikant, Walter Macfarlane, in Glasgow bestel.

Gedurende die jare negentig beleef die Markplein die hoogtepunt in skilderagtigheid en stadskoonheid. Wanneer Johannesburg in hierdie periode sy bekende ‘boom’ beleef, word ’n tiental geboue om die oostelike helfte van die plein opgerig waarvan die rykversierde fasades die vooruitstrewendheid van die jong myndorp weerspieël het. Ofskoon hul hoogtes gewissel het van twee tot vier verdiepings, het die aansig ’n interessante beeld gevorm. Hierdeur het die geheel ook ’n meer beslote karakter gekry.

Drie groepe geboue kan in hierdie periode onderskei word: winkels op die noordoostelike hoek, ’n goewermentsgebou (die Poskantoor) aan die oostelike sy, en finansiële kantore aan die suidelike sy van die Markplein.

Om met die owerheidsgebou te begin; die ou Goewermentsgebou is in 1897 vervang deur die Poskantoor, wat deur die Staatsargitek S. Wierda ontwerp is. Dit is die enigste gebou uit hierdie tyd wat die amptelike boustyl van die Z.A.R. verteenwoordig, wat vandag nog op die plein staan.

Foto: As een van die oudste bouwerke en die enigste voorbeeld van die amptelike boustyl van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die binnestad, neem die ou Poskantoor ’n besondere plek in die stadsbeeld in. In sy tyd was dit ook die grootste gebou in die stad. Die skilderagtige afwisseling van rooibaksteen en witsandsteen in die muurvlak asook die elegante torinkies van die Poskantoor, verraai die Hollandse afkoms van sy argitek, S. Wierda, die Goewermentsargitek en -ingenieur van die Z.A.R. Op hierdie wyse het die Markplein van Johannesburg nog verband met die Pretoriase Kerkplein, waar bekende skeppings van Wierda staan.

Ten noordooste van die Markplein het ’n winkelsentrum ontwikkel, al langs die roete van Pretoria na die hart van Johannesburg, na die Markplein. Ofskoon die middelpunt van die winkelarea in die omgewing van die kruising van Pritchard- en Eloffstraat gelê het, was ’n paar belangrike vroeë winkels, soos Henwoods, aan die Markplein geleë.

Foto: In die winkelhoek aan die noordoostelike kant van die plein het die Henwood-gebou die belangrikste plek ingeneem. Dit bestaan eintlik uit twee gedeeltes. Die deel regs met die geweltjie is in 1892 deur W.H. Miles ontwerp, die eerste Stadsingenieur van Johannesburg. ’n Jaar later het die argitek William Leck ’n gedeelte daaraan toegevoeg sodat ’n simmetriese ontwerp verkry is. Voorwaar ’n staaltjie van simpatieke ontwerp!
Regs op die voorgrond sien mens een van die lampe-cum-drinkwaterbakke wat die mynkamp verfraai het. Vee en mense kon daar drink (soos die Swarte op die foto demonstreer.). Let ook op die man met die houtbeen links.

Aan die suidekant van die plein het die finansiële sentrum ontstaan, met die Beursgebou in Commissionerstraat as middelpunt. In die gedeelte van Markstraat wat aan die plein grens, het banke, versekeringskantore en ook die Kamer van Mynwese, die welvaart van die stadsekonomie gedemonstreer. Die ryk-geornamenteerde fasades van hierdie geboue gee ook blyk van die groot selfversekerdheid van die tyd.

Foto: Naas die Aandelebeurs en die Eckstein-gebou ’n blok suid van die plein, was die Kamer van Mynwese die belangrikste finansiële instelling in die myndorp. Op die foto is die gebou pas voltooi en staan dit nog leeg. Is dit een van die direkteure, of miskien een van die argitekte wat so netjies poseer? In sy raamwerkagtige voorkoms en spitsgewels het die argitekfirma Emley en Scott Neo-Gotiese beginsels toegepas. Die afwisseling van rooibaksteen en wit sandsteen in die muurvlak, asook die Renaissancistiese ornament, plaas die ontwerp egter weer by die Neo-Queen Anne-boumode.

Teenoor die informele winkelhoek aan die noordoostekant van die plein, waar die klem op groot vertoonvensters val, tref mens aan die suidekant ’n formeler benadering aan. Soos bygaande foto’s toon, was dit gebruiklik om verandas slegs voor winkels aan te bring, en dit by banke weg te laat. Ook is die ontwerpe van laasgenoemde strakker, en word eerder die pralerige Neo-Barok as die pittoreske Neo-Queen Anne-mode daarop toegepas. Die Neo-Queen Anne-mode was weer veral gewild vir winkels.

Na die eeuwending verskyn die eerste negeverdieping-wolkekrabber aan die plein: die National Bank. Daarmee word ’n nuwe fase in die bebouing om die plein ingelui, waarin die plein se fasade in hoogte verdubbel. Veral in die jare dertig het baie geboue van nege verdiepings om die plein opgeskiet. Maar teen daardie tyd het die plein reeds ’n heel ander aspek gekry, deur die voltooiing van die Stadhuis (1915) en die Openbare Biblioteek (1934).

Foto: Die voltooiing van die Stadhuis op die oostelike gedeelte van die Markplein in 1915, gee aan die plein ’n nuwe status. Van dié datum af bevat dit dan die setel van die plaaslike bestuur en word dit daardeur die administratiewe middelpunt van die stad. In die pompeuse oosfasade van die Stadhuis druk die imperialistiese magsbeginsel hom besonder plasties uit. Dit bevat die grootste versameling sulke groot suile in die stad. In 1937 het die bouwerke nog twee verdiepings bygekry, waardeur die effek van die ontwerp aansienlik verswak is.

Ofskoon die oostelike gedeelte van die plein deur eersgenoemde in beslag geneem is, en laasgenoemde op die westelike punt plek ingeneem het, het die plein aan eenheid gewen deurdat nou ’n enkele ruimte ontstaan het. (Die Markgebou is in 1915 afgebreek.)

Ongelukkig het maar weinig geboue uit die vroeë boufases van die stad om die Markplein oorgebly. Ook is dit jammer dat enkele nuwe toringgeboue aan die noordekant die eenheid van die vlak straatfasade verbreek. Nietemin vorm die plein met sy historiese geboue en die eenheid in die suidelike fasade, nog so ’n karaktervolle geheel dat dit ’n stedeboukunstige geheel is wat vir ons en die nageslag behoue behoort te bly.

 

Bron: Van der Waal, G.M. 1976-1977. Lantern, Desember: 16-23.