“Skoolmeestertjies en wynboertjies” begin ’n taalbeweging

Hoe die taalbeweging begin het
April 20, 2016
“Vyande” van die volk!
April 25, 2016

Die voormiddag van Saterdag 14 Augustus 1875 was naar en winderig in die Paarl. GR von Wielligh (1859–1932) vertel dat die suidooster die hange van die Klein Drakensteinse gebergte afgedaal en ’n vaart oor die vlaktes geneem het, “om stofwarrelings op die Pêrelse strate te maak”.

Dié oggend het ’n paar jong mans een-een, soms miskien twee saam, in Pastorielaan afgestap na die huis van Gideon Malherbe. Dié het hulle ontvang en na sy ruim eetkamer gelei.

Agt het daar ’n geheime vergadering gehou. Almal was jonk, byna “volgroeide seuns”. Hierdie agt het die Genootskap van Regte Afrikaanders (GRA) gestig. Hul oogmerk daarmee was om Afrikaners te oortuig dat hulle ’n eie taal het. Eintlik méér: hul doel was “om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land”.

Aanwesig was Gideon Jozua Malherbe (42), Casparus Petrus Hoogenhout (32), Daniel Francois du Toit (later “Oom Lokomotief”, 29), ds. SJ du Toit (27), Daniël Francois du Toit (“Daan Dokter”, 26), Petrus Jacobus Malherbe (“Piet Borrie”, 22), August Ahrbeck (24), en Stefanus G du Toit (21).

Behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was almal familie van mekaar. Von Wielligh sê hulle was “wynboerseuns”, “eenvoudig” geklee en met “volle baarde”. Toe hul name later bekend was, is met veragting op hulle neergesien en die teenstanders het uitgeroep: “Wat? Wil daardie skoolmeestertjies en Dalse wynboertjies vir ons van ’n Hotnotstaal ’n beskaafde taal maak?’” Dit was een van die spotname vir Afrikaans – ander name was Africander Dutch en Boeren-Hollands. Daar is met minagting op die bruin en wit sprekers van Afrikaans neergesien.

Gideon Malherbe het toe al sy liefde vir Afrikaans bewys deurdat hy in 1873 die drukkoste van CP Hoogenhout se Die geskiedenis van Josef gedra het. Hy was nie ryk nie, maar geldelik die sterkste van die agt, en sou heelwat geld in die onderneming steek. Hy was ’n wynboer en eienaar van huurhuise. Von Wielligh skryf: “Hy was kort en geset van postuur en het ’n wonderlike kort stappie gehad. Sy kleredrag was altyd ’n wit baadjie met vaal broek en onderbaadjie. Nooit het iemand hom in die week sonder sy wit kurkhoed gesien nie. Daarby was hy ’n onderhoudende spreker; sy toon was besadig, duidelik sonder hard praat; baie het sy raadgewing gesoek en dit gekry.”

Von Wielligh beskryf Hoogenhout só: “Lank van postuur en regop soos ’n kers het hy onder die ander lede altyd ’n flink verskyning gemaak. In sy jonger dae het hy die Hollandse uitspraak gehad, maar na verloop van tyd het hy die Afrikaanse spreekwyse aangeneem. Hy het die gawe besit om logies en oortuigend te spreek, vandaar sy invloed op die ander lede.”

Daniël Francois du Toit, die ouer broer van ds. SJ du Toit, het in sy jeug op sy pa se wynplaas gewerk. Hy was lief vir lees en het hom opgewerk tot onderwyser. “Die Afrikaanse saak was vir hom ALLES.”

SJ du Toit het hom nooit van “die retoriese spreekstyl bedien nie: hy het nie gepreek nie, maar met sy gemeente van die preekstoel af gesels, en wel in so ’n boeiende styl dat sy toehoorders betowerd hom moes volg. […] Hy was skraal, smal geskouer en tingerig van liggaamsbou, ’n goeie stoot sou hom teen die grond gewerp het.”

Daniël Francois du Toit, Daan Dokter, ’n jong wynboer, het sy bynaam gekry omdat hy op een van sy reise na Transvaal steeds ’n medisynetrommeltjie by hom gehad het. Die wynboer Petrus Jakobus Malherbe was ’n broerskind van Gideon Malherbe en ’n susterskind van ds. Du Toit. Hy was die vader van die later bekende skrywer DF Malherbe.